Die 522 km na TO Strand is deur die Transkei en jy moet maar wakker bestuur met al die diere en voetgangers op en langs die pad, so ons wil maar vroeg wegkom. Ons is almal vroeg op en ons drink net koffie saam met ʼn beskuit en pak op.
Soos elke ander keer verwonder ek my aan die kleur van al die hutte, dis kompleet of daar ʼn spesifieke verf op ʼn uitverkoping was want almal is dieselfde bou-groen kleur geverf. Dan kry jy weer helder groen in ʼn kol en dan weer ligblou op ʼn ander plek. Ek sal maar eendag moet stop en navraag doen oor die kleur van die hutte, dalk ʼn dieper betekenis as net ʼn uitverkoping op ʼn verfkleur. Die verkeer in die dorpies is maar deurmekaar, elkeen stop waar hy wil, gesels met ʼn voetganger of laai mense of items op of af. Geduld is die wagwoord, baie geduld. Gelukkig is daar die mense by die winkeldeure op die luidsprekers wat die een harder as die volgende roep om jou van al die specials te vertel, tesame met die oorverdowende musiek wat ander weer op die straat uitbasuin om klante te lok.
Die pad en natuur van Mtata na Port St Johns is mooi en ook die deel van Port St Johns na Port Edward met al die berge en passe. Hier en daar kom ons padwerke teë maar dit is altyd vir my ʼn goeie teken, daar word darem nog aan die pad gewerk.
By TO Strand aangekom is ek aangenaam verras met die kwaliteit van die oord, rêrig vyfster. Baie mense het my al vertel van die plek maar ek is beïndruk. Ons slaan kamp op langs die ablusie op die groen gras. Dis lekker groot staanplekke.
Goeie Dag Hollies.
Graag wil ek verneem die gazebo wat jul het. Is dit homemade of n gekoopte een. Lyk vir my n stewige gazebo
Laat maak, al ouer as 20 jaar !!
TO Strand waar is dit geleë? Kry dit nie op my kaart nie. Dankie
Dis so 5km buite Port Edward (Munster se rigting) draai jy see se kan toe.