Dag 63

Dag 63. Saterdag 22 Maart

Anton is reeds buite toe ek opstaan, sy rug pla en hy het besluit om mediese raad te gaan kry. Hy en Magda ry na koffie dorp toe om sterker pynpille te gaan kry. By die apteek kry hy ook ʼn Voltaren inspuiting om die pyn te verlig.

Die brunch vanoggend is die full monty, spek, wors, eier, gebraaide uie en tamatie en roosterbrood. Ons smul lekker en moet na ete eers bietjie sit en rus, ongemaklik versadig.

Ek en Moeksie loop vir Herman en Deidrè raak waar hulle besig is om kamp op te slaan. Hulle het vroeër die oggend aangekom en die kinders sluit volgende week by hulle aan. Hulle ken die plek en kamp gereeld hier as hy praat oor die mooi geriewe en lekker kampers wat hulle al hier ontmoet het en nou gereeld saam kamp. Deidrè vertel ons van haar ervaring ʼn week gelede toe sy beroof is en een van die rowers amper haar vinger afgebyt het om haar ring te kon afkry. Ek skud net my kop en beveel aan dat hulle vir berading moet gaan. Ek besef net weer ons lewe in ʼn stukkende wêreld en soms leef ons as kampers onder ʼn vals elisie van veiligheid, maar ons kan nie anders nie, kan nie elke aand alles weer wegpak nie.

Die wind is effe stiller op die strand en ek en Moeksie geniet die stappie. Ek hou van die plek en sal verseker weer hierheen wil terugkom, miskien vir ʼn week of twee se vakansie. Anton en Magda was die dag rustig by die kamp, wil kyk of die rug nie beter word nie.

Die middag kyk ek op die internet of daar plek is in die Kruger Wildtuin oor ʼn week of wat as ons daar sal verbygaan. Dis skoolvakansie oor ʼn week en ek besluit om liewer ʼn bespreking te doen wat ek later kan verander as dit nodig is. Ek kry plek by Krokodilbrug vir 1 en 2 April, Letaba 3 en 4 April en Punda 5 April. Ons is nog nie heeltemal seker waar ons oral gaan aandoen op pad wildtuin toe nie maar het besluit om vir ʼn nag of twee by Salt Rock te gaan kamp. Anton het besluit hulle gaan eerder in ʼn gastehuis bly met die rug en daar ʼn finale besluit neem oor die pad vorentoe en doen ook die bespreking.

Moeksie begin laatmiddag om die deeg te knie, vanaand is steak en potbrood. Ek steek die vuur aan en begin rustig van die los items wegpak, ons ry weer more. Die potbrood kom perfek en die steak smelt in jou mond, moet die seelug wees wat ekstra spice op die kos gee.

Na ete word daar nog ʼn los item of twee weggepak voor ons gaan slaap. Ons is nie haastig more nie maar wat klaar is is klaar. Die see maak musiek wat my gou aan die slaap sus.

Leave a reply