Dag 64

Dag 64. Sondag 23 Maart

Almal is weer vroeg op en die koffie en beskuit smaak heerlik. Dit het gedou en die tente is klam, sal wag tot die son hulle droog bak want Anton weet nie of en wanneer hy sy tent weer gaan opslaan nie. Dis 212 km tot by Salt Rock, so ons het baie tyd.

Anton se rug is erg vanoggend, hy kan nie beweeg nie en moet op sy stoel sit en kyk hoe Magda die tent afslaan en die waentjie pak. Sy kom goed reg en spot dat sy alleen kan verder kamp. Dis net na 10 uur toe ons by die hek uitry.

Oor die radio praat ons oor al die tientalle kampplekke van hier tot in Durban, het al by baie van hulle gekamp maar ons moet by Happy Wanderers ʼn draai maak. Ons het al ʼn paar keer hier kom vakansie hou, toe die kinders nog op skool was en ek en Moeksie alleen daarna ook. Die melkskommel op die dek voor die restaurant herinner my aan my eie kinderdae, was baie lief vir ʼn strawberry milkshake. Daar is heelwat verander aan die oord oor die jare en die swembaddens voor op die strand bly ʼn wenner as die see onstuimig is of in die aande. Lekker plek, die Happy Wanderers.

Dis net voor twee as ek en Moeksie by die kampplek aankom. Ons was al hier, eenmaal vir ʼn week toe die wind die wit waks uit ons gewaai het. Dit was nogtans lekker, anders sou ons nie nou hier gestop het nie. Ons was op staanplek nommer 29, redelik voor aan die Oostekant van die terrein, in die wind se bek. Ek glo daar sal ander plekke beskikbaar wees wat meer beskut is, dis nog nie vakansietyd nie. Ons slaan af op nommer 23, tweede ry van agter met ʼn mooi uitsig oor die see maar terselfdertyd beskut teen die wind, nie dat die wind nou waai nie, maar jy weet nooit. Dis ook lekker naby die ablusie.

Anton en Magda het gaan inboek by hulle gastehuis, net ʼn ent verder op in die straat. Hulle het laat weet hulle kom later ʼn draai maak, gaan eers bietjie rus. Magda het ook op die internet begin soek na ʼn fisio of spesialis wat Anton more kan gaan sien om te kyk na sy rug.

Ek en Moeksie is klaar afgeslaan en sit lekker op die sintetiese gras op die staanplek. Ja, hierdie is nie sommer enige kampplek nie, jy staan op sintetiese gras en kyk uit oor die see met die groot geteipoel voor ons. Dis ʼn rustige Sondagmiddag en ek en Moeksie gesels oor die pad vorentoe. Ons glo nie Anton en Magda gaan verder saam nie, ons gaan alleen die laaste deel toer.

Anton en Magda sluit by ons aan en vertel hoe lekker hulle met die eienaars van die gastehuis gekuier het. Anton kry nie opgehou om verskoning te maak dat hulle nie saam kamp nie, hy wil maar kan nie die pyn hanteer nie. Hy begin besef hulle saamtoer is verby maar sal eers more fisio toe. Ek weet nie hoe ek voel nie, dit gaan nie dieselfde wees nie maar ek praat nie daaroor nie. Tog besef ek die skrif is aan die muur.

Ons gaan eet by die restaurant, of eerder die lokale pub, net oorkant die straat. Ek en Moeksie was al ʼn paar maal hier om die bekende bunny chaw te geniet en met die locals te gesels. Ek en Anton bestel die lamskerrie bunny chaw en soos voorheen slaan die sweet op my voorkop uit en my oë traan, maar ek eet. Ek hou nie van brandkos nie, maar hierdie is op ʼn manier lekker. Moeksie sê die brand is in die slaai wat ek so mildelik in die vleis inmeng, brand chillis. Die locals stel ook nie teleur nie en hulle wil sommer net daar en dan konneksies  in die publikasie bedryf bel as hulle hoor waarmee ons besig is, om die land se grens te toer. Hierdie is ʼn storie vir die koerante. Ons word gepeper met vrae en jy kan die verbasing op hulle gesigte sien. Dit was ʼn lekker kuier.

Na ete is Anton en Magda terug gastehuis toe en ek en Moeks kuier nog ʼn rukkie buite om die uitsig oor die see te geniet. Ons begin gesels en beplan asof ons alleen verder gaan, ons weet Anton se rug gaan nie regkom nie. Dit vat ʼn rukkie voor my gedagtes stil raak en ek aan die slaap raak met die see wat redelik hard gesels.

Leave a reply