Dag 65

Dag 65. Maandag 24 Maart

Ek en Moeksie is vroeg op. Die koffie vanoggend is bitter, ons mis ons pelle. Dis nie dieselfde nie. Anton het gesê hy sal ons later in die dag bel na al sy rondtes om te reël waar ons mekaar weer ontmoet.

Ek het besluit om die tyd te gebruik om vir my die lank uitgestelde visstokhouer aan die waentjie aan te bring. Ons ry en gaan koop PVC pyp met fittings wat ek aan die kop-en-ent wil aanbring wat kan opskroef. Hulle is gaaf en sny die pyp vir my die regte lengte. Gom, cable ties en die pyp gelaai is ons terug kamp toe waar ek met die puzzle begin. Het al baie met PVC pyp gewerk so dit gaan vinnig en die visstokhouer is vas. Anton het al so visstokhouer aan sy waentjie, die verskil is net hy het hom oorspronklik aangebring vir die vervoer van wyn, wynbottels pas netjies in hom.

Ek en Moeksie is die res van die dag rustig by die kamp. Dis laatmiddag as Anton en Magda weer kom draai. Slegte nuus, hulle gaan omdraai. Die dokter sê hy kan nie verder toer nie, moet rus en dan stadig terug Kaap toe vir verdere ondersoeke. Ek kan die teleurstelling en hartseer op sy gesig sien. Magda kan nie praat nie. Hulle voel hulle drop ons, wil graag die ding saam met ons klaarmaak, maar ek troos en sê ons sal later in die jaar plan maak om saam met hulle Kruger Wildtuin toe te gaan. Hulle het besluit om more Ladismith toe te ry en by klein Anton te gaan rus tot die rug kans gee vir die terugry Kaap toe. Dis soos ek en Moeksie al die afgelope paar dae begin gesels het, ons gaan alleen voort.

Ons besluit om vanaand by Siggi’s te gaan eet, die Duitse restaurant net op in die straat. Anton het al baie daar ge-eet as hy Natal toe gekom het met die bouwerk aan Sasko se Shakaskraal bakkery, dan het hy en kollegas baie keer hier in Salt Rock geslaap.

Daar aangekom is daar hoeka oud kollegas en ons kuier lekker saam. Die Eishbein wat ek bestel is uit die boeke uit en almal praat oor die lekker kos. Hierdie is ons afskeidsete maar Anton nooi ons om more, na ons opgepak het, saam met hulle ontbyt by die gastehuis te geniet. Hoewel ons lekker kuier, is daar ʼn somberheid in die lug, ons toerpad skei.

Terug by die kamp begin ek en Moeksie los goed wegpak. Daar is ook enkele items van Anton en Magda by ons wat ons more aan hulle moet gee voor ons verder gaan. Daar is ʼn gevoel van verlies as ek en Moeksie hulle goedjies netjies eenkant pak om maklik uitgehaal te word more.

Na ʼn lekker produktiewe dag en lekker ete gaan ons inkruip, maar praat nog lank oor ons pelle en hoe die res van die toer nie dieselfde gaan wees nie.

Leave a reply