Ons is weer vroeg op. Dis ʼn mooi windstil dag as ons koffie drink en vir oulaas oor die see sit en uitkyk. Hierdie bly ʼn besonderse kampplek. Die opslaan gaan vinnig en ons ry gastehuis toe. Ons gaan vandag ry tot by Cape Vadil. Dis net 225 km so ons is nie haastig nie.
Die eienaars by die gastehuis is baie vriendelik en gasvry. Die ontbyt saam met Anton en Magda is weer die full monty en smaaklik. Na ontbyt help ek vir Anton sy waentjie haak. Die groet is hartseer, maar ek besef net weer die lewe loop sy eie draaie met mens. Die toekoms is nie in ons hande nie. Geniet vandag want jy weet nie wat more gaan oplewer nie. Moenie uitstel nie, dinge verander vinniger as wat jy dink. Die lewe bly ʼn lied.
Ons stop op Mtubatuba om aankope te doen. Die plan is om so twee aande by Cape Vidal te slaap en dan weer pad te vat, weet nog nie waarheen nie. Ek wil graag Kosibaai toe maar Moeksie wil nog nie lekker byt nie. Vriende van ons is ʼn tyd gelede by Kosibaai gekaap, saam met die kinders by hulle. Gewere teen die kop is hulle die bosse in gevat en hulle voertuie gevat. Hulle moes ook van hulle klere en skoene uittrek. Hulle moes later spesiale reëlings tref om die kampgoed terug te kry by die huis in Centurion. Ek lees en hoor ook nog te gereeld van voorvalle op die Noord-kus van Natal, sal maar sien. Dis jammer want dis ʼn mooi deel van ons land.
Dit is jammer dat Anton hulle moes omdraai, julle lyk soos die idiale pêlle, iets wat jy nie oral kry nie. Groete en geniet