Dag 67

Dag 67. Woensdag 26 Maart

Dis ʼn mooi vroeë oggend as ons sit en koffie drink. Dit voel of jy in ʼn woud kamp, oral pragtige groen bome en struike rondom jou. Die kamp is in ʼn kom geleë met groot duine rondom wat oorgroei is met bome en struike, baie beskut. Ek en Moeksie dink aan ons seun Riaan wat vandag verjaar, sal kyk of ons kan kontak maak want die selfoon sein hier is maar sleg.

Ons het besluit om nie deur die wildtuin te ry nie, net hier rond te stap en later strand toe te gaan. Na brunch, roereier op brood saam met rooiworsies en ʼn tamatie in kwarte gesny, stap ons see se kant toe. Ons stap, of sal ek sê klim oor die groot duin aan die Suide kant van die kampterrein en word bo-op die duin begroet  met ʼn ongelooflike uitsig oor die strand en see. Ons moet eers ʼn rukkie hier vertoef om dit te kan inneem, dis pragtig. Pyp in die mond staar ek na die prentjie voor my en verlang na mense wat ek nie ken nie – kan heeldag net hier sit en weer mens word. Skielik word jy ook bewus van die wind wat redelik sterk waai want die kampplekke is baie beskut, daar voel jy nie die wind nie.

Dis lekker om so langs die see te loop, in diep gesprek met jouself. Hier en daar staan ʼn paar manne met stokke in die hand maar die wind is erg en ek glo nie hulle vang iets nie. Hier is selfs ʼn paar mense wat in die wind en son lê en tan, moet buitelanders wees want hulle lywe is bleek. By die parkeerarea waar die bote uitkom is daar gillies wat vis skoonmaak. Ek stap nader en is lus om ʼn Barracuda te koop, hulle is redelik groot maar ek word gou deur die skipper geantwoord dat hulle nie te koop is nie, gaan self eet.

Laatmiddag by die kamp ontspan ons lekker met Bosbokkies en Rooiduikers wat rustig saam kamp. Die Blou ape is deurgaans op soek na ʼn geleentheid om iets te gryp maar kies vinnig koers as die buurman sy paint ball gun uithaal en op hulle losbrand. Hierdie ding ken hulle nie en hy maak seer, so hulle kom nie weer vinnig nader nie.

Oral brand die vure en die rustigheid is salig, so kan ek lank kamp. Die son sak redelik vroeg agter die duine en bome en dit raak al redelik vroeg skemer. Vanaand braai ek hoender en Moeksie gaan groente gaarmaak. Ons praat oor Anton en Magda en wonder waar hulle trek, sou hierdie kamp baie geniet het. Ek het Moeksie oortuig om Kosibaai ons volgende stop te maak, baie bly want ons was nog nooit daar nie. Het wel ingestem dat ons nie sal kamp as ons enigsins onveilig voel nie, sal dan ander verblyf gaan soek.

 

Ons kuier tot redelik laat buite want die weer is fantasties, nie ʼn teken van die bedompige Natal hitte waarvan ek nie hou nie.

Leave a reply