Dag 68

Dag 68. Donderdag 27 Maart

Dit reën saggies as ons wakker word, net so sagte motreën om alles nat te maak. Ons het gelukkig redelik weggepak gisteraand, so daar is nie veel oor om te pak nie. Na koffie en beskuit sak ons die tent, nattigheid pla nie want ons slaan later vanmiddag weer op. Dis net na agt as ons die pad vat.

Die 304km na Kosibaai ken ons nie, so ons het besluit om maar eerder vroeg te ry want miskien moet ons nog ander slaapplek gaan soek as ons nie van die kamp hou nie. Dis net anderkant Mkuze waar ons regs afdraai na die Pongolapoort dam of die Jozini dam soos algemeen bekend. Dis ʼn groot dam en ons stop anderkant die damwal om eers foto’s te neem, indrukwekkend ! Hier is tiervis in die dam, redelik baie maar klein, nie soos die grotes in die Zambezi nie.

Ons ry met die redelike goeie teerpad aan en van die name op die padtekens klink bekend en lui ʼn klokkie. Ons kerk het jaarliks ʼn uitreik na die omgewing en nou weet ek ook waar dit is. My kinders was ook by geleentheid deel van so uitreik, jare terug.

Net buite die dorpie Manguzi is die Natal Parkeraad wegwyser wat aandui ons moet hier regs op die grondpad uit na Parkeraad se Kosibaai kampterrein. Van hier af is dit net 10km reguit aan met die teerpad dan is jy in Mozambique. As jy net op die grondpad kom, is daar tientalle gillies wat langs die bakkie hardloop en hulle dienste aanbied. Ek wonder vir ʼn oomblik of ek nie maar een moet oplaai vir veiligheid nie maar besluit daarteen, sal sien as ons by die kantoor kom hoe die dinge lyk. Die 6km grondpad vat ons maar stadig, redelik verspoel en uitgery. By die kantoor is daar weer ʼn aantal gillies wat hulle dienste aanbied wat ek baie vriendelik van die hand wys. Ek en Moeksie raak redelik rustig toe ons die heining en die wagte by die ingangshek na die Kosibaai Natuurreservaat gewaar. Ons besluit om vir twee aande te betaal.

Moeksie voel nou sommer BAIE rustiger as ons by ons kampplek aankom. Dis ruim en lekker gelyk en baie beskut tussen die groot bome, voel weer of ons in ʼn woud kamp. Dis lekker harde sand waarop jy kamp. Hier is heelwat kampplekke maar vêr uit mekaar en sommige het gras. Daar is ʼn paar ander kampers ook in die kampterrein. Hier is ses mere langs mekaar van die mond se kant af wat Oos van hier af lê. Die kampterrein in op die vyfde en grootste meer, Kosimeer geleë. Jy kan nie die meer van ons kamp af sien nie hoewel hy slegs so 300m vêr is. Die naaste ablusie is ook ʼn ent op met die duinepad, so 200m vêr.

Dis effe bewolk as ons kamp opslaan en jy voel die windjie roer. Ek maak seker die penne is goed vas want ek wil nie in die nag opstaan as die wind en reën kom nie. Ons kan nie ophou praat oor die lekker staanplek en die terrein nie, ons gaan lekker kamp.

Dis as jy op die plankiespaadjie op die meer stap dat jy eers besef hoe sterk die wind rêrig waai. Dis ʼn groot meer en die wind maak groot golwe met wit brandertjies oor die hele meer.

Hier is ʼn kampplek voor op die meer en ons is dankbaar dat ons nie daar kamp nie, die wind waai erg! Daar is wel ʼn boot op die meer, manne wat ernstig is oor hulle vis as ek die weer so aanskou en bly is ek is op droë grond.

Ons steek vroeg die vuur aan, bang die reën kom. Die wind is rustiger en hier by ons kamp is dit eintlik ʼn lieflike aand. Jy is nie bewus van enige ander mense nie en die rustigheid daal op mens neer. Oor ʼn glasie wyn praat ons weer oor Anton en Magda, mis hulle baie. Die skaaptjops en braaibroodjie kon nie lekkerder smaak nie, hier in die “woud”.

Na ete kuier ons nie langer nie en gaan vroeg inkruip. Deur die aand begin dit reën, met tye baie hard en dit maak ons net lekkerder slaap.

Leave a reply