Dag 69

Dag 69. Vrydag 28 Maart

Ek is vroeg uit om te kyk of alles nog OK is na gisteraand se reën en is dankbaar alles is nog reg. Dit reën steeds liggies en ek grawe vore om die water om die tent te lei. Gelukkig is dit sand en nie modder nie en die water trek redelik vinnig weg. Die koffie smaak anders so in die reën en ek drink sommer ʼn paar koppies.

Ons sou graag mond toe wou ry maar besluit daarteen. Dit sal nie die moeite werd wees in diè weer nie. Gaan kyk wat maak die reën en maar bietjie rondloop om die plek verder te verken.

 

Dis net na elf toe dit opklaar. Dis nog bewolk met die wind wat steeds waai. Ons loop weer op die plankiespaadjie op die meer maar die wind waai ons gou terug. Ons stap na van die ander kampplekke en sê vir mekaar hoe lekker mens hier kan kamp in redelike groot groepe. Ek dink dis maar dieselfde as by Cape Vidal, meer vir die vissermanne met bote en duikers hoewel ek maklik ʼn week hier sal kom rus. Hier is ook heelwat om te sien in die omgewing en die Kosibaai mond is baie gewild.

Die res van die dag is ons net rustig by die kamp met Moeksie wat ernstig brei aan handskoene. Die sonnetjie kom nou en dan deur en dan is dit redelik bedompig.

Dis tyd vir spek ball die aand maar Moeksie keer my nie as ek ʼn vuurtjie aansteek net vir die geselligheid nie. Die wind het gaan lê en dis oopgetrek. Hier in die “woud” raak dit ook redelik vroeg skemer maar dis ʼn pragtige aand. Ons kuier tot laat om die vuur nadat ek myself ooreet het aan Moeksie se aandete, rêrig baie lekker.

In die kooi bespreek ons more se planne. Ons gaan ry tot op Badplaas en ʼn nag of twee daar bly. As die weer hou behoort die tent darem nie te nat te wees as ons opslaan nie.

  • Leave a reply