Dag 70

Dag 70. Saterdag 29 Maart

Die son is nog nie behoorlik uit toe ons sit en koffie geniet nie. Dis ʼn perfekte oggend, nie ʼn wolkie in sig nie en windstil. Ons wil maar vroeg roer, dis 458km tot in Badplaas. Die afslaan gaan maar stadig, alles word eers skoongewas en afgedroog. Ek is net weer bly dis sand en nie modder nie. Dis na nege as ons die kamp verlaat. Ek wil weer hier kom kamp, volgende keer visvang ook, as die weer dit toelaat.

Die pad deur Piet Retief na Badplaas is mooi. Ek en Anton het op ʼn stadium besin of ons deur Swaziland gaan toer en of ons binne die SA grense gaan bly. Ek het toe al besluit ek wil binne die grense van die land bly, daarom ry ons die Pongola, Piet Retief en Amsterdam pad na Badplaas, al langs die Swaziland grens.

Dis na twee as ons by Forever Resort op Badplaas intrek. Ons was al baie hier en ons ken die plek. My seun Jan Hendrik het ook ʼn jaar of wat hier gewerk, was die Entertainment Manager by verskeie Forever oorde na skool. Die oord is redelik vol maar ons kry plek vir drie nagte.

By ons kampplek aangekom is daar ʼn kar op ons staanplek geparkeer. Ek rapporteer dit aan ontvangs en hulle soek die eienaar. Na langer as ʼn uur se wag kom die buurmense daar aan, dis hulle kar. Hulle was by die swembad. Intussen het kampers wat verbyloop ons gewaarsku teen die bure, hulle drink vreeslik, is lawaaimakers en vloek verskriklik. Bestuur het hulle al glo kom aanspreek die vorige dag. Die man wil eers net die kar nader aan hulle tent trek toe ek hom versoek om asseblief die voertuig van my perseel af te verwyder. Die waentjie en my bakkie gaan die hele perseel opneem.

Die wiele spin dat die klippe spat en ek besef hierdie is nie ons dam se eende nie. Ek bly kalm en geduldig slaan ek en Moeksie kamp op. Die bure se vyfjarige seuntjie kom kort kort spog met sy pa se kar, hy is BAIE vinnig en ʼn paar ander woorde wat ek nie wil herhaal nie. Ek kry die kind jammer. Die pa roep hom elke keer terug met woorde oor ons wat ek nie duidelik hoor nie maar ek maak of ek doof is, maar bly vriendelik teenoor die kind. Hierdie kan ʼn laaaang drie dae word, dink ek by myself.

Ons ry om ʼn paar inkopies te doen vir die volgende drie dae by die winkels net buite die oord. Die slaghuis se vleis lyk nie te sleg nie en die winkeltjie langsaan het die ander basiese goedere. Hout en ʼn paar ander items koop ons by die winkel op die oord.

Dis ʼn mooi aand met geen wind nie. Moeksie het die luuksheid van die wasmasjiene gebruik om vroeër die middag wasgoed te was en het dit gaan ophang om te droog. Dis effe vreemd om ewe skielik tussen so baie mense te kamp, dis skoolvakansie en die oord is vol.

Ons sit rustig om die vuur en is verbaas dat die bure stil is. Miskien warm hulle net op en kan die aand nog lank raak. Vanaand braai ek tjops en Moeksie kook mielies. Ons geniet tog op ʼn manier die besige kamp met al die mense wat rondloop en die gelag van kinders. Dan besef ek hoekom, ek verlang na my eie kinders en kleinkind. Moeksie maak dieselfde opmerking.

Dit vat langer om vanaand aan die slaap te raak, moet eers weer die stemme van mense om jou gewoond raak. Dis ook effe koeler as van waar ons kom maar nie kombers koud nie. Die bure was kalm, glad nie die mense waarteen ons gewaarsku is nie.

Leave a reply