Dag 71

Dag 71. Sondag 30 Maart

Ons staan rustig op en drink koffie. Dis asof die oord ook weet dis Sondag, almal slaap redelik laat voor die kamp tot lewe kom. Ons staar oor die oord se reservaat en kyk of ons nie ʼn paar bokke raaksien nie. Hier was vroeër renosters ook, weet nie of hulle nog hier is nie. Dis ook hier waar ek een vakansie my agterstewe rou gery het op ʼn perd. Stefan ons jongste was nog klein en ek het hom saam met my op die perd gelaai. Moeksie moes maar goed roompie smeer en ek het vir ʼn paar dae wydsbeen geloop.

Ons kuier net rustig by die kamp en Moeksie brei haar handskoene klaar. Dis weer die full monty vir brunch en ons vind dit nodig om deur die terrein (redelike groot terrein) te wandel om die spysvertering aan te help. Daar is heelwat aktiwiteit om die swembad maar ons besluit om nie te swem nie.

Die middagslapie was soet. Ons mis vir Anton en Magda en hulle name word gereeld geopper. Ook die kinders se name is gereeld op ons lippe. Dis ʼn snaakse ding, die Sondagmiddag gevoel. Jy is stil en dink aan mense uit die verlede en daar is ʼn verlange wat wil opvlam. Jy wens al jou kinders en vriende kan nou hier wees om die tyd met jou te deel. Jy voel alleen al is daar mense rondom jou, hulle is vreemdelinge. As kind het ek nogal redelik ergere Sondag blues gekry, diè vreemde gevoel.

Ek maak vroeg al vuur as Moeksie vra of ek vroeg wil gaan slaap, al het ons netnou net opgestaan. Ons maak nie gewoonlik so vroeg vuur nie. Vanaand is dit skaap riblets en ʼn braaibroodjie. Die bure se seuntjie is weer gereeld by ons om te kom gesels as sy pa hom telkens terugroep. Ons wonder wat gebeur het voor ons hier aangekom het want almal wat verbyloop spreek hulle verbasing uit oor die stil gedrag van die bure, maar ek is bly hulle het bedaar.

Die aand is nog jonk as ons klaar geëet het en ons stap oudergewoonte deur die kamp en knoop oral gesprekke aan. Die warmer vanaand en windstil, ideale kampweer. Die slaap kom oorval my vinnig nadat ons gaan inkruip het.

Leave a reply