Dag 72

Dag 72. Maandag 31 Maart

Ek is vroeg op na die baie slaap van gistermiddag en gisteraand. Dis nog sterk skemer as ek my eerste koppie koffie geniet en wag vir die son om op te kom.  Eben en Magda Wessels se name flits deur my kop as ek oor die plaas kyk wat aan die Noordekant van die reservaat grens. Ons het al lekker daar op Many Streams gekuier en in die huisies teen die berg geslaap voor die grondeise gekom het. Dit was ʼn pragtige plaas met baie potensiaal, maar dis nou net ʼn stuk grond. Hulle bly nou in Witrivier.

Die perfekte somersdag ontvou en dis asof die kamp stadig ontwaak. Meeste mense het Vrydag eers hier aangekom toe die skole sluit en hulle wil seker die Maandag reg begin, bietjie inlê om die vakansiegevoel te ervaar. Moeksie is ook op na my derde koppie koffie.

Die vakansiegevoel is aansteeklik as ons langs die swembad lê en al die mense aanskou. Selfs Moeksie soek ʼn keer of twee lafenis in die swembad. Sy is eintlik “allergies” vir koue water en swem net as die water 30º of warmer is, maar ons geniet dit. Ons is lui vir terugstap kamp toe en gaan eet ʼn Hamburger en Hot Dog by die Kiosk bo langs die koue swembad.

Die res van die middag lê ons soos vrot velle langs die swembad en geniet ook die vakansiegevoel. Ek dink terug aan die keer wat ons hier vakansie kom hou het toe Jan Hendrik die entertainment aangebied het. Hy het Bingo hier langs die swembad aangebied en ons het ook kaartjies gekoop. Seun Riaan is toe die gelukkige een wat eerste Bingo skreeu en hy hardloop om sy geld te gaan op-eis. Hy besef nie dat hy na regte nie mag wen nie aangesien sy Boetie in beheer is – maar hy het eerlik gewen. Dis toe Jan Hendrik hom vra “wat is jou naam” en hy snaaks na sy broer kyk of hy ʼn grappie maak en hardop sê “jou broer”, dat Jan Hendrik vinnig die mikrofoon moes wegruk om die verleentheid te spaar en net die prysgeld oorhandig en vir “Riaan” baie geluk sê. Die boerpot was ʼn paar honderd rand!!.

Die kampvure brand hoog as die son agter die berge wegsak na ʼn pragtige dag. Vanaand braai ek hoender en Moeksie kook aartappels. Ons pak tussendeur stadig van die los goed weg want môre is dit weer padvat. Na ete wandel ons weer deur die kamp en geniet die atmosfeer.

  • Naand Hollies. Graag wil ek verneem, wat is jou mening. Is twee voertuie, 4 persone, net reg vir so n toer?

  • Leave a reply