Dag 73

Dag 73. Dinsdag 1 April

Ons is al voor ses op om die dag met koffie te begin. Ons wil maar vroeg ry en kyk of ons nie ʼn plekkie teen die draad in die Wildtuin kan kry nie. Dis net 198 km tot by Krokodilbrug maar ons moet nog aankope doen, genoeg vir die 5 nagte wat ons beplan om deur die Wildtuin te ry.

Ons stop op Malelane en doen aankope by die Spar, ken hom al goed van al die kere wat ons hier voorraad kom aankoop het vir ons vele besoeke aan die Wildtuin. Ons is lief vir die Kruger en kom gereeld hier kuier.

Dis net voor elf as ons kamp opslaan in Krokodilbrug en is gelukkig om kampplek teen die draad te kry. In Kruger kan jy nie ʼn spesifieke staanplek bespreek nie, dis first come first served, so jy probeer maar so vroeg moontlik by die kamp kom met die hoop om ʼn goeie plek te kry. Ons verkies om naby die grensdraad te staan want dan het jy ʼn uitsig oor die bos en kan gelukkig wees om diere te sien, veral snags as die nagdiere rondloop hier langs die grensdraad. Ons gaan lekker bly vir die twee dae, het nog nie baie hier in Krokodilbrug gekamp nie.

Ons ry net na een om te gaan diere kyk. Die S25, die grondpad langs die Krokodilrivier na Malelane hek, is een van ons gunsteling roetes en stel nie teleur nie. Ons sien olifante, renosters, zebras, kameelperde, bobbejane, blou-ape, seekoeie, krokodille, vlakkies, ʼn skilpad in die pad, kudu’s, steenbok, blouwildebeeste, waterbokke, rooibokke, buffels en ʼn jagluiperd met twee kleintjies wat uit is op jag. Dis net na vyf as ons weer terug is by die kamp.

Die son brand nog baie warm as ek die flying fish uit die yskas haal en vir Moeksie ʼn glasie wyn skink. Daar is min dinge so lekker soos hier in die Kruger langs die draad sit en ontspan terwyl die son stadig agter die bome op die horison wegkwyn, ʼn tipiese Afrika sonsondergang met die kampvuur wat hier langs ons brand. Moeksie het met Magda gepraat en sy en Eben sal môre oggend vroeg by ons wees om die dag saam met ons diere te kyk. Hulle is al twee in die onderwys en het ook skoolvakansie.     

Die steak op die rooster lyk vanaand sommer anders as ander kere, miskien die smaak van die knertsies fles wat die oë anders laat kyk. Nou voel ek weer tuis, hier in die bos. Ons kuier nog lank buite na ete want dis nog baie warm. Die nagapies vermaak ons as hulle op die telefoondraad rondskarrel en elkes amper-amper afval. Die hiënas is ook van vroegaand af hier langs die draad om te aas. Ons praat oor die pad deur die Wildtuin wat vreemd gaan wees, ry om bo by Pafuri uit te kom, nie soos die gewone vakansies van die Wildtuin nie.

Die naggeluide van die Wildtuin is soos musiek in die ore as ons gaan inkruip na ʼn perfekte dag. Die hitte laat Moeksie rondrol voor sy aan die slaap raak.

Leave a reply