Dag 74

Dag 74. Woensdag 2 April

Soos altyd in die wildtuin is ons op voor die son uit is. Ons het goed geslaap en sien uit om saam met Eben en Magda te kuier. Die koffie en beskuit gaan goed af terwyl ons vir hulle wag. Net voor agt en net voor die ongeduld vatplek kry daag hulle op. Ons besluit om met twee voertuie te ry tot by Afsaal waar ons gaan piekniek hou en hulle dan van daar af sal terugry Witrivier toe. Ek gee hulle die hand radio sodat ons met mekaar kan gesels op die pad.

Hulle kom BAIE in die wildtuin en hulle oë is ingestel op die diere. Ons sien heelwat wild maar sien net leeu en luiperd spore, maar hulle lywe hou hulle skaars en kruip goed weg.

By Afsaal aangekom is dit al ʼn bynes van mense, soos gewoonlik. Ons kry ʼn gasbraai en kry ʼn tafel onder die koeltebome. Die flying fish in die koffiebeker smaak vorentoe. ʼn Jaar of wat terug is die gebruik van alkohol by alle piekniekplekke verbied nadat dagbesoekers in kombi’s die plekke gebruik het om te kom suip en dan so lawaai het dat mense nie meer wildtuin toe wou kom nie. Dis jammer want ek hou van my biertjie so saam met die brunch in die wildtuin maar ek het daardie jare self by piekniekplekke aangekom om net weer terug te klim in die kar want ek het nie kans gesien om by sulke lawaaimakers in die bos te kuier nie. Toe het ek al voorspel dat hulle die gebruik van alkohol gaan verbied, nie net by piekniekplekke nie maar vir alle dagbesoekers. Nou “vermom” ek maar my versnaperinkies.

Ons is rustig en kuier tot net voor vieruur by Afsaal, die langste wat ons nog by ʼn piekniekplek gekuier het. Gewoonlik eet ons klaar en ry weer, moet gaan diere soek. Dit was lekker om weer vir Eben en Magda te sien. Ons is al langer as dertig jaar bevriend met Magda en het al diep spore saam geloop.

Ons vat pad en ek en Moeksie besluit om by Malelanehek uit te ry en met die N4 hoofpad buite die wildtuin terug te ry Krokodilbrug toe. Eben en Magda gaan nog diere soek en ry Wes om by Phabenihek uit te gaan.

Dis nog redelik vroeg as ek die vuur aansteek en ek en Moeksie oor die veld sit en kyk met ʼn glasie in die hand. Dis ʼn rustigheid wat ek nie kan beskryf nie en ons praat oor hoe Anton en Magda hierdie sou geniet het. Hulle was nog nie baie in die Wildtuin nie maar ons het ʼn afspraak om hulle te bring. Die skaapsosaties en knoffelbrood is vyfster. Ek braai ook ʼn stukkie wors wat ons padkos vir môre sal wees. Ek en Moeksie kuier lekker en ek wil nie hê die tyd moet aanstap nie, wil vir nog BAIE lank net hier sit en menswees.

Dit het effens afgekoel as ons bed toe gaan. Moeksie sal beter slaap vanaand.

Leave a reply