Dag 75

Dag 75. Donderdag 3 April

Ons is al vroeg opgepak want die 201 km na Letaba gaan ʼn paar ure vat. Dis voor sewe as ons die pad vat teen so gemiddeld 30 km/uur en stop ook gereeld by diere en voëls wat tyd opneem

By Tshokwane piekniekplek stop ons om blaas leeg te maak en ʼn ietsie te eet. Die wors en broodjies smaak vorentoe saam met die koppie koffie. Die plek is al so bekend aan ons dit voel of ons gister hier was.

Dis net na een as ons by die kantoor op Letaba instap om in te boek vir die twee nagte. Was al baie hier en dis een van ons gunsteling kampe. Ons is weer gelukkig om teen die draad staanplek te kry wat naby genoeg aan ʼn kragpunt is. Soms is daar plek teen die draad maar dan moet jy ʼn 50 meter kabel hê om krag te kan kry. Dit voel of die son laag hang as ons opslaan want die sweet loop my af. Ons besluit ons het genoeg gery vir die dag en gaan koel af in die swembad. Die water is koel maar selfs Moeksie geniet dit. Lyk my heelwat mense het so gevoel want daar is baie mense in en om die swembad om die hitte van die lyf af te was.

Ons stap laatmiddag na die restaurant en sien heelwat olifante wat in die rivierbedding loop. Dis ʼn ongelooflike mooi uitsig hier van die stoep van die restaurant af oor die draai in die Letabarivier hier voor jou met heelwat diere wat gesien kan word en ʼn ryk voëllewe. Mens hoef amper nêrens heen te ry nie, kan heeldag net hier kom sit met jou vêrkyker en boeklees.

Die wind het opgesteek en dis heelwat koeler as ek die vuur aansteek. Moeksie geniet die Gin wat ek vanaand vir haar bedien. Dis Inverroche Gin wat ons in Stilbaai by die distillery gekoop het. Min dat sy iets anders as wyn geniet, moet die afkoel in die swembad wees wat ander smaakkliere wakkergemaak het. Die tjops en mielie gaan lekker smaak vanaand.

Ons kruip na ete in en raak gou aan die slaap in die koel weer.

Leave a reply