Dag 76

Dag 76. Vrydag 4 April

Dis bewolk en koel as ons vroegoggend sit en koffie drink. Het lekker geslaap. Ons besluit om met die grondpad al langs die Letabarivier na Olifantskamp toe te ry en daar brunch te geniet.  

 

Ons ry stadig al met die kronkelpaadjie langs die rivier en soek agter elke bos die luiperd, het hulle al ʼn hele paar keer hier langs die rivier gesien. Vandag sien ons baie diere, ook gelukkig om vyf leeus hier langs die pad te sien, maar die luiperd ontwyk ons. Die olifante in hierdie omgewing is volop en ons sien ʼn hele paar troppe met kleintjies by. Ek geniet altyd hierdie pad, nie net vir die diere en voëls nie maar ook die natuurskoon hier langs die rivier.

By Olifantskamp gaan sit ons oudergewoonte eers voor by die uitkykpunt en soek met die vêrkykers diere. Dis verstommend hoeveel diere jy sien as jy so stilsit en die bos fynkam met die vêrkyker.

Ons het sleg voorberei vir die brunch vandag want daar is nie ʼn mes ingepak nie. Ons maak worsbroodjies en die lepel sny die broodjie net so goed as wat hy botter op die broodjie smeer. Die worsbroodjies smaak heerlik.

Ons ry met die teerpad terug Letaba toe maar maak eers ʼn draai by die N’wamanzi uitkykpunt vanwaar jy die ongelooflikste uitsig het oor die Olifantsrivier.

Dis laatmiddag as ons na ʼn middagslapie ʼn laaste draai gaan ry. Die teerpad Noord is altyd ʼn goeie opsie vir ʼn kort laatmiddag rit, ook langs die Letabarivier. Ons sien weer baie diere en voëls. Die sonsondergang is besonder mooi vanmiddag met wolke wat geel en oranje gekleur word soos geen skilder dit kan nadoen nie. Mens wil hier langs die pad sit en kyk tot dit donker word maar die hek gaan toemaak en dan is daar moeilikheid.

Terug by die kamp het ek vergeet om vleis vir vanaand uit die vrieskas te haal. Ons stap winkel toe en koop steak wat nie te sleg lyk nie. Die fles proe soet en ons geniet die kampvuur en koeler weer. Ons mis ons pelle baie as ons nabetragting hou oor die dag se sightings en die besoek van die bosbokkies waardeer. Hier is heelwat van hulle in die kamp en hulle is baie mak. Ons was verbaas oor die lekker steak wat rêrig sag was, moet die bosveld hout van die wildtuin wees wat hom so sag gemaak het en ekstra geur aan die braaibroodjies gegee het. Nog ʼn onvergeetlike dag.

  • Lekker!!! Ons mis die plek met groot hartseer, want ons moes NOU daar gewees het! Ai ai…

  • Leave a reply