Dag 78

Dag 78. Sondag 6 April

Moeksie is al vroeg uit die vere as ek die skottelgoed hoor kling as sy was. Ek lê bietjie in vanoggend en Moeksie is besig om te lees as ek my kop by die tent uitsteek en vra vir koffie. Ek kom agter Moeksie is nie lekker vanoggend nie, die gesels gisteraand het haar homesick gemaak en as ons oppak kan ek sien daar is ʼn haastigheid aan haar.

Ons ry net na agt by die kamp uit, op pad na Pafurihek, die mees Noordelikste ingangshek van die wildtuin. Die 76 km tot by die hek gaan vinnig want ons ry 50 km / uur. Die landskap hier is mooi en die groot bome gee ʼn ander dimensie aan die landskap.

Van die hek af is dit nog 355 km na Mapungubwe via Musina. Dis ʼn mooi teerpad maar ons moes ʼn ent op die grondpad langs die pad ry waar hulle ʼn brug oor ʼn rivier bou. Die kremetart troon soos reuse oral bo die bos uit, hier is baie van hulle en ʼn paar grotes sommer teen die pad, veral die stukkie pad van Tshipise tot by Musina is besaai met die oerbome.  Werklik ʼn mooi gesig.

Ons stop in Musina om aankope te doen. Ek was baie jare laas hier en my mond hang oop as ek die uitbreiding van die dorp sien. Dis ʼn miernes van mense en dis nie dieselfde dorp as wat ek geken het nie. Al is dit Sondag is baie winkels oop, moet seker maar skep terwyl die golf verbykom. Oral is daar bakkies met Zimbabwe registrasie nommers wat tot in die hemel gelaai is met goedere. Dis hulle naaste en beste aankopiesentrum en daagliks kom daar honderde Musina toe om goedere aan te koop en weer in Zimbabwe te gaan verkoop.

Dit vat baie oorreding om Moeksie te oortuig dat ons aankope vir minstens drie dae moet doen. Sy wil net een aand in Mapungupwe slaap, sy wil huis toe.

Dis net na een as ons by die kantore van Mapungupwe instap. Dis een van die nuutste toevoeging tot die Parkeraad se parke en ons was nog nie hier nie, net gehoor by vriende dis ʼn mooi plek. Het gehoor die plan is om dit ʼn oorgrens park te maak in die toekoms met die Tuli blok in Botswana en die Tuli Safari deel in Zimbabwe.

Ek bespreek vir twee nagte en is teleurgesteld om te hoor ons moet “om” die park ry na die kampterrein wat sowat 35 km verder is, naby die Pont Drift grenspos waar die Westelike bewaringsgebied se ingang is. Hier is nog ʼn aantal plase tussen die Oostelike en Westelike bewaringsgebiede waar boerdery bedryf word en oor die jare vorentoe as deel van die park geïntegreer sal word.

Die Mazhou kamp is die enigste plek waar jy kan kamp. Dis ʼn klein kamp, net tien staanplekke, naby die Limpopo rivier met pragtige skadubome. Ons is gelukkig om die kampplek onder die reuse Jakkalsbessieboom te kry. Ons word vriendelik ontvang deur die veldwagter en ek is aangenaam verras om te hoor hier is baie diere in die omgewing. Die luiperd het gistermiddag laat hier in die pad by die kamp gesit en inloer. Die kamp is nie toegespan nie, net ʼn lae elektriese heining om die olifante uit te hou wat ook blykbaar gereeld kom kuier. Hier gaan ons lekker kamp. Daar is wel drie of vier kampe met huisies in die hoof kamp.

Die blouape is baie hans en ons moet oral keer as ons kamp opslaan. My kettie is naby en hulle slaan vinnig op die vlug as die rekke span, maar gaan nie ver nie, loer net van agter die naaste boom of die “koeëls” kom en kom gou weer nader. Die kampplek is ruim en die braairooster is van die beste wat ek nog ooit by ʼn kampplek gesien het. Die ablusie is in die middel van die terrein en naby die kampplekke. Meeste van die ander kampplekke het mense op.

Ons gaan ry ʼn draai laatmiddag en sien honderde Maraboes oral in die veld rondloop. Dis ʼn snaakse gesig om al die voëls so bymekaar te sien. Daar is ook nog baie wat in die lug rondsirkel. Ons kyk of ons sprinkane of insekte sien wat dalk die rede is vir die samedromming maar sien niks ooglopend wat hulle hier laat vergader nie. Ons sien ook heelwat rooibokke, blouwildebeeste, koedoes, waterbokke en kameelperde. Nou is ek tevrede, het aanvanklik gedink die kampplek is heeltemal buite die park, maar dis aan die verre Westekant van die park. Moet wel met die teerpad terugry hoofhek toe om die “hoof” park te besoek wat ons beplan om môre te doen.

Ons sit laatmiddag rustig in die kamp en geniet die besoek van al die bosbokkies wat tot by jou stoel kom om te bedel. Hier is ook baie voëls. Tussendeur geniet ek dit om die blouape met die kettie te verwilder want hier is genoeg “koeëls” wat deur die Jakkalsbessieboom voorsien word. Die son sak op ʼn ander manier hier agter die digte bosse en bome, ʼn mooi gesig.

Die kampvuur brand hoog en dis rustig in die kamp. Ek en Moeksie gesels en sal weer hier wil kom kamp. Vanaand se steak word sonder bykosse geniet.

Dis lekker koel as ons eindelik kooi toe gaan, gaan vanaand lekker slaap.

Leave a reply