Dag 79

Dag 79. Maandag 7 April

Ons staan vanoggend later op as gewoonlik en geniet die koffie hier in die bos. Dis na agt as ons die pad vat na die “hoof” park. Ek volg die GPS se kort pad deur plase, soms tweespoor paadjies in die bos maar moes omdraai toe ons by dele kom wat heeltemal verspoel het en diep dongas jou verhoed om deur te gaan. Dis terug teerpad toe na die hoofhek. Van die hoofhek ry ons Noord om by die samevloeiing uit te kom, daar waar die Limpopo- en Shaseriviere saamvloei en die grense vorm tussen SA, Botswana en Zimbabwe. Ons sien heelwat diere en voëls op ons pad. Die kremetart laat jou kort kort stop net om hulle te bewonder, hierdie bome wat onderstebo groei, soos van die bevolkings glo.

 By die samevloeiing is daar netjiese wandelpaadjies om die riviere uit verskeie hoeke te kan besigtig met bankies waar jy rustig kan raak as jy net sit en staar, die natuur te bewonder. Dis ʼn asemrowende gesig. Ons kyk oor die Limpopo in die rigting van die Tuli blok en herken die huis aan die oorkant, het daar ʼn draai gemaak naby die huis ʼn paar jaar gelede toe ons in die Tuli blok gebly het vir ʼn week saam met vriende.

Die warm son verhoed ons om langer te sit en ons ry stadig met die 4×4 roete al langs die rivier in ʼn Oostelike rigting tot teen die grensdraad. Dis ʼn uitdagende stukkie pad maar baie mooi. Ons sien weer baie diere op die pad na die hoofhek en stop weer ʼn keer of twee om die massiewe kremetart te bewonder.

 Die besoekersentrum naby die hoofhek is die moeite werd om te besoek. Die argitektoniese boustyl het internasionale erkenning gekry en die inligting binne die sentrum is goed uiteengesit.

Ons is vroegmiddag terug by die kamp. Moeksie sit en lees terwyl ek die ape besig hou met die kettie. Hulle het amok gemaak by buurman want oral lê die sakkies rond soos hulle geplunder het. Laatmiddag ry ons ʼn laaste draai met die 4×4 roete al langs die rivier. Dis dig begroei en die riete maak die soek na wild moeilik. Ons sien wel ʼn paar Njalas en bosbokkies.

Vanaand maak ek groot vuur, wil die oorblywende twee sakke hout klaar brand. Die rooster se kolebak is groot genoeg dat ek kole eenkant kan krap om die hoender stadig te braai. Die rustigheid is oorweldigend as die son weer agter die bosse en bome skuiling soek en die bosbokkies al hier om ons wei. Die selfgemaakte knoffelbrood van Moeksie rond die smaak in die mond goed af. Ons gesels nog tot laat langs die kampvuur oor die dag se ervaring en bevestig dat ons verseker weer moet kom. Dis ʼn baie mooi park hierdie. Ek voel geseënd, my beker loop oor.

Moeksie is kort kort op nadat ons gaan lê het, kan nie die hitte wees nie want dit het lekker afgekoel. Miskien is dit die leeu se brul wat ons kort kort hoor, maar dis die blaasontsteking wat haar so opjaag.

  • Ons twee besoeke was dag besoeke en in die winter. Dis lekker om die welige groen te sien. My broer, wie op 26 Januarie oorlede is, het Ilala Lodge op die Pontdrif pad. Ons het maar in die winter gaan kuier.
    Groete

  • Leave a reply