Ons is weer vroeg op en geniet ʼn koppie koffie saam met beskuit. Vandag se roete is 431 km tot by Marakele Nasionale Park net voor Thabazimbi. Ons is net na agt in die pad.
Dis ʼn mengsel van grondpad en teerpad tot daar. Die teerpad vorder maar stadig as ek al die slaggate moet misry. Die omgewing is mooi, my wêreld die, bosveld op sy mooiste.
Ons boek half drie in by Marakele, gaan twee aande hier slaap. Ons was al tevore hier saam met Martin en Rika en die kinders vir ʼn naweek, die keer toe ons amper weggespoel is deur die stortreën. Ons kry ʼn lekker gelyk staanplek onder ʼn groot doringboom. Die kampterrein is nie toegespan nie en die renosters kom loop hier tussen die tente deur. Daar is nog drie ander kampers op die terrein. As ons opslaan kom die renoster en sy kalf tot hier voor ons, nuuskierig om te kyk wie kom hier kamp. Moet sê dis nogal ʼn ander gevoel om hulle so naby jou te beleef, opgewonde maar BAIE versigtig.
Hoop jy het vir daai kamp-buurman laat weet jy is besig om die storie te skryf dat hy jou blog kan lees!