Ek steek vuur aan, die laaste keer op ons toer. Ek het drie sakke hout gekoop, kan maar groot gaan vanaand. Ek sit die laptop op die TV skinkbord en begin die slide show, die eerste foto’s van 81 dae gelede waar ons in my drive way staan, reg om te vertrek. Elke foto vertel ʼn storie en ons lewer gereeld kommentaar. Vanaand mis ons weer vir Anton en Magda, sou hulle graag hier wou gehad het om dit saam met ons te kon afsluit. Dis baie foto’s en na ʼn uur begin ek braai terwyl ons vir nog ʼn hele tyd lank al die foto’s kyk. Moeksie het reg beplan, dis tjops en braaibroodjies vanaand, my gunsteling, die regte kos om die toer mee af te sluit.
As ons in die bed lê en gesels oor ons ervaringe die afgelope 81 dae is daar momente waar my stem bewe en hees raak. Dis ʼn gevoel van ongeloof dat ons dit gedoen het, ʼn onwerklikheid. Baie genade om te kon beleef en sien wat ons beleef en gesien het, bevoorreg en geseënd. Die grootste deel wat ons met goeie vriende kon deel wat ongelukkig moes omdraai.