Dag 6

Dag 6. Vrydag 24 Januarie

Na ʼn rustige aand proe Magda se koffie net so lekker soos Anton s’n, sy het seker by hom geleer – of is dit andersom? Die vars vrugte en jogurt vul die nodige gaatjie in die maag en ons pak rustig op, want ons het net 117 km om af te lê vir die dag. Ek maak gebruik van die goedheid van die aand se aanbod en laai so vyf stompe hout op die bakkie. Dis nie vol boomstompe nie, hulle is lekker gekloof en net die regte grootte. Die mense staan buite op die lapa se stoep om ons te groet toe die man roep, “is dit al hout wat jy saamvat, daar is nog plek vir ʼn paar stukke, moenie skaam wees nie”! Ek wag nie vir ʼn tweede uitnodiging nie en laai nog so drie stompe.

Ons stop gou eers weer by die algemene handelaar want Anton het my oortuig ʼn snoeiskêr maak jou lewe maklik as daar ʼn takkie is wat die tent pla. Hy moes hoeka al steke in Maun (Botswana) kry toe hy die takkie wat sy tent pla met ʼn mes wou snoei en dinge verkeerd geloop het. Die speensalf op die rak, glo Magda, is net die regte medisyne vir die droë velle en val ook in die mandjie, saam met die bakkie stinksalf vir Anton se rug. Dis ʼn ou ding, die rug van Anton, maar hy sê dit gaan goed die afgelope tyd en die stinksalf is net vir ingeval.

Die voorspoed wil nie ophou nie. Die pad wat ons moet ry is die vorige dag geskraap na die reën en dit voel soos ʼn teerpad waarop ons ry.

Dit neem ons ʼn tydjie om die regte ingang te vind na die Molopo Natuurreservaat, maar ons kom uiteindelik by die kantoor aan waar ons moet inboek en betaal.

Toe ons op die agterstoep van die plaashuis kom, is dit Jonas wat ons vriendelik groet en verneem of hy ons kan help, die baas wat hier is slaap ʼn bietjie. Ek ken nie die park nie en wil eers uitvind van kampplek, kostes ens.  Jonas wys in ʼn Noord-Westelike rigting en sê daar is lekker kampplekke oorkant die droë rivierloop met ablusie en lopende water. Hy sal die pomp later gaan aansit vir die watertenks om vol te loop. Ons betaal vir een nag se kamp, koop ʼn paar stukke hout (die op die bakkie is back-up) en ry na die kampterrein, Phiri kamp.

Die reservaat is in 1987 geproklameer en ongeveer 27 000 hektaar groot, geleë 250 km Noord van Vryburg en sowat 10km Wes van Vorstershoop.

Die staanplekke naby die ablusie voldoen nie aan ons verwagtinge nie en ons besluit om kamp op te slaan onder die pragtige kameeldoringbome op die walle van die droë rivierloop, sowat 400m van die ablusiegeboue af. Die rooi Kalaharisand, bedek met kameeldoringbome en die rivierloop hier langs ons, verwesenlik ʼn droom, hier gaan ons lekker kamp, ek het TUIS gekom !!

Dis warm as ons begin opslaan en Magda en Moeksie kry swaar as dit voel of die son tot stilstand gekom het, om net op ons te fokus. Ek is diè hitte gewoond uit my grootword dae. Ek ry na die ablusieblok om die nuwe stortsakke vol water te gaan maak. Die ablusie kan baie netjies wees, maar dis redelik vuil en onversorg, ʼn jammerte, daarom het ons besluit om ons eie storte te gebruik, lekker in die opelug onder die sterrehemel. Terug by die kampplek maak ek die twee stortsakke langsmekaar lê op die Kalaharisand wat ek ʼn bultjie gestoot het, sodat die sonstrale vol op die swartkante kan inval. Vanaand stort ek in WARM water. Ek weet nie waarom ek so dink nie, want in hierdie hitte wil jy nie ʼn warm water stort naby jou hê nie, maar die nuwe stortsakke se effektiwiteit moet uitgetoets word.

Die gille wat die stilte breek en die sang van die sonbesies uitdoof kon ek eers nie plaas nie, is dit angs, benoudheid of ʼn hulpkreet? Dit kom weer en ek besef dis Magda se stem. Net toe ek wil begin hardloop om hulp te gaan verleen, sien ek die groen watertenk op die hoë stellasie naby die ablusie wat ʼn straal water uitgooi bo by sy oorloop en Magda, vol geklee, onder die straal staan en gil van die plesier. Moeksie en ek kon ons lag nie bedwing nie en ek voel die koue op my lyf toe ek so op ʼn afstand na haar kyk, so onder die stroom water. Anton kon dit nie weerstaan nie en is binne sekondes langs haar, in sy speedo en hulle geniet die lafenis.

My gedagtes gaan dadelik terug na my kinderdae, onder ons watertenk wat oorloop van boorgatwater, waar die water van so hoog af stroom dat dit jou seermaak. Ek, my drie boeties en my kleinsus. Ons het ook in ons speedo’s gestaan, daardie ou groot wittes wat se onderkant tot by jou knieë hang as hy nat is, maar dit was altyd lekker.

Magda kom sopnat en ongefokus aangestap kamp toe, maar ek sien toe haar bril se een lens is uit. Met haar kapperjolle onder die water het ʼn klein skroefie aan die een kant van die bril uitgeval en is weg, swem iewers in die Kalaharisand rond. Sy is nog so vol van die lafenis dat die gebreekte bril haar nie ontstel nie, vertel net hoe heerlik dit was onder daardie stroom water. Na ʼn bietjie improvisasie en McGyver truuks is die lens terug en kan sy weer behoorlik sien.

Ons besluit om ʼn draai te gaan ry om die area te verken. Aan die anderkant van die ablusie ry ʼn bakkie verby, dit lyk soos een wat deur natuurbewaring gery word. Dit is droog hier, BAIE DROOG en ons sien nie veel wild buiten ʼn paar gemsbokke, blouwildebeeste en koedoes nie. Op ons pad terug kamp toe, naby die ablusie, sien ek die houtpen in die grond met lint (die soort wat hulle gebruik om konstruksie areas af te baken, wit en rooi strepe op) wat oor die twee-spoor paadjie gespan is. Dis waar die natuurbewaring se bakkie gery het en dink ek hulle is besig met ʼn projek hier en wil nie gesteur word nie.

Daar is ʼn uitkykpunt met riete bedek, op die wal van die rivier so 150m van ons kampplek af, wat uitkyk op ʼn suiping in die rivier. Ons neem iets koel vir die pad, stap die entjie en gaan sit in die uitkykpunt. Die maer elande wag al vir ons by die suiping en die waterbokke is ook op pad. Die koedoekoeie kruip nog weg vir die son in die skaduwee van die bome in die rivierbedding. Later kom vlakkie ook sy dors les.

Die droogte breek weer deur in my gedagte toe ek aan die anderkant van die rivierbedding die karkas van die eland sien lê wat gevrek het. Ten spyte van die droogte is daar vir my ʼn mooi in diè wêreld, harde wêreld maar ook mooi, ʼn mooi wat ek nie kan beskryf nie.

Dis net voor sononder toe ons vuur aansteek. Die kameras kliek aaneen soos ons die son op die horison sien sak, met die wolkies wat ingekleur word op ʼn wyse wat net die son en net hier gedoen kan word. Mens staan in bewondering en voel geseënd om dit hier te kan beleef. Ek sal hier kan bly, vir laaaaaank !

Dis tyd en die tou word aan die stort vasgemaak, een van my oues want die nuwes, soos te wagte kon wees, is te warm gebak deur die son. Die tou word oor die tak van die kameeldoringboom gegooi en opgehys, maar nie voordat ek die stortskerm opgeslaan het en seker gemaak het die water is genoeg en nie te warm nie. Die geluide wat uitkom is bevestiging dat Moeksie dit geniet, BAIE geniet. Sy is mal oor ʼn buitestort en wou my lankal oortuig om een by die huis te bou, maar ek skop vas, want dit is nie dieselfde as hier in die bos nie.

Dis toe ons lekker om die kampvuur sit en gesels dat Jonas sy opwagting maak. Hy het die pomp kom afsit want hy sien die watertenk is vol. Ons nooi hom om te sit en vra hy moet ons van die park en die mense vertel. Daar is eers ʼn effe huiwering maar dit kos nie baie aanmoediging om hom lekker aan die praat te kry nie. Die oubaas wat hier werk, hy is nie so oud nie, maar hy slaap in die dag en word net in die nag wakker. As hy in die dag wakker word, dan roep hy my net om die bottel vir hom te bring. Ek dink dadelik terug aan toe ons ingeboek het, die leë drankbottels op die agterstoep en die bokse bottels in die garage langs die kar. Met ʼn laggie kyk en Anton vir mekaar en ons verstaan wat hy sê. Hy sê die oubaas loop ook moeilik. En die natuurbewaring in die kamp? Dis nie natuurbewaring nie, maar ʼn man en vrou wat al lank, baie maande, hier bly en hulle loop saam met die oubaas. Hy sê hy weet, maar hy wil nie baie praat nie, want daar is ander goeters hier. Hulle loop saam met die baas in die nag, hy dink miskien is dit diamante maar hy weet nie, want hy mag nie saamloop nie. Hy sê die ander goeters gaan hier aan maar hy weet nie, want hy sien nie altyd so mooi nie, hy dink net. Hy het gehoor die man wat hier kamp se vrou is dood ʼn ruk gelede, nou kamp hy hier. Ek dink by myself, ek sal dit ook dalk doen as dit met my moes gebeur, om hier te kom kopskoonmaak waar niks en niemand jou pla nie.

My gedagtes gaan op hol, die paadjie wat toegespan is, die man wat ons nie kon ontvang by aankoms nie, die man wat al maande hier “kamp”, wat is hier aan die gang? Laat ek liewer nie bespiegel nie, maar dit klink nie reg nie !!

Nadat Jonas vertrek het, braai ons hoender en wors wat heerlik smaak saam met die pap en sous. Die hemelruim is oop en die sterre te veel as jy opkyk en klein voel as mens, bevoorregte mens, om te doen wat ons doen, reis sonder datums. Ons gesels en my hart kry seer as die meerderheid besluit dat ons more verder moet ry, ek wil nog bly!! Ek gaan nie lekker slaap vanaand nie, maar dit was die besluit, ek dink die hitte vang die mense. Anton en ek sit tot laatnag om die vuur. ‘n Mens mors nie hout nie en gebruik die volle vuur, tot hy uitgebrand is, anders mors jy want jy het te veel hout opgegooi.

  • Ek geniet jou beskrywings en jou vertellings.

    Het jy elke dag geskryf die gebeurtenisse van die dag neergepen, of slegs aantekeninge gemaak. En in watter formaat het jy dit gedoen, op Word of iets dergliks (saam met die foto’s?

  • Dit voel letterlik vir my of ek saam met julle reis. Kan nie wag vir die volgende post nie. Dis hoe Ek eendag wil aftree

  • Te mooi….voel of n mens werklik daar is.mond hang oop. Kan nie wag om verder te lees nie. Dit is die beste medisyne vir die tyd wat ons in is.

  • Gits Hendrik wat n avontuurlike dag! Miskien as jy so n bietjie in die droe rivierloop gaan grawe het kon jy ook dalk n paar klippies gekry het!! Ja dis verbasend Hoe lekker n mens kan stort met net n Klein bietjie water Ek wens ek kon daai sonsondergang meemaak

  • Leave a reply