Dag 7

Dag 7. Saterdag 25 Januarie

Ons is vroeg op om te gaan kyk wat se aktiwiteit by die suiping aan die gang is. Dis maar stil by die suiping en die koffie terug by die kamp smaak lekker. ʼn Ligte windjie bring koeligheid as ons stadig begin skoonmaak en pak. Moeksie wil net gou vir oulaas die stort beleef en ek gooi warm water in wat sy baie geniet.

Ons ry deur die res van die Molopo Natuurreservaat, met die grootpad langs na die Mc Carthy’s Rest grenspos op die Botswana grens. Die pad varieer van ʼn redelike grondpad, breë sandpad tot soms ʼn twee-spoor sandpad. Die veld anderkant die park lyk beter, redelik baie gras en groen ook. Die pad kronkel langs die Moloporivier en die kameeldorings en Kalaharisand bly betowerend.

By een van die hekke wat ons moes oopmaak, was ons net deur toe Anton daar aankom en gou moes wegtrek, toe die gedaante uit die bos sy verskyning maak en langs die bakkie staan. Geklee in sakke en materiaal om hom gedraai, horings wat oral om hom hang, ʼn kopband uit dierevel vol vere gedruk, ʼn sak in die hand vol wie-weet-wat. Sangoma, dink ek by myself. Ons skerts lekker oor die radio oor die ervaring.

Die bene rek onder die boom by Mc Carthy’s Rest gee weer moed vir die pad vorentoe, wat heelwat beter lyk.

By Van Zylsrus gooi ons brandstof in, koop koeldrank, broodrolletjies vir padkos en doen navraag oor die toestand van die pad na Askam. Die vrou by die kafee sê die pad is sleg, baie sleg en sy sal hom definitief nie aanbeveel nie, ten spyte van die feit dat ons 4×4 voertuie ry. Dis ʼn grondpad wat ek baie jare gelede gery het, toe was hy nog redelik. Ons besluit dit is nog vroeg en ons gaan die pad aandurf, ons sal dit stadig vat met die sleepwaentjies, maar dis eers tyd vir eet en ons stop onder die groot peperboom langs die vulstasie. Dis toe ek iets uit die yskas agter in die bakkie moes haal, dat ek die “water” agter in die bakkie onder een van die kratte sien. Dit vat nie lank om die lekkasie op te spoor nie, ʼn kartonhouer wyn van Moeksie wat deurgeskaaf het en lek. Ek moet gou maak, want hierdie voggies is kosbaar en gooi die oorblywende wyn in ʼn leë koeldrankbottel, nog genoeg vir een of twee aande se kuier, want Moeksie vat nie rêrig fles nie, twee glase is genoeg op ʼn aand vir haar.

Ons vat die pad na ete en ʼn ent weg besef ek net weer dat jy versigtige oordeel aan die dag moet lê as jy jou ore uitleen aan wat ander sê, want sleg, mooi, gerieflik en al die ander woorde, het verskillende betekenis vir verskillende mense. Die pad is OK met hier en daar ʼn stof-gat wat jou laat wip, maar ons vorder redelik vinnig al langs die Kurumanrivier tot by Askam.

Die radio’s was redelik besig op die pad daarheen. Elke keer as ons aasvoëls of net ‘n mooi boom sien, bassuin ons dit oor die radio uit. Jy weet mos hoe dit gaan as die pad lank raak, dan praat jy maar sommer net snert met die diere, oor die radio.

By Askam doen ons navraag en besluit om by Molopo Lodge, sowat 15 km op die pad na Kgalagadi, te gaan kamp. Die plek verwelkom ons soos ʼn oase na die dorre 374 km grondpad wat ons vandag beleef het.

Die swembad word deur niemand se oog gemis nie en ons kan nie vinnig genoeg opslaan om die water te gaan geniet nie. Iewers langs die pad, ek weet nie presies wanneer en waar nie, het ons besluit om ʼn paar dae in die Kgalagadi te gaan spandeer. Ons betaal vir net een aand hier, want ons is nog op pad. Ons soek die beste skadukolle en maak die waentjies staan. Dit was nie so maklik nie, aangesien die waentjies agteruit ingestoot moet word in die ongelyke plekke wat ons gekies het. Die staanplekke is egter gerieflik met ʼn betonblad wat met ʼn stellasie van houtlatte bedek word, waar jou opwas en kragpunt is, elke staanplek boonop met sy eie ablusie.

Dis die eerste keer dat ons so buite seisoen gaan vakansie hou want sien, Moeksie was onderwyseres haar lewe lank en dit het ons gedwing om saam met baie ander, DUUR vakansie te gaan hou, binne seisoen. Met die verlaagde buiteseisoen tariewe EN die korting vir pensioenarisse, kan ons dit maklik bekostig om die luukser staanplekke te gebruik, ʼn lekker voordeel.

Na die opslaan en die gebruiklike versnapering om die liggaam af te koel, is ons swembad toe, want die hitte is erg. Die swembad is nie so skoon soos myne nie, maar die water bied dieselfde lafenis. Dis ʼn netjiese oord en ek het al menigte male die naam gehoor by kampers wat vra en praat oor slaapplek in die wêreld. Ons bly so lank in die water, dat my vel soos ”oumens” begin voel en lyk, goed gerimpeld.

Vanaand is steak aand, en wat kan nou beter wees as ʼn lekker knoffelbroodjie daarmee saam. Vanaand se vuur is gemaak van die Bray hout, nie baie nie, want dis kosbaar. Ons maak dit ʼn redelike vroeë aand, want ons weet nie tot waar ons more gaan ry nie, Twee Rivieren, Rooiputs, Mata Mata of Nosob, ons sal eers by die park se ingang besluit waarheen en vir hoe lank.

  • Leave a reply