Dag 1

VOORWOORD

Ek was al baie in Namibië, Suide, Sentraal en Noorde, tot by Epupa watervalle. Op my bucket list was nog altyd die HART van Kaokoland, tot in die Marienfluss. Al baie daaroor gelees en met mense gesels wat al daar was, ek MOET plan maak.

Dis Oktober 2015 en ons, ek & Moeksie en vriende van ons, Barend & Elsa Meintjes, hou ‘n beplannings vakansie in Ballito. Barend en Elsa is gesoute kampers en het ook al ons land en buurlande deurkruis. Barend is die een wat my oortuig het ons MOET Kaokoland toe, hy was ook nog nie daar nie.

Ek het my Flexi punte gebruik en bly luuks in die La Montagne selfsorg woonstelle. Elkeen gewapen met tydskrifte en artikels oor die dele wat ons beplan om te besoek, begin die toerplan lewe kry.

Na die week van beplanning onderneem elkeen om nog soveel moontlik inligting te kry oor die volgende maande om die toerplan verder vleis te gee. Die vertrekdatum is vas, vertrek 15 Julie 2016 en gaan vir 25 dae toer. Ons het op ‘n stadium beplan om na die trip deur Namibië, sommer deur te toer tot in die Luwa Plains National Park in Zambië. Ons besluit daarteen en sal dit ‘n aparte toer maak, oor ‘n paar jaar.

Het al baie mense op toere gevat en gewoonlik is die beplanning net so lekker as die toer self, veral as jy maande vooraf met die beplanning begin. Die opgewondenheid groei elke keer as jy nuwe inligting op die toerplan aanbring en met almal deel.

Dis 14 Julie 2016. Ons is gedurig op die foon, maak net seker alles wat nodig is, is gepak sonder om onnodig te dupliseer. Ons kan baie items deel en hoef, tussen ons, net een van sekere items saam te vat. Ons sleep niks en gaan elkeen net met sy eie tent toer, so spasie is redelik min as alles in die voertuig moet pas.

Dag 1. Vrydag 15 Julie 2016

Ons staan 04:00 die oggend op, dis n laaaang pad vandag. Ons het gereël dat ons mekaar 04:30 by die Sasol garage op die kruising van Hendrik Potgieter en die N14 (Krugersdorp – PTA snelweg) ontmoet. Ek met my Toyoata Hilux 4L V6 4×4 outomaties en Barend met sy Toyota Hilux 4×4 3L D-4D handrat.

Moeksie en Hollies
Barend en Elsa

Die 1 112 km na Zeldas in Namibië is al die pad teerpad, die Trans-Kalaharie teerpad, deur Botswana. Ons moet vandag hierdie stretch doen, want ons moet more, Saterdag, ons proviant aankoop in Windhoek. Die eerste verskyning van ‘n kameelperd langs ‘n plaasheining, naby Mafeking, gee ons ‘n groot opgewonde gevoel dat ons die lang verwagte vakansie met baie beplanning, sy eerste verskyning maak. 

Ons is n paar minute voor nege by die Ramatlabama Grenspos. Daar is min mense en word ons dadelik gehelp. Die paspoorte, voertuig dokumente en opgawe van elektroniese items was alles in orde. Die volledige lys van al die verklaarbare items wat ons voor die tyd gemaak het, versnel die proses.  Hulle tik elke item, serial nommer en bedrag wat die item kos, in die sisteem. Botswana Unified Revenue Service se Road fund (return) was P50, MV versekering P50 en Road Permit P90 = P190.

Dis raadsaam om die return opsie te koop, want dit maak die deurgaan net makliker met jou terugkeer. Jy bataal nou reeds vir die uitkom slag deur die grens met die return opsie. Die dame wat ons gehelp het, was baie vriendelik en behulpsaam en laat jou sommer welkom voel! Ons het geen vleis of groente oor die grens geneem nie, want die kans dat dit gekonfiskeer kan word, is nie die risiko werd nie. Ons beplan om die volgende oggend ons aankope in Windhoek te doen. Mens  wil nie onnodige problem vir jouself maak nie. Ons het wel kos voorberei en gevries, wat jy wel mag invat.

Die pad by Kanye verby is in goeie toestand en dis verblydend om te sien hoeveel moeite Botswana doen om hulle paaie in stand te hou. Die wêreld is baie droog en ons wonder waarvan lewe die diere. Die baie water – belangrik om baie vloeistof in te neem – maak dat jy gereeld moet stop. Dorpe is ver uitmekaar, so die klippe en bossies is al keuse en glad nie te sleg nie. As jy n kamper is wat baie toer, dan is dit maar die manier. Dis eintlik wonderlik om op die natuurlike manier die dinge te doen!! Gee ‘n gevoel van vryheid.

Ons volgende stop is Kang, die Engen Garage, waar ons brandstof vol maak. Ons het genoeg Pula, Botswana se geldeenheid, vooraf by die bank gereël. Genoeg vir die grensposte, brandstof en ‘n bietjie ekstra. Betaling met die plaaslike geldeenheid werk makliker in Botswana, alhoewel sommige pompe wel VISA kaarte neem, as hulle aanlyn is. Rand word aanvaar, maar nie teen ‘n regverdige wissselkoers nie en jou kleingeld is Pula.

Ons geniet die Trans-Kalahari teerpad en klets lekker oor die tweerigting radio. Die pad raak sommer korter as ons gereeld iets uitwys of sommer net skerts. Dis so 20km voor Ghanzi waar ons Wes draai na die Buitepos grenspos. Ons tydsberekning is puik en ons is net na vyf deur die grenspos Namibië binne. Die koste is N$259. Namibië se geldeenheid is Namibiese Dollar en gelyk aan ons Rand.

Dis net voor ses as ons by Zelda Game & Guestfarm aankom. Dis n BAIE bekende oorslaap plek vir mense wat deur Botswana na Namibië toer op die Trans-Kalahari roete. Ons was al self ‘n paar keer hier. Barend en Elsa is aangenaam verras met die skoon kampplek. Kragproppe en waterkrane op elke staanplek. Nadat ons die tente opgeslaan het, stap ons deur die kamp.

Warm stort en skoon ablusie met ‘n prop vir jou haardroër was ‘n ekstra pluspunt en ek sal hierdie oornagplek beslis aanbeveel. Daar is ‘n restaurant en kroeg ook. As jy tyd het, kan jy ook na hulle Cheetah gaan kyk wat rustig in die kamp langsaan loop en jou dophou. 

Ons reëling vooraf was dat ons op kosbeurte gaan werk, elke alternatiewe dag aandete en die volgende oggend se ontbyt, of liewer brunch. Vroegoggende is dit gewoonlik elkeen se eie beskuit of pap en later die brunch. Vannaand is ons beurt en ons eet ‘n heerlike bord Oxtail wat Moeksie by die huis voorberei het en net moes warm maak.  Wat ‘n fees!! Ons slaap daardie nag lekker, alhoewel dit baie koud was.

Skielik gee jy ‘n vinnige gedagte aan die elektriese kombers by die huis, maar net so skielik verdwyn daardie gedagte, want nou is jy in ‘n land van vrede en kan jy nie wag op die volgende ontdekking nie.

  • Leave a reply