Dag 2

Dag 2. Maandag 20 Januarie

Ons is nie oorhaastig nie en vat die pad nadat ons ontbyt gemaak het. Die oorblywende braaivleis van die vorige aand smaak lekker saam met die bacon en eiers. Die totale afstand vir die dag is 121 km. Ons het besluit om met die grondpad aan te ry tot by die Groot Marico Oog om te gaan kyk na die gat waaroor ons al baie in tydskrifte gelees het. Ons stop by die plaashuis waar ons die besoekersfooi betaal en ry tot by die Oog.

Dis ʼn netjiese oord en dit vat my  terug na my kinderdae toe ons stilhou in die koelte van een van die groot Wilgebome op groen gras. Dit is net soos die ou grotes wat ek onthou langs die Hartsrivier, waar ons geswem en kleilat gegooi het as kinders.

Ons staan op die jetty en die skoon water roep hard waar jy meters na benede die visse sien swem. Voor ons weet wat gebeur is Anton se broek uit en is hy in die water met sy “speedo”.

Anton was nog besig om te praat oor hoe lekker dit sou gewees het as ons paddapote en duikbrille gehad het. Ek is terug bakkie toe en gou weer terug op die dek, swembroek aan met paddapote en duikbrille in die hand. Anton en ek verken die oog se water en voel later skuldig toe Magda en Moeksie sukkel om ons uit die water te kry. Soos ons baie met die kinders gesukkel het toe hulle klein was. Nog net gou een duik ma!   

Dit was regtig verfrissend en lekker om in die skoon water te kon speel. Op ons pad uit, stop ons eers weer by die plaashuis en kry elkeen ʼn bottel Oogwater vir die pad.

Ons vat die pad deur Zeerust na Botsalano. Op Zeerust doen ons ʼn paar aankope, genoeg vir so vier dae, want ons het nog nie besluit hoe lank ons gaan vertoef nie. Verder gery, vat die GPS ons eers na ʼn hek wat gesluit is en ons besef dis die verkeerde hek. ʼn Paar minute later stop ons by die hoofhek. Plaas was dit meer minute, want ek raak toe haastig en ry ʼn bietjie vinnig op die grondpad met baie los klippe. ʼn Klip het die waentjie se neus getref en teen die kappie se venster geland. Gelukkig is dit shatter proof en is die duisende blokkies glas nog bymekaar en die ruit nie uit nie.

 

Ons vra hoeveel kampplekke daar is en word meegedeel daar is ʼn paar boskampe. Hoe lank gaan julle bly? Wil die man weet. Nie seker nie, maar ons betaal vir twee aande en sal weer kom betaal as ons langer wil bly. Dis ʼn klein park, ongeveer 5 800 ha naby die Ramatlabama grenspos op die Botswana grens. Ons vra watter kampplek aanbeveel sal word, bedoelende die een met lekker skadu bome. Ons kampplek is die een in die verre Ooste kant van die park.

By die kampplek aangekom, klim ons almal eers uit om te verken en te besluit of dit die een is of nie. Daar is geen boom in sig nie, net ʼn lae sink afdak wat soos ʼn oond bak.

Die eenparige besluit dwing ons om die ander kampplekke te gaan verken. Einde ten laaste land ons op by die beste een van al die kampplekke in Botsolano, onder die doringbome wat soos ʼn kamp toegespan is met ʼn rietheining.

Dis nog vroegmiddag en lekker warm. Nadat die tente opgeslaan is, verken ons die park en sien genoeg wild en voëls, eintlik verbasend baie en verskillende spesies.

Terug by die kamp verken ons die omgewing te voet en ons loop maar versigtig (hier is renosters) tot by die uitkykpunt by die gronddam. Ou Vlakkie is oudergewoonte in die modder besig en ʼn paar blesbokke en springbokke wei om die water. Die elande en rooihartbeeste kom ook stadig nader. Twee renosters aan die oorkant van die dam laat ons ekstra versigtig terugloop kamp toe. Terwyl die son sak, soos net hier beleef kan word, steek ons die vuur aan by die kamp en bespreek die gebeurtenisse tot nou toe. Twee onvergeetlike dae !!

Anton trek die Fortuner voor die opening in die rietheining waar jy inry, net in geval ʼn renoster te nuuskierig raak in die nag.

Later die aand wonder ek hoekom braaivleis so anders proe hier onder die sterrehemel. Is dit dalk omdat die melkweg soos ʼn helder wit wolk oor die hemelruim strek en jy al die sterre almal hier bymekaar sien? Dalk die stilte van die bos wat jou smaakkliere aantas? Of is dit die geselskap van vriende? Miskien die Jakkals se getjank in die verte wat die vleis anders maak? Moontlik is dit maar net lekker vleis!

  • Aarde Hollies! Daai dinge wat julle beleef het sover is presies waarvan ek hou!! Wat het toe van jou versplinterde ruit geword?

  • Leave a reply