Dag 3

Sondag 17 Julie 2016

Ons staan net voor sewe op, die 375 km vir die dag is nie te kwaai nie. Na koffie slaan ons af en ry net na agt by die hek uit, Noorde toe. Vanaand slaap ons in Kamanjab.

Die twee Toyota’s vat ons deur Outjo, Otjikondo na Kamanjab. Die veld sê vir jou dis droog, maar die radios is nie stil met al die voëls wat deur Barend en Elsa uitgewys word nie. Het julle daai pragtige Short-Toed Rock Thrush gesien, kom dit oor die radio? Kort-kort sien ons donkies, beeste wat lekker vet is en natuurlik baie bokke.  Hierdie was ‘n gesig wat ons deurgaans op die toer bewus gemaak het van hoe na aan die aarde hierdie mense leef.

Ons maak brandstof vol op Outjo en koop lekker droëwors en biltong by die slaghuis. Die vleis lyk lekker en ‘n paar stukke val ook op die skaal. Ek en Moeksie ken hierdie slaghuis, het al voorheen hier aankope gedoen. Ons vat die pad en ry rustig, het baie tyd. Ons stop iewers langs die pad en geniet eers ons padkos.

Ons kom net voor vieruur by Oppi Koppi Ruskamp in Kamanjab aan. Dis warm!!  Ons boek in en die tente word op ‘n gelyk stuk grond, tussen klippe en droë bossies opgeslaan, bossies wat jare laas ‘n druppel water gekry het. Tog, die staanplekke is netjies. Elkeen het ‘n opwasplek, afdak met ‘n braaiplek en sitplekke waar jy lekker kan sit terwyl jy kuier-kuier die dag se gebeure herroep. Die ablusie is skoon met lekker warm water.

Nadat ons kamp gemaak het, gaan ek, Moeksie en Barend na die kroeg by ontvangs. Elsa bly by die kamp, sê sy wil net rustig wees en die natuur geniet. Dis altyd lekker om die locals te ontmoet en geen beter plek, as die lokale kuierplek, om al die stories te hoor nie. Daar is ook Wi-Fi en ons lees en stuur boodskappe van ons vordering.

Ons ontmoet vir Marthinus Alberts wat ook kom inloer het. Hy is een van die bekende locals en sy werk behels om leeus wat uitgebreek het uit die Khowarib Schlucht bewaringsgebied op te spoor en terug in ‘n reservaat te kry, voordat hulle deur die lokale beesboere geskiet of vergiftig word. Hy vertel van sy oupa wat ‘n Dorslandtrekker was en ons kan nie ophou luister na al sy stories nie.

Hy ken die area goed, BAIE goed en veral die roete na Khowarib wat ons more gaan ry. Ek gaan haal dadelik my kaart en maak notas van sy aanbevelings. Hy sê ons moet in die rivierbedding bly net na die beheerpunt op die Rooilyn, die pad aan die anderkant van die rivierloop is nag, BAIE stof! Hierdie rivierbeddingpad na Khowarib het toe uitgedraai om een van die juwele van die vakansie te wees!

Ons is terug kamp toe en kan nie uitgepraat raak oor die “engel” wat oor ons pad gekom het nie. Sou verseker nie op eie inligting die regte pad gevat het nie, sou wel by Khowarib uitkom, maar dit sou nie dieselfde gewees het nie.

Die vuur word aangesteek terwyl daar lekker gesels word terwyl ek die vleis braai. Ons het ‘n mooi uitsig van hier bo van Oppi Koppi kampplek af. Jy kan die opgewondenheid in almal se stemme hoor as ons praat van die moontlikheid dat ons dalk leeus, olifante en baie ander wildsoorte op more se pad kan raakloop, aldus Marthinus se vertellings.

Na ete, as die ander gaan inkruip, sit ek nog ‘n tydjie buite en probeer die opgewondenheid verwerk. More se roete is nuut vir my, was al by Khowarib lodge, maar het van die westekant, Sesfontein kant, daarheen gery en gekamp. Sien BAIE uit na more se trip!

  • Leave a reply