Dag 4

Maandag 18 Julie 2016

Die roete van vandag bring groot opgewondenheid, want dit gaan ‘n lekker 4×4 ondervinding wees. Die totale afstand is net 157 km, maar die roete is onbekend. Het die roete al by die huis op die GPS gelaai, maar met die koördinate wat Marthinus met ons gedeel het, behoort dit net makliker te gaan.

Ons is vroeg opgepak en vat die teerpad Noord-Wes in die rigting van die Suidelike deel van die Etosha Nasionale park. Na ongeveer 53 km word daar links afgedraai op die Kamdescha pad, n redelike sanderige grondpad wat later verander in ‘n tweespoor paadjie. Ons kom na 17 km op die sandpad by die Rooilyn en die nodige deursoekings word deur die beamptes gedoen. Dis ‘n veeartseny check point wat seker maak, rou vleis en ander diereprodukte word nie vervoer nie, bek-en-klouseer beheerpunt.

Na ‘n verdere 3 km, redelik stof met tye, sien ons waar die pad afdraai rivier se kant toe. Dit is die Ombonde rivier wat hier loop. Ons stop eers en blaas die bande af na 1.5kPa. Nou gaan ons lekker explore !! Barend sê ek moet voor vat, ek het die GPS koördinate van Marthinus op my GPS ingetik. Die rivierbedding is dik sand en die radios vertel dit word baie geniet. Dis ‘n deel van die toer waarna ons almal baie uitgesien het.

Die groot bome oral in en op die rivierbedding laat ons baie oor die radios klets en voel jy, jy wil sommer net hier onder een van hulle stop en kamp opslaan. By tye is die rivierbedding diep en jy besef dit eers as jy die hoë walle hier langs jou sien. Die eerste gedeelte, sowat 40km, ry ons deur Die Beesvlakte op die Khowarib 4×4 roete en sien heelwat gemsbokke en springbokke.

Ons vat dit redelik rustig en veral Barend en Elsa stop gereeld om fotos te neem. Wat ons hier beleef, moet verewig word op kamera. Ou kees sit ewe geduldig op sy uitkykpunt en wonder, wie is hierdie besoekers wat hier verbygaan?

Soos ons vorder, kan ons nie genoeg uitgepraat raak oor die dankbaarheid vir die inligting wat Marthinus met ons gedeel het nie. Met die beplanning het ons gesê die roete loop langs die rivierbedding en die Tracks 4 Africa kaart het oral tekens gewys van BAIE stof, nie stof nie, BAIE BAIE stof !! Dan, skielik …….aan ons linkerkant, staan 2 olifante en vreet rustig aan takke wat net so vol stof is as hulleself. Vir ons was dit ‘n “whow” oomblik!  Die waardering vir die voorreg om deur die rivierbedding te kan ry styg die hoogte in.

Dis toe die groot bome hier voor ons in die rivierbedding staan, dat ons eers moet stop en inneem wat ons ervaar. Ook ‘n goeie tyd om die kos wat gisteraand voorberei is, te geniet. Terwyl ons uitklim is dit eers stil as elkeen in ‘n rigting stap en net staan en staar. Dan word jy bewus van die mooiste natuur wat jou omvou en jy wonder: Hoeveel het al voor jou en gaan na jou, ook hier vir n wyle op n boomstomp kom sit en net die skoonheid inneem en dit diep binne jou bêre.

Onder protes ry ons verder, wil sommer net hier bly, maar hou links in die Hoarib rivierbedding. Hierdie ongeveer 22km staan ook bekend as die Khowarib Schlucht. 

Die rivierbedding is heelwat smaller en die plantegroei verander ook. Die berge wat ook sigbaar raak, sê vir my ons gaan iewers uit die rivierbedding moet uit en die pad langs die rivier soek. Ou kees hier op sy kluit wil dit beaam.

Op ‘n stadium begin die rivierbedding nat word. Ek en Barend stop, klim die rivierbedding uit, op soek na die pad. Ons besluit om ‘n entjie terug te ry waar ons redelik maklik uit die rivierbedding kan kom. Ons stop by ‘n verlate kampplek waar ons eers wiele pomp. Hier is interessante klippe gestapel om van die bome en ons wonder wat die storie hieragter is.

Die ongeveer 8 km van hier af tot by ons kampplek is nie sand nie, maar redelik hard met die BAIE, ek bedoel BAIE stof. Die stof lê soos water in ‘n poel en verswelg jou as jy daardeur ry. In my gedagtes sê ek net weer dankie vir die inligting van Marthinus, want ek sou nie hierdie stof vir die vol roete kon hanteer nie.

Die son is nog hoog, net na vieruur, as ons by die Khowarib Gemeenskapskamp aankom. Elke staanplek het sy eie ablusie, ‘n netjiese struktuur gebou van latte met ‘n stort en toilet op ‘n sementblad. Die uitsig terwyl jy stort is onbeskryflik, ‘n gevoel van vryheid ! Ons boek in en betaal vir een nag voor ons kamp opslaan.

Daar is ook ‘n netjiese kuierplek met latte gebou en ek en moeksie slaan ons tent onder die afdak op. Die vroue wat op diens is by die terrein, wil weet hoe laat ons warm water wil hê vir die storte, sodat hulle die donkies betyds kan kom stook. Daarna gaan verken ons die omgewing en dis wanneer Elsa so op die walle van die rivierbedding sit en net staar, dat ek weet sy het die dag geniet.

Daar is nog genoeg son om van die stof binne in die voertuie te probeer uitkry. Nie dat dit ‘n groot verskil gaan maak nie, want die res van die toer is grondpad, maar dit troos darem. Die son wat sy kop agter die berge begin wegsteek is die teken dat die vuur aangesteek kan word. 

Ons stort lekker warm en kuier nie te laat nie. More is weer ‘n lang ent pad tot bo by die Kunene rivier.

Ablusie met stort en toilet
Uitsig terwyl jy stort

Wat ‘n ongelooflike dag, al het ons nie die leeus gesien nie, seker een van die hoogtepunte van ons toer!

Leave a reply