Dag 1

VOORWOORD

Ek wou net ry om kop-skoon-te-maak nadat ek en Moeksie (dis die kinders wat haar die naam gegee het) op pensioen gegaan het. Ek het September 2013 klaargemaak en Moeksie Desember.

Na 82 dae en 12 654km is daar nog baie dinge in my kop oor, dalk meer as voor ons om die grense van Suid Afrika getoer het want ons toer nog baie, ek bedoel BAIE !! Om die waarheid te sê, ons is nou al langer as ses jaar permanent op die pad.

Dis Januarie 2014. Die laaste paar items word aangekoop voor ons vertrek. Ek is ʼn lysie-mens en mense het al gesê my lysies is “te” volledig, maar dis nou maar ek, wil seker maak alles wat nodig mag wees is ingepak. Die nagaanlys is uitgedruk en meeste items se boksies is ge-tick. Enkele items op die “aankooplys” en “doenlys” moet nog aandag kry. 

Die telefoon lui, dis my vriend (en oud kollega vir 29 jaar) Anton en Magda uit die Kaap. Wil net hoor of al die dinge nog volgens PLAN verloop, want hulle vertrek die 15de Januarie uit die Kaap. Hulle het besluit om op te ry en vanaf ons huis in Roodepoort saam te reis, eerder as wat ons hulle iewers langs die roete ontmoet. Hulle vat dit stadig en arriveer Saterdag 18 Januarie.

Plan? Wat se plan? Die enigste plan is, ons vertrek Sondag die 19de Januarie, ry antikloksgewys om die land en begin by Groot Marico. Waar gaan ons oorslaap? Hoe lank gaan die reis vat? Waar gaan ons aankope doen? Hoe vêr gaan ons elke dag ry? Hoe lank gaan ons op ʼn plek bly? GEEN idée nie en tyd sal leer !! Ek dink terug aan die uitdrukking op mense se gesigte as ek hulle van ons PLAN vertel, gedink ek is van lotjie getik. Hoe kan mens nie weet waar jy gaan slaap en nie vooraf plek bespreek nie?? Hoe kan jy nie weet hoe lank dit gaan neem nie??  Is jy ernstig ??  Maar wat van X,Y,Z ??  My antwoord elke keer:  Ek weet nie, sal daaroor dink as die tyd kom.

Dis Saterdag aand en die vuur brand lekker. Dis hoe dit hier by ons gaan, ons braai gereeld, elke Woensdag, Vrydag, Saterdag en Sondag (Sondae is dit in die Weber). Dit gebeur gereeld dat daar per-ongeluk ʼn vuurtjie aangesteek word op ʼn Maandag of Donderdag ook.  Ernstig, ek hou van braai !!! Die vier van ons sit in die lapa en gesels oor ons PLAN. Daar is ʼn opgewondenheid wat mens nie kan beskryf nie, die tyd het gekom! Ek besluit om ons eerste aand se slaapplek liewer te bespreek. More is Sondag en ek het op die platteland grootgeword. Dit gebeur maklik dat jy Sondag middag iewers opdaag net om voor dooiemansdeur te land. As die plaasmense gaan kuier, weet jy nooit hoe laat hulle gaan terug wees nie. Ek bel en bevestig ons slaapplek in ʼn huisie op ʼn plaas buite Groot Marico op die Maricorivier.

Anton help my na ete om my laaste goedjies in die bakkie en waentjie te laai en ʼn radio in sy voertuig te installeer. My DROOM word waar en as ek kon, sou ek nou dadelik in die bakkie geklim en begin ry het, kan nie nog 9 ure wag nie.

Dag 1. Sondag 19 Januarie

Na koffie en beskuit laai ons die laaste paar goedjies en ons padkos in. Ons ry gou Makro toe, want Anton het besluit hy gaan ʼn nuwe kampyskas koop. Die gas een wat hy het werk nie na wense nie en hy wil nie onnodig sukkel nie. Hy sou maande later uitvind dat die gasyskas heeltemal goed werk, met genoegsame ventilasie.

Nou is daar nie meer omdraai kans nie, ons gaan ry !!!

Hollies & Moeksie
Anton & Magda

Anton en Magda in hulle Toyota Fortuner 3 D-4D met ʼn Venter Off Roader waentjie en ek en Moeksie in ons Toyota Hilux 4L V6 met ons Venter Bush Baby. Ons vat die pad en is gedurig op die radio om aan mekaar te vertel hoe ongelooflik dit is dat hierdie dag uiteindelik aangebreek het. Wat ʼn GROOT voorreg en stuk genade dat ons dit kan doen, ʼn droom te kan leef, plekke te ontdek …. weet nog nie wat alles nie, maar ons sien uit !!. Anton en Magda het al saam met ons gaan toer in Afrika. Hy jaag my nie aan as ons 100km/uur ry nie.  Vandag se afstand is net 197 km en al wat ons het is tyd, BAIE tyd.

Op Koster ry ons eers deur die skool se gronde. Dis waar Magda op skool was. Jy hoor die verlange in haar stem as sy oor die radio vertel van daardie dae. Dis lekker om haar stories te hoor en ons leer mekaar nog beter ken.

Dis net na 2 toe ons deur Groot Marico ry, op pad na Tino Erasmus se gasteplaas, sowat 15 km buite die dorp. Daar is ʼn paar netjiese gastehuisies langs die rivier gebou. Ons is aangenaam verras toe ons die King Fisher huisie sien. Dis regtig netjies en op die rivier. Ons het besluit om nie die aand te kamp nie en eerder LUUKS te gaan en in ʼn huisie te slaap. Soos ek voorspel het, het die mense gaan kuier en sal eers later daar wees, maar hulle het gereël dat die huisie nie gesluit is nie. Ons pak net die nodigste af en koppel die waentjies aan krag, die yskaste en vrieskaste moet nog lank koud bly en ons weet nie of ons altyd gaan krag hê nie. (Dis ʼn reël met my: Jy maak brandstof en water vol, al het jy nog genoeg en jy spaar jou battery se krag.)

Die eerste koel versnappering was skaars in die keel af toe Anet en Tino, die eienaars, kom groet.

Ons word welkom geheet en gevra of ons binnebande gekry het. Ek en Anton kyk mekaar snaaks aan. Het iemand ʼn band gebars? Die rivier loop en hulle sê ons moet binnebande by die volgende huisie gaan haal en op die rivier afdryf tot in die dam, sowat 800m verder. Ons is soos jong kinders en voor jy mes kon sê, het ons al vier ons swemklere aan en die bande is op die water. Die bande op die water kry was een ding, maar om vir Magda en Moeksie IN die bande OP die water te kry was ʼn lagwekkende affêre.

Ek dink terug aan my kinderdae.. n gros jong seuns op ʼn trekker agterwiel se binneband op die Hartsrivier wat sy walle oorstroom. So het ons white water rafting ontdek voordat dit die naam gekry het.

Terug by ons huisie sit ons op die dek bo die rivier en besin hoe lank ons gaan vertoef.  Die konsensus kom redelik vinnig, net een aand want die pad is nog lank. ʼn Donderstorm in die omgewing het die krag al vroegaand uitgeslaan. Ons maak ʼn lekker vuur en sit om die tafel met ʼn olielamp wat lig en ʼn lekker atmosfeer verskaf. Ons besluit om van hier af te ry na Botsalano Wildsreservaat, wat deel uitmaak van Noord-Wes Parke. In my eie gedagtes dink ek: As dit die eerste dag was, met soveel pret en opwinding, waar gaan dit eindig??

  • Ek het nie woorde nie. Net sulke klein traantjies in my oë. Dit is my en Erna se grooootste droom nog eendag. Dalk binnekort. Tyd sal praat.

  • That’s a wonderful dream that’s come true.You both are very privileged to be able to do it.Enjoy every day and we would like to follow your tour,as what we have read,I think a lot of people would love to do.Keep save, look after your selves,bless you both,Norman

  • Wow dit is briljant verby …..geniet die Lewe voluit maak hope pret ……geniet die natuur …elke more is nuut gratis uit ons Hemelse Vader se hand …..julle is n wonderlike voorbeeld vir baie xxx

  • Dis ‘n wonderlike eevaring Hennie en Glynis. Geniet mekaar en geniet die natuur? Liefdegroete, Nettie

  • Hi Hendrik aangenaam verras dat jy so beskrywend kan skryf Gewoonlik skryf mans mos taamlik kripties! Geniet elke oomblik saam met julle Baie dankie dat ons die avontuur ook kan beleef!

  • Sjoe Hollies, dankie dat julle hierdie besondere toer met ons deel & in soveel detail. Om die akteurs ook nog te ken is ‘n voorreg en ‘n bonus. Ons sien uit na die res van die reis. Soveel interessanter onder die “lockdown” omstandighede.

  • Dankie vir die deel van jul kosbaarste oomblikke…n bewys dat dit waarvan ons en so baie ander, tans net droom KAN waar word, met: geloof, hoop en liefde…

  • Ek droom en hunker al van skooldae af na ‘n soortgelyke toer rondom Suid-Afrika. Ek geniet elke oomblik van jul toerverslag. Dankie.

  • Leave a reply