Dag 5

Dinsdag 19 Julie 2016

Ons vertrek vroegoggend en ry verby Khowarib Lodge, waar ek en Moeksie al verskeie kere gekamp het. Dis nie baie ver van die Khowarib gemeenskapskamp waar ons oornag het nie. Die totale afstand van hier af tot by ons oornagplek, Kunene River Lodge, is 369 km. By die grootpad draai ons regs in die rigting van Sesfontein en na ongeveer 20 km op die mooi grondpad, net voor Sesfontein, draai ons regs op die C43. Van hier af is dit 136 km tot op Opuwo. Ek het al die pad verskeie kere gery, ‘n redelike goeie grondpad.

Daar is redelik baie beeste en bokke op die pad, so ons vat dit maar rustig. Die landskap is ongelooflik mooi en dit wissel van woestyn – klip – stofstorms – droë landskap!! 

Die stukkie teerpad teen die bergpas uit maak jou bly, veral as dit jou eerste keer hier is. Jy dink net die grondpad is klaar, tot jy anderkant die berg kom en die 2 km teer raak weer grond.

Ons stop by die bekende Boabab bend, sowat 40km voor Opuwo en neem eers fotos van die ou reuse.

Ons vorder goed en is net voor 11:30 in Opuwo. Met die aankoms in die dorp, kan jy nie behoorlik die huise en geboue sien nie. Die wind waai sterk en daar is ‘n hewige stofstorm wat die sigbaarheid beperk. By die garage waar ons brandstof gaan volmaak, is dit ‘n miernes van bedrywighede en ons staan in ‘n tou vir volmaak.

Die Himba en Damara vroue raak irriterend as hulle die handgemaakte armbande, vrugte en ander items aan jou wil verkoop. Het al geleer, jy maak nie jou venster oop nie en maak ook nie oogkontak nie. Kry hulle eintlik jammer, moet ook ‘n bestaan maak, maar ja. Net so baie vrouens wat daar rondloop, net so baie voertuie is daar wat probeer brandstof ingooi en ons moet omtrent ons draai agter en voor ken om nie teen ‘n ander voertuig te stamp nie. Dit is opmerklik hoe vriendelik en verdraagsaam almal is wat wil brandsof ingooi!!

Dit gaan stadig, want Barend se brandstoftenk het ‘n air lock wat hulle net nie kan regkry nie en dit neem lank om altwee die tenks vol te maak. Einde ten laaste vat ons weer die pad, dis nog net 56 km grondpad voor ons by die C25 teerpad na Ruacana aansluit.

Mense boer met beeste en bokke. Ons sien ook weer ‘n paar donkies, beeste, Himba- en Damara vrouens langs die pad. Die vroue is tradisioneel aangetrek is vir foto’s @ N$20 – N$50 ’n foto.  Elsa vertel later dat haar kamera nie die bekende klik geluid maak nie en kon sy ‘n ma en kind mooi natuurlik afneem, sonder dat hulle geweet het. ‘n Mens moet egter skryfbehoeftes en mieliemeel, ens. saamneem om uit te deel aan al hierdie kindertjies, want waar jy ookal ry, kom hulle aangehardloop met uitgestrekte handjies en honger ogies. Verkieslik nie koekies en lekkers nie – daar is nie tandartse nie!

Die teerpad is mooi en ons vorder vinning tot in Ruacana, waar ons weer brandstof volmaak. Dit is die laaste brandstof geleentheid vir amper 2 weke tot ons weer terug in Khowarib sal wees. Ons het elkeen ook ‘n Jerrykan wat volgemaak word vir ekstra brandstof. Dis jammer ons tyd is beperk, sou graag by die Ruacana dam en waterval ook ‘n draai wou maak. Dalk ‘n volgende keer.

Van hier af is dit 68 km tot by ons volgende bestemming, Kunene River Lodge, net voor Swartbooisdrif. Die pad van hier af raak uitdagend, ‘n tweespoor paadjie, baie klipperig en dele sand, al langs die Kunenerivier. Barend sien ‘n Himba vrou in tradisionele drag langs die pad met haar man, neem hy aan. Hy klim uit en maak hom gereed om ernstig te onderhandel om ‘n foto te neem en groet vriendelik met “Good morning”. Die man stop hom onmiddellik met ‘n: “Net Afrikaans”. So moes ons meer as 2000km ry om net in Afrikaans te mag praat, terwyl die taal in ons eie land nie orals welkom is nie!

Die pad van Ruacana na Epupa watervalle is in totaal 170 km en kan jou maklik twee dae neem om te ry, veral as dit die seisoen baie gereën het. Dit staan bekend as die Kunene 4×4 roete. Het al geleer, hier praat jy van tyd wat dit gaan neem om van punt A na punt B te ry, dit het NIKS met die kilometers te doen nie. Die toestand van die pad en jou voertuig bepaal die tyd! Hierdie paadjie was al lankal op my bucket list.

Ons word net voor 16:00 die middag begroet met ‘n ongelooflike groen oase van palmbome. Die Kunene River Lodge is ‘n interessante kampplek. Dis in 2 dele verdeel, die voertuie staan op die grond gedeelte en die tente op die gras gedeelte.  Na ons tente opgeslaan het, was daar tyd vir klere was.  Die ablusie is puik met was geriewe, warm water, braaiplek, elektriese punte en bestaande ligte by die braai, asook wi-fi by die kantoor.

Hout is nie te koop by die lodge self nie, maar wel net buite die hek, waar jy by die gemeenskap kan koop. Almal is baie vriendelik en behulpsaam.  Weereens ‘n paradys vir fotografie. Die Kaalwangkatlagter (Bare-Cheek Babbler) was vir Barend en Elsa ‘n gunsteling, asook die likkewaan wat so skaam-skaam by die boot se rant uitgeklim het.  Hy was egter baie geduldig sodat ons ‘n paar foto’s van hom kon neem.

Die braaivleis, pap en sous die aand was heerlik, meer nog die vooruitsig van môre-oggend se laat lê, want ons slaap nog ‘n aand in hierdie mooi paradys!. Die weer was tot dusver baie goed vir ons met hier en daar ‘n bietjie wind.  Die aande is egter baie koud, maar dit is Julie en die beste temperature vir die dag om rond te reis.

Ons kuier ekstra lekker om die vuur vannaand, kan nie uitgepraat raak oor ons ervaringe tot nou toe nie, geseënd!

Leave a reply