Dag 6

Woensdag 20 Julie 2016

Die vars lug hier langs die Kunene maak dat ons laat inlê. Vandag is dit net rustig wees hier in die kamp, om net weer tot verhaal te kom na die vorige dae se lang ritte. Ons loop deur die terrein en verken verder. Dit is baie netjies en boomryk met ‘n groot verskeidenheid voëllewe.

 

Dis ‘n pragtige sonskyn dag en die jetty hier voor ons op die rivier roep hard. Elsa het spesiaal ‘n visstok gekoop vir hierdie toer, wil ook die vis-ding probeer. Ek en Barend gooi spinners maar is nie gelukkig genoeg om iets te vang nie. Dis as Elsa opgewonde hier langs my skreeu : Ek het hom, ek het hom !! Ek sien daar is ‘n redelike vis aan die lyn as die stok kwaai buig. Sy het by een van die tuiniers ‘n miswurm gekry en aan die hoek gesit. Die locals weet gewoonlik beter wat se aas om te gebruik vir die vis.

Na ‘n redelike lang tyd van spook met die vis in die water, kom hy los. Ongelukkig was daar ook nie tyd vir fotos neem nie. Duur les: Moet nooit sonder ‘n net gaan hengel nie! Ten minste was daar 2 getuies, en sy was baie in haar skik met die ± 2 kg barber!!  ‘n Heerlike gevoel nadat sy n hoek verloor het, maar dis deel van die leer proses.

Die middag is ons net rustig, elkeen besig met sy eie ding. Daar word veral baie fotos van voëls geneem en die groot likkewaan kom maak ook seker dat hy deel vorm van ons fotografie sessie. Die eienaar van die Lodge kom maak kennis en ons gesels lekker. Hy noem dat die Lodge baie bekend is onder voëlkykers en heelwat buitelanders kom gereeld hier besoek aflê.

Op navraag oor die pad na Epupa is ek BAIE teleurgestel toe hy ons meedeel dat die rivier pad, soos hy bekend staan, vir nog net ongeveer 15 km aanhou. Daarna klim jy op ‘n nuwe groot grondpad wat hulle nog besig is om klaar te maak van Epupa tot by Ruacana. Dit behoort ons nie meer as 4 ure te neem tot by Epupa nie.

Dis net waaroor ek gereeld praat, moet die dinge doen VOOR alles verander. Het by so baie mense gehoor wat die rivierpad al gery het, wat se wonderlike ervaring dit was. Maar dis nou verby, sal NOOIT weer dieselfde wees nie! Dit is ongelukkig wat hulle noem : Vooruitgang.

Om die vuur kan ons nie uitgepraat raak oor hierdie pragtige kampplek nie. Sal hom verseker aanbeveel. Ons kuier laat, hoef nie more baie vroeg te wikkel nie. Die roete more is nie meer ‘n 4×4 avontuur wat ‘n volle dag gaan neem nie en ek weet nie hoe om daaroor te voel nie. 

Leave a reply