Dag 7

Donderdag 21 Julie 2016

Vanoggend word daar rustig opgepak en dis net na agt as ons by die Lodge uitry. Die rivierpad is ‘n lekker uitdagende 4×4 roete en ons praat baie oor die radio om gate, slote en obstruksies uit te wys. Oral langs die roete sien ons Himba vrouens en kinders wat tradisioneel aangetrek is.  Alhoewel die meeste mans egter westerse kleredrag dra, is daar sommige mans wat wel tradisioneel aangetrek is met die haarstyl wat bestaan uit 2 lang punte wat op die voorkop na voor wys. Dit beteken hulle is nog ongetroud. Wanneer hulle trou, word dit bedek met n groot tipe hoeddoek. Die vrouens se hare en lyf is met bokvet en rooi grond (gemeng) gesmeer, asook die haarlokke wat afgerond word met donkie hare op die punte van die lokke.  Baie mooi!

Ons is nie ver op die rivierpad af nie, toe moes ons stop. Daar voor ons is ‘n local se bakkie wat in een van die driwwe vassit. Ons bied hulp aan en dis as jy die glimlagte sien, dat jy weet hulle waardeer die aanbod. Ek ry verby die bakkie, gebruik ‘n tou wat hulle aanbied en trek die bakkie uit. Dis ‘n rookwolk en gille van opgewondenheid as die toeskouers langs die bakkie wat uitgesleep is, kom staan en dankie sê.

Die res van die rivierpad, sowat 10 km, is lekker om te ry en ons geniet die Toyota’s! Die natuur hier langs die rivier is asemrowend en jy neem redelik baie in teen die slakkepas wat ons ry. Voor in die pad lê ’n groot boom wat omgeval het en moet daar mooi gery word, nader aan die onderkant van die rivier. Moet seker maak ons val nie nou vas nie. Dis net toe ons aan die anderkant uitkom, dat daar talle geel monsters staan. Verskeie bulldozers, Front end loaders en padskrapers wat die ‘nuwe” pad aankondig. Dis hier waar die Kunene 4×4 roete stop.

Die Toyota’s draai hul neuse en klim op die nuwe pad wat maar redelik klipperig is, maar ons vorder vinnig. Die natuurskoon, moet ek bieg, bly betowerend, ten spyte van die nuwe pad. Ons ry verby die Lodge eienaar se voertuig en Barend stop eers by hom. Daar is nog ‘n man by hom en hy vertel dat hy ‘n spesifieke voël hier kom soek om vir die besoeker te wys. Was ongelukkig nie suksesvol nie, maar sal weer laatmiddag kom kyk. Hy het hom al ‘n paar maal in hierdie omgewing opgemerk.

Ons sien redelik baie swartneus rooibbokke, steenbokke en verskeie voëlsoorte langs die pad. Die locals op die donkies en perde, oral langs die pad, kondig die waardering vir die vooruitgang aan. Die pad gaan dit baie makliker vir hulle maak om voorraad te gaan koop en vervoer.

Dis net voor 12:00 toe ons by Omarunga Lodge inry, gaan vir twee nagte hier vertoef. Dis ‘n Lodge reg op die Kunene rivier, soos meeste van die lodges hier, almal langs die rivier. Ek en Moeksie was al voorheen hier en ook al gekamp by van die ander plekke. Ons hou egter van Omarunga en kry staanplek nommer 5, reg op die rivier! Dis die uitdrukking op Barend en Elsa se gesigte as ons by die kampplek stop, wat my sê hulle is aangenaam verras.

Daar word kamp opgeslaan, Barend omtrent in die rivier en ons maak seker die tente maak rivier se kant toe oop. Wil die gedruis van die waterval hoor as ons slaap. Daar is net een lodge tussen ons en die waterval, aan die westekant, en hier van ons kampplek af kan jy sien waar die water oor die rotse afloop waterval toe. Die rivier hier is redelik breed en aan die oorkant van die rivier is Angola. Hierdie deel rondom Epupa is werklik ‘n oase, pragtige palmbome oral op die oewer van die Kunene rivier. Hier is ook ‘n redelike groot nedersetting met heelwat locals wat net ‘n bestaan maak uit die toeriste wat hierheen kom.

Hier is nie krag by al die staanplekke nie, net so twee of drie kragpunte op strategiese plekke. Die krag word opgewek deur ‘n kragopwekker en is net beskikbaar tussen 06:00 en 18:00. Die yskaste ens wat op die voertuie is het nie ekstra krag nodig nie, kom goed oor die weg met ons ekstra battery toerusting. Ons ligte is genoegsaam en Barend wil weet waar ek my ligstaander gekoop het. Waar is myne? Is die vraag toe hy hoor ek het hom self gemaak. Liggewig, slaan klein op en baie effektief. Hy het wel syne na die toer gekry.

Die res van die middag word rondom die kamp gespandeer, nie werklik nodig om van jou stoel af op te staan om die natuur te geniet nie. Die water wat hier voor jou verbyvloei, die voëllewe en dan ook die monster krokkodille wat oral aan die oorkant op die walle en klippe lê om te tan. Glo my, hier is GROOT menere!

Die ablusie is ‘n entjie van ons af, baie netjies en ruim. Omdat die water met sonkrag verhit word, word daar vroegaand gestort!

Die braaiplek is skaars 4m van die rivier af en glo my, daar is min braaiplekke met hierdie uitsig! Barend en ek het genoeg hout aangekoop, gaan lekker braai en verseker bosveld TV kyk elke aand. As die son agter die berge wegraak, word die vuur aangesteek. Later braai ons ‘n vleisie en kuier lekker, met die waterval wat sagte agtergrond musiek verskaf. Om die kampvuur besluit ons om more die area te gaan verken en die waterval te gaan besoek.

Op so ‘n toer word daar mos BAIE glasies geklink maar vanaand word daar ‘n glasie geklink  op die afgelope paar dae wat ons vriendskap ‘n dieper betekenis gekry het.  Vanaand gaan ons lekker slaap. Ons is geseënd!!

Leave a reply