Dag 8

Vrydag 22 Julie 2016

Daar is min plekke waar jy so rustig wakker word, hoor die rivier en waterval in die verte, die gesang van voëls, sluimer dan weer in, net om weer wakker te word en te besef, dis nie ‘n droom nie. Dis regtig! Ons kamp hier op die walle van die Kunene, by die Epupa watervalle. Wat ‘n voorreg om dit saam met vriende te kan deel, veral as dit nie jou eerste keer is nie.

As ek my kop by die tent uitsteek, sien ek eers vir Elsa, kamera in die hand, besig om alles op kamera te verewig. Barend is lankal op, ook gewapen met sy verkyker en kamera. Moet sê, die foto wat Elsa geneem het van die vink wat onderstebo hang, is besonders. Dit het later in ‘n BirdLife SA uitgawe gepryk. Foto’s van die Rooiwangparkiet (Rosy Cheek Lovebird) het in oorvloed op hulle kameras verskyn, asook allerhande ander voëltjies.

Ons koop by die locals hulle varsgebakte buns wat hulle vroegoggend bak en vars en warm aflewer @ N$3 per bun, wat heerlik is.  Veral ekstra smaaklik met appelkooskonfyt of stroop, het maar ‘n liefde vir die soetigheid. Dit bly egter net vir een dag eetbaar, daarom eet ons alles op.

Na ete stap ons waterval toe, sowat 400m van die kampplek af. Elsa stop by die Himba vrouens hier onder die riet afdak, hulle kiosk, waar sy ‘n armband koop. Almal is oorvriendelik, wil jou oortuig om nog items te koop. Elsa se N$30 is ‘n goeie belegging om die plaaslike gemeenskap te laat oorleef. Ons word oorval deur mans wat hulleself as gidse aanbied met woorde soos : Show you everyting. I know the area. Kom saam, ek ken alles. Come, I will show you nice place.

Die watervalle bestaan uit die hoof waterval, met baie ander kleiner valle oral oor die breedte van die rivier. Water het oor miljoene jare die topografie verander, om weer nuwe valle te vorm. Die kremetarte op die rotse, oral tussen die watervalle, kleur die prentjie net nog mooier in. Dit is uit ‘n ander wereld en is voorwaar ‘n prentjie om te aanskou. Met die huidige watervlak stap ons tot reg by die hoof val en die kameras kliek as die ligte sproei jou afkoel. Kan nie genoeg fotos neem nie.

Ek en Barend stap later na die onderkant van die gorge, waar daar ‘n hele aantal klein strandjies is. Hier kan mens lekker kom piekniek hou. Die paadjie wat ons stap is nie baie rof nie en heel skaflik. Ons stap later in een van die skeure op en kom weer redelik hoog teen die koppie uit, terug waterval toe.  

Terug by die kamp besluit ons om al langs die rivier op te ry en by van die lodges te gaan inloer. As jy deur die Himba stat ry langs die rivier, verby die bakoondjie, kom jy by die Epupa Rafting camp uit.  Hier is dit ‘n oase wat jou laat voel jy het tuisgekom @ N$1,400 pp per nag Bed & Ontbyt ingesluit. Tent 7, 8 & 9 sit op ‘n ongelooflike mooi area en het ‘n pragtige uitsig.

Ek vertel vir Barend en Elsa van ons vorige trip, toe ons die river rafting ding gedoen het. Ons was ‘n redelike groot groep en moes die rivier aandurf. Die gids roei voor en voor elke rapid beveel hy aan watter roete om te vat. Dis as ons rustig roei en hy met sy spaan op die water slaan om die krokodil water toe te jaag, dat jy besef waarvoor jy jouself ingelaat het. Dis te laat, jy is klaar in die stroom. Ek en Anton is die eerstes wat ons boot laat tip. Met die prentjie van die monster wat ons nou net gesien het vars in die gedagtes, is dit sekondes en jy is weer in die boot. Dit was ‘n ongelooflike ervaring!

Ons gaan ook besoek aflê by die lodge geleë op die koppie, Suid van Epupa. Kapika Waterfall Camp is ± 1km vanaf ons kampplek af. Die eienaar verwelkom ons vriendelik en vertel ons die geskiedenis van die lodge. Die Jack Russel wat ons op vorige besoeke by die rivier gesien het, was sy hond. Hy was al ‘n local hier, die hond. Het baie lief geword vir hom die vorige keer en kan nie glo dat hy nooit deur ‘n krokkodil gevang is nie. Hy was river wise. Die eienaar vetel dat hy ‘n paar maande gelede dood is, vermoed dit was hondsdolheid.

Terug by die kamp verkeer ons rustig langs die rivier. Die visstokke moet werk kry en ons gooi ‘n paar keer in. Hier in die einste Kunene rivier verloor Elsa ook haar eerste spinner, want sy het gehoop sy kon verbeter op haar vorige visvangs en hierdie keer het sy gemik vir ‘n tiervis – die vis met die vreeslikste tande!! Na baie probeerslae gee ons moed op, sal maar wag tot by die Okuvango om behoorlik te vang.

Ek stap deur die kamp en gesels met ‘n ander man wat hier kamp. Hy ken die roete wat ons more gaan ry en beveel aan om die noordelike roete te ry na Van Zyl’s Community kamp. Hy is beter as die een wat van Suid af inkom. Hy sê ook dat die pad na die Community kamp amper rowwer is as die pas self. Ek luister mooi wat hy sê, hoewel dit nie alles sin maak nie. Het die roete op my GPS geplot en sal maar daarby hou.

Die cooler boks word gepak met ‘n bottel of drie wyn, glase, chips en snacks. Ons moet die sonsondergang gaan beleef vanaf die uitkykpunt bo-op die koppie, Suid-Oos van die valle. Jy moet nou N$20 betaal om boontoe te ry, was gratis die vorige keer. Seker ook deel van die “vooruitgang”.

Van hier bo af het jy ‘n ongelooflike uitsig oor die valle en die hele vallei. Hier is nou ook ‘n afdak gebou wat dien as ‘n kroeg waar jy ‘n bier kan koop. Daar is ook kuierplekke uitgesit van klip gebou, heel oulik. Ons dra die cooler boks na een van die kuierplekke en neem stelling in. Dit raak eers vir ‘n paar minute stil as elkeen behoorlik inneem wat ons nou sien en ervaar. Jy begin verlang na mense wat jy nie ken nie, ongelooflik dankbaar dat jy dit weer kan beleef. Ek voel klein as ek in stilte die prentjie bewonder.

Die kameras kliek aanhoudend as die son die prentjie voor jou elke minuut laat verander. Jy voel jy wil hier kamp opslaan, sommer vir lank hier bly. Die son is al weg en dis redelik skemer as ons onsself moet dwing om die pad terug te vat kamp toe want dis die laaste aand hier en daar moet nog gebraai word.

Om die kampvuur sê ons vir mekaar dat mens maklik ‘n week of langer hier in die paradys kan spandeer. Die omgewing is ongelooflik mooi en die rustigheid maak nes in jou binneste. Hier kan jy weer mens word, rus vir jou siel kry. Dis plekke soos hiedie waar mense saam kuier sonder om woorde te spreek, elkeen besig met sy eie gedagte, kop skoonmaak. Dis ‘n plek waar jy al die stukkies van jouself kan bymekaar maak!

Dis Barend en Elsa se kosbeurt en ons word bederf met wors, tjops en gekookte aartappels. Die braaivleis vanaand smaak anders, lekkerder, moet die Kunene se lug wees. Ons bespreek vinnig more se program, wil redelik vroeg in die pad wees, want die grootste deel van die roete is onbekend. Vanaand gaan ek lekker slaap, my siel se batterye is weer gelaai.

Dis Barend en Elsa se kosbeurt en ons word bederf met wors, tjops en gekookte aartappels. Die braaivleis vanaand smaak anders, lekkerder, moet die Kunene se lug wees. Ons bespreek vinnig more se program, wil redelik vroeg in die pad wees, want die grootste deel van die roete is onbekend. Vanaand gaan ek lekker slaap, my siel se batterye is weer gelaai.

  • Heel toevallig lees ek toe jou 22 Julie 2016 inskrywing op 22 Julie 2020….daai plek klink na ‘n plek wat ek nou nodig het…… om die stukkies weer bymekaar te maak.

  • Leave a reply