Dag 9

Saterdag 23 Julie 2016

Almal begin vroeg roer, eerste mossie, want ons weet nie presies wat vandag alles gaan oplewer nie. Die onbekende faktor, wat ook die ongewone opgewondenheid hier binne jou losmaak. Daar word vinnig klaar gepak en ry net voor 7 by die lodge uit. Die eerste 72 km ry ons Suid en dis ‘n redelike goeie grondpad tot by Okangwati. Van daar draai die pad regs in ‘n westelike rigting, waar die voertuie, of sal ek eerder sê die bestuurders, se vermoë getoets gaan word. Nou is dit 4×4 op sy beste. Van hier af is dit ongeveer 73 km tot by ons volgende kampplek, Van Zyl’s pas gemeenskapskamp.

Aanvanlik ry ons deur heelwat statte met ‘n twee spoor paadjie wat elkeen vurk in baie rigtings, dis dan wat jy die huiswerk waardeer wat jy vooraf gedoen het en die koördinate op die GPS ingetik het. Jy glo dit is reg en volg die GPS. Die landskap is mooi, berge en heuwels oral langs ons en redelik boomryk. Op ‘n stadium sien ek ‘n Breëkoparend hier in die boom waaronder ons deurry. Ons stop en neem eers ‘n paar fotos. ‘n Land Cruiser kom van voor af, ‘n bewaarder wat by ons stilhou en eers gesels. Hy kom nie van die pad wat ons gaan ry nie, maar sê ons gaan ‘n mooi wereld beleef as ons hom vertel waarheen ons op pad is. Die pad raak al meer uitdagend.

Baie klip met skerp punte is aan die orde van die dag.  Sommige plekke moes ons pad bou en ek het gewonder of ons nie dalk klaar in die Pas is nie.  Sommige plekke het mense klippies in die bome gepak. Op die pad verder het ons baie Himbas gesien met klein kindertjies. Orals is daar nedersettings met veekrale vir hulle bokke en beeste. Daar is ook baie botterbome, kremetarte en ander plante op die roete. 

Die heuwel met die gepaste naam van Heartbreak Hill was ‘n riller. Hy het onverwags voor ons verskyn en daar was nie tyd om te dink nie. Die ongeloof was merkbaar op my gesig as ek na die “pad” hier voor my kyk. Moet ons hier op ???? Die dongas en groot klippe lyk eerder na versperrings as uitdagings! Gou eers gestop, donkierat en in eerste is ons kruip-kruip daar uit.

Die wiele spin en gly as die Hilux, voel vir my na ‘n meter per minuut, die stylte uitklim. Dis nou kalm bly en kop hou as die adrinalien deur die are pomp. Kan nie bekostig om nou ‘n fout te maak nie! Aan die bokant stop ons eers om asem te skep en die ervaring te verwerk. Ek trek diep en lank aan my pyp en rook hom warm.

Die man met wie ek gister gesels het, het spesifiek van hierdie uitdaging, Heartbreak Hill, gepraat. Nou verstaan ek, want jou hart kan maklik ‘n paar slae mis as jy hier opry. Hy het gesê dis erger as Van Zyl’s pas self, sal maar wag tot more om te weet. Hierdie was ‘n groot ervaring en toets vir voertuig en bestuurder!

Terwyl daar verder gery word , praat ons gedurig op die radio om skerp klippe, dongas en ander hindernisse uit te wys. Ons geniet die voertuie en is dankbaar dat daar tot nou toe geen teëspoed was nie. Die entjie redelike pad kondig aan dat ons moet stop en die kos, (wors, eiers, kaas, aghurkies en buns) eers gaan geniet om ons weer stewig in die sitplek vas te anker. Dis net na 12:00 as ons die laaste skof aanpak.

Die laaste 7 km is ‘n heerlike sandgrond pad en dit voel of jy op ‘n highway ry. Ons is net voor 16:00 by die ontvangs, ‘n rondawel hier eenkant, waar ons inboek. Die Himba agter die toonbank groet ons vriendelik in Afrikaans en heet ons welkom. Verbaas om jou taal in diè uithoek van die wêreld te hoor! Die kampplekke is ‘n ent verder aan, deur die rivierloop en ons kan kies waar ons wil kamp. ‘n Kampplek langs die rivierloop wat lekker omring word deur rotse lyk perfek.

Dit is baie basies, ‘n sementblad waarop jy braai, ‘n kraan en ‘n opwas onder die een boom. ‘n Entjie verder is daar ‘n netjiese rietafskorting waar die toilet is. Langs die toilet is die stort, ook met riet toegemaak. Die toilet word met ‘n emmer gespoel wat jy weer moet volmaak as jy dit gebruik het. Daar is nie water vir die toilet of die stort nie en die enigste water is by die kraan van die opwas onder die boom. Hier gebruik jy jou eie stort sak wat laatmiddag in die son gelê word om warm water te verskaf.

Nadat ons kamp opgeslaan het loop ons rond en verken die wêreld. Net aan die bokant van die rotse, ‘n entjie weg, is daar ‘n beeskraal met heelwat beeste in wat ook maak dat ons elkeen met n boomtakkie sit en vlieë waai, anders kruip hulle in jou neusgate en mond! Die ander kampplekke lyk maar redelik dieselfde en ons sê vir mekaar ons het reg gekies.

Ons steek redelik vroeg vuur aan, wil nie te laat bed toe nie. More is die GROOT dag, die berugte Van Zyl’s pas. Sal more uitvind of die stories oor die pas waar is en of dit nie so erg is nie. Moeksie bak vir ons ‘n perfekte potbrood, wat nog warm is as ons dik snye sny en met botter en konfyt geniet. Dit raak redelik koud as ons om die vuur sit en die dag se ervaringe bespreek.

Ons is lankal in die kooi toe die gedreun van motorfietse al nader kom. Dit klink na ‘n hele paar wat inkom en jy hoor hulle sukkel deur die sand van die rivierbedding. Ook hulle raak vinning stil, glo hulle gaan ook more die pas aandurf.

Leave a reply