Dag 10

Sondag 24 Julie 2016

Toe breek die groot DAG aan !!! ……. Die opgewondenheid maar ook skrikkerig vir die die onbekende laat die adrinalien lekker sterk pomp!! Ons ry 7:30 vanaf die kamp en pak die dag se roete aan. Die totale afstand is 72 km tot by Camp Syncro waar ons gaan kamp. Die eerste 12 km is die berugte Van Zyl’s pas en vat jou af tot in die Marienfluss. Daarna is dit ‘n redelike maklike sandpad vir 60 km tot bo teen die Kunene rivier.

Die pas, soos ons hom vandag ken, is in 1965 “gebou” deur Ben Van Zyl, destydse Kommisaris van Kaokoland. Dit is die hoogste pas in Namibië en is 948m bo seespieël. Die pas mag ook net in een rigting, van bo af ondertoe, gery word. Dit word bestempel as een van die ergste passe in Suidelike Afrika. Dis te gevaarlik om die pad van onder af op te ry en sal ook groot chaos veroorsaak as voertuie bymekaar moet verbygaan in die teenoorgestelde rigtings. Die aanbeveling is om nie te sleep as jy die pas aandurf nie, hoewel menigte manne dit al gedoen het met waentjies en self off road karavane. Natuurlik met die nodige skade aan die voertuie en karavane as bewys van hulle waagmoed.

Na so ongeveer twee kilometres van die kamp af, kondig die pad aan: Jy is nou in die begin van die pas. Dit was nie lank nie, of die eerste klippe pak het begin en dis waar die verborge talente ook na vore gekom het. Moeksie was die baas klippakker asook ‘n uitstekende “dirigent”. Dis die naam vir die persoon wat voor die voertuig staan en wys, arms swaai na links of regs, of wys jy moet stop. Op baie plekke kan jy as bestuurder niks hier voor, onder die neus van die bakkie, waar die voorwiele is sien nie. Die voertuig se neus wat hemel toe kyk maak dit noodsaaklik om ‘n goeie “dirigent” te hê!

Ons vat die uitdagings baie rustig, wil nie bande verloor of die voertuie seermaak nie. Oral waar ons huiwerig voel oor klippe wat bande kan seermaak, klim ons eers uit, loop oor die terrein om te verken en pak klippe waar nodig. Dan vat ek eerste die uitdaging met Moeksie wat dirigeer en Elsa wat fotos en videos neem. As ek veilig anderkant uit is, kom Barend agterna, maar eers nadat die klippe wat geskuif het weer in posisie geplaas word. So gaan dit met elke rowwe stuk pad wat ons teëkom, en daar was BAIE sulke dele.

Met elke voertuig se eie spaarwiel en net een ektra wat Barend saamgebring het, vat ons dit baie stadig en versigtig. As jy die oorblyfsels van ‘n waentjie of twee hier langs die pad sien staan, dan besef jy : Hierdie pas is nie jou man se maat nie, hy is jou meerdere en jy respekteer hom met alles in jou. Ek geniet nou werklik die krag van my Hilux 4L V6 pertol outomaties. Moet sê ‘n handrat is dalk makliker as jy net ‘n halwe meter oor die klippe wil vorentoe en weer stop. Met die outomaties moet jy baie vinnig jou voet briek toe vat as die wiel oor die klip is, om nie die “dirigent” te stamp nie.

Het al gehoor van BAIE manne wat bande hier verloor het, en ‘n ongeluk gebeur gou, maar ek het tyd en al vat dit ons die volle dag, ek gaan versigtig wees. Die videos wys egter hoe skrikwekkend die rit eintlik was en die hammering wat die bande vat as jy oor die klippe kruip.

Die net as Moeksie en Elsa weer in die bakkies is en ons ‘n ent “redelike” pad kry, wat die ritueel weer begin : Uitklim, verken, dirigent en kameravrou op hul poste, klippe pak en ek en Barend die Hiluxe afbring. Dis ‘n uitdagende pas, maar ons geniet hom! Dis as ons oor die volgende bult kom en die vlakte doer ver in die verte sien, dat ek by myself dink : Ons is amper daar! Jy wil bietjie vinniger, maar dis die klippe hier voor jou wat sê : Jy moet stadig!

Na ongeveer 4 ure se “kruip” kom ons by die uitkykpunt uit, ‘n ongelooflike uitsig oor die Marienfluss. Die vlakte daar onder is bedek met gras en aan die anderkant troon die Hartmansberge wat die Skedelkus en die Marienfluss van mekaar skei. Dis as ons in verwondering staan en die prentjie hier voor jou probeer inneem, dat die eerste motorfiets hier aankom. Later nog een en toe nog twee. Hulle is blykbaar 4 pêlle en het deur Angola ook gereis.

Hulle was papnat gesweet – hulle moes verskriklik deur die pas gesukkel en warm gekry het. Om stadig te ry op ‘n motorfiets, vol gekit, in die son is erg genoeg – dan nog een van die mees vreesaanjaende passe daarby …. Die manne staan ‘n wyle en staar, voor hulle weer die pad vat. Sê die pas was uitputtend en hulle moet nog ver ry vandag.

Ons kuier nog ‘n wyle en neem baie fotos, ook by die hut uit takke gemaak en die beesskedel wat sê : Hierdie is harde wêreld!!

Dis net as ons ‘n ent verder ry en oor die radio sê hoe dankbaar ons is ons is klaar met die pas, dat die ritueel weer begin. Die laaste twee km, van die uitkykpunt tot onder in die vlakte, is net so uitdagend. Wil nie nou haastig raak nie en ons vat hom stadig.

Dis 11:20 as ons onder in die vlakte by die hoop klippe stop wat op mekaar gestapel is. Dit is die Jan Joubert gedenk stapel en elkeen moet ook ‘n klip gaan pak. Ongelukkig het ons nie ‘n coki pen nie, die gebruik is om jou naam en die datum op die klip te skryf wat jy op die stapel pak. Hierdie man was ‘n legende en het hierdie gebied gereeld besoek, ‘n 4×4 fundi en het ‘n GROOT liefde vir Namibië gehad. Die Drive Out tydskrif het na hom verwys as Mr 4×4. Hy is tragies in 2006 naby Gobabis vermoor.

Ons staan onder die boompie hier eenkant, eindelik in die Marienfluss, en omhels mekaar. Opgewonde dat ons veilig die pas kon afry tot hier, sonder enige teëspoed. Ons maak ‘n bier oop en die ching ching terwyl ons mekaar in die oë kyk, kry ‘n ander betekenis van oorwinning. Selfs Elsa het ‘n sluk of twee geneem, ‘n aanduiding dat sy ook die oorwinning wil vier. Die pas was ‘n BAIE groot hoogtepunt en ons besef wat ‘n voorreg dit was om dit te kon doen en sonder skade anderkant uit te kom.  Wat n belewenis en voorreg!!

Dis net as jy wegtrek dat die klip hier langs die pad aankondig, ons is nog 60km van ons bestemming af. Die Toyota’s draai verder noord deur Marienfluss met sy feetjie sirkels en kilometers van grasvelde  en bergreekse wat verander van tekstuur, kleur en die mooiste kurwes. Die feetjie sirkels is kaal ronde kringe, sand kolle tussen die gras, tussen 3 tot 10m in deursnee. Daar is baie legendes rondom hierdie sirkels, maar tot nou toe geen wetenskaplike verklaring nie. Springbokkies wat spring en hardloop, volstruise wat trots regop deur die gras stap. Die gemsbokke in die verte wat ongesteurd staan en kyk wie kom hier aan. Hierdie beelde kan jy nie op film vaslê nie en n mens moet weer teruggaan, want om alles op een slag in te neem, is te veel.

Ons stop by ‘n bossie hier langs die pad, moet nou eers iets in die maag kry. Dis as ek die deur oopmaak, of sal ek sê deur die wind oopgeruk word, dat ek die bakkie so draai dat ons bietjie beskutting kry. Daar word gesels oor hoe ons die vlakte pad geniet, kan sommer lekker spoed kry hier, na vanoggend se pas. Dis lekker, geniet die padkos en vat die laaste entjie pad.

Die pad is ‘n lekker sandpad en ons is vinnig by die eerste tekens van vooruitgang, die klippe wat vir honderde meters weerskante van die pad gepak is, dis die Otjinhungwa vliegveld. Wanneer daar by die winkeltjie op die vlak aan die regterkant verby gery word, weet ek ons is nou naby. Die advertensie van ‘koue bier” op die klip geskryf, vang die oog. Moet dalk enetjie hier kom geniet. Dis net voor 14:00 as ons voor die hek stop. Dis gesluit met ‘n ketting en slot. Ek blaas die toeter en dis net as ek die tweede keer die toeter wil blaas, dat die jong man sy verskyning maak van die huis se kant af en stel homself voor as Ryan. Hy maak oop en wys ons waar die kampplekke is.

Daar is 5 staanplekke, of liewer kampareas. Hulle is ruim en kan maklik 2 tot 3 tente elk huisves, sonder dat jy op mekaar sal wees. Ons is die enigste kampers en kies die staanplekke hier op die oewer van die Kunene, onder die groot Anasbome. Daar is ‘n groot afdak aan die een kant van die staanplek, met ‘n grasdak. Die rivier se vloei is ‘n hele ent van die kampplek af, maar ons kan die krokodille op die sandbanke mooi van hier af sien. Warm water is beskikbaar en alhoewel alles ‘n buite atmosfeer het, is die ablusie baie skoon.  Die braaiplek is aan die rivier se kant en is ‘n netjiese braai van stene gebou. Met die krokodille in die rivier word ons ernstig gewaarsku om nie te naby aan die water te loop nie.

Ons skrop nes en sit op ons stoele onder die koeltebome, van waar ons die uitsig na die rivier se kant toe waardeer. Dit was ‘n uitputtende, maar tog ook ‘n ongelooflike dag. Die vuur brand terwyl die son agter die berge verdwyn en daar word rustig gekuier om die vlamme. Dis Barend en Elsa se kosbeurt en ons word bederf met klein gebakte broodjies, patats in foelie op die kole en ‘n bredie in die pot. Dis ‘n 5 ster ete !

Na ete val daar nog ‘n paar houtjies op die vuur, moet nog finaal die dag se gebeure verwerk. Daar is geen beter manier, as ‘n glasie wyn in die hand, terwyl jy na die bosveld TV sit en staar nie. Vanaand gaan ek lekker slaap.

Leave a reply