Dag 11

Maandag 25 Julie 2016

Ons ontwaak as die son al uit is, het lekker geslaap na gister se opwinding. Vandag is dit net rustig wees en die omgewing geniet.

Ek stap later af rivier toe, baie versigtig en waaksaam. Oral, op die sand en tussen die klippe, sien jy die menere lê. Hier is baie krokodille, meer medium en kleintjies, maar wel ‘n paar grotes ook. Hulle gly vinnig die water in as jy nader stap, seker net om om te draai onder die water en hoop jy kom naby genoeg vir ‘n hap. As jy hier staan en ‘n klip hard gooi, land hy in Angola.

Dis as ek op ‘n klip gaan sit en oorkant toe staar dat die gedagte van die grensoorlog by my opkom. Het self in Ovamboland vir ‘n klompie maande my beurt gehad. Ek wil nie regtig daaraan terugdink nie en stap ‘n hele ent met die rivier op. Hierdie is ongerepte natuur, ‘n skoonheid wat jy nie kan beskryf nie. Ek glo daar is min, baie min mense wat dit tot hier bo in die Marienfluss maak. Ek voel geseënd.

Terug by die kamp is die wasgoed al op die draad gehang om droog te word. Daar word rustig gekuier by die kamp en stap later die middag na die huis toe hier langs die kampplek. Dis waar Ryan en sy vrou Sarah bly. Hulle is ‘n jong paartjie uit Switserland en het die plek in 2011 gekoop, net nadat hy afgebrand het. Hulle het baie in Namibië kom vakansie hou en verlief geraak op die plek, sommer besluit om hier te kom bly. Daar is ook ‘n paar huisies as jy luuks wil bly.

Hulle vertel ons van die omgewing en sy mense. Hulle weet presies hoeveel mense in die omgewing is, dink hy het gesê 128 toe Sarah hom reghelp en sê daar is eergister ‘n baba gebore, so hulle is nou 129. Die plaaslike inwoners is almal Himbas en is hulle goedgesind. Hulle gee hulp waar hulle kan en bied baie ondersteuning aan die gemeenskap. Ook die inspekteurs en mense van bewaring wat van tyd tot tyd hier verbykom, kom kuier sommer halfdag hier voor hulle weer ry.

Hulle rekenaars wat buite op die stoeptafel lê is ‘n bewys dat jy is veilig hier, solank die verhouding met die mense reg is. Ryan vertel dat hulle die huis selde sluit en dat hier niks wegraak nie. Die halfgeboude lapa laat hom vertel wat se effort dit is om boumateriaal hier te kry. Daar is ‘n ander roete as Van Zyl’s pas, om vanuit die Suide hier te kom, maar is ook maar rowwe terein.

Ryan & Sarah se huis

Hy wys na sy Land Cruiser en sê alles moet met hom aangery word, hulle eie kos, voorraad vir die lodge se gaste, boumateriaal, alles met daai donkie. Hulle gaan nie te gereeld aankope doen nie en dan is die gewig, veral as hy ‘n paar sakkies sement ook saambring, ‘n GROOT uitdaging. Hulle vertel ook dat hulle gereeld van die buitewêreld afgesny word as dit baie reën, dan loop die riviere aan die onderkant van die Marienfuss maklik vir ‘n dag of twee en moet eers sak voor jy kan deurkom.

Hy vra of ons die waentjie op die pas gesien het, die een wat net die raamwerk van oor is. Dis iemand wat ‘n splinternuwe waentjie gekoop het om in Namibië te kom toer, Van Zyl’s pas misreken het en die as en vere gebreek het. Hy het alles wat hy kon in sy voertuig gelaai en die res, volgens Ryan nog baie toerusting en proviant, net daar gelos. Soos ander mense verby gekom het, het hulle hulleself gehelp aan dit wat nog daar was. Ek onthou die raamwerk daar in die pas wat ons verby is.

Ons doen navraag oor ons roete van more en Ryan beveel aan dat ons die pad, vanaf blou drom, Suid vat. Volgens hom is dit ‘n redelike slegte pad, maar ongelooflik mooi. ‘n Bucket list item. Die ander pad, Suid vanaf Rooidrom, is meer in die berge, nie te rof nie, maar hy glo ons sal die ander een meer geniet. Ryan praat van sy “buurman” by Kunene River Lodge. Soos die voël vlieg, seker nie te vêr nie, maar vir ons was dit ten minste drie dae se stof en klippe kou. Afstand en pad toestande is vir hulle ‘n BAIE relatiewe term, anders sal jy nie hier oorleef nie.

Wat veronderstel was om net ‘n vinnige inloer te wees, het toe sommer ‘n uur of wat geraak. Kan sien die mense is honger vir geselskap en ons gesels sommer lekker. Hulle kan ons nog BAIE dinge in die omgewing gaan wys het, as ons langer kon bly.

Die vuurtjie word met groot sorg en liefde gepak, ons laaste aand hier. Daar is ‘n gevoel van, ons begin more terugry. Hier van die Kunene af omdraai en terug huis toe. Tog herhinner ons mekaar dat daar nog ‘n ongelooflike roete vir die volgende paar dae voorlê, voorwaar iets om na uit te sien.

Die sterre in die hemelruim is baie as jy in die stilte sit en staar en jou emosies doen bokspronge hier binne in jou. Ek voel klein en geseënd.

Leave a reply