Dag 8.

Dag 8. Sondag 26 Januarie

Ons is redelik vroeg opgepak, maar nuttig eers die gebruiklike vars vrugte en jogurt saam met ʼn paar koppies koffie so oor die lekker gesels saam. Ons is nie haastig nie. Ons stort eers voor ons die pad vat net na tien en ek kan voel dit gaan ʼn rowwe dag wees, want die sweet loop my af. 

Toe ek in die bakkie klim, vang die bondel hout bo-op die dak my oog en ek dink soos volg: Hulle gaan my nie toelaat om die hout so bo-op die bakkie in die wildtuin te vervoer nie. Ek sal daar by die ingangshek planmaak, MAAR hulle kan die hout weier, want dis nie verpak nie. In welke geval ek dit by die hek sal aflaai en weer oplaai as ons oor ʼn paar dae hier verbykom. Met die planne in my kop klim ons in die voertuie. 

Die 60 km teerpad na Twee Rivieren is ʼn plesier en op die pad vertel ek vir Anton oor die radio van toe ons ʼn paar jaar gelede, vir die eerste maal, met ʼn groep pelle, die Kgalagadi kom besoek het. Toe was die pad van Askam tot by Twee Rivieren nog grondpad. Ons het daardie keer met die teerpad vanaf Upington tot by Askam gery en nie Van Zylsrus om nie, ook maar goed so. Die grondpad was ʼn uitdaging vir enige mens en voertuig! Sinkplaat soos ek in my lewe nog nooit gery het nie! Ons het almal iets gesleep, gelukkig niemand ʼn gewone karavaan nie, want dan sou ons vandag nog gery het. Daardie gevoel van eerder nog stadiger, jy beweeg skaars vorentoe, tot ek wil die pad slaan teen 140 km/uur want dan vlieg ek dalk oor die sinkplaat. Jy kan nie anders nie as moedeloos te raak, veral as iemand langs jou sê dis nou te erg, so asof jy aspris is of dit kan verander en al alles probeer het. Toe die eerste donkiekar in die veld langs die pad verbykom, gaan die liggie in my kop aan! Gaan ry langs die pad op die donkiekar spoor. Die volgende 40 km het BAIE sagter, minder geskut maar wel meer stof, redelik gegaan, met die hele konvooi agter mekaar in die bosse langs die grootpad.

Die teerpad is ʼn plesier en die radio’s klets as ons die versamelvoëlneste uitwys en bespreek, hier en daar ʼn gemsbok gewaar en die lodges verbyry waar ons definitief nog eendag moet kom oorbly.

By die ingangshek van die Kgalagadi by Twee Rivieren aangekom, besluit ons eers hoe lank ons gaan bly. Ek het nog nooit op Nossop gekamp nie en sal graag so 3 nagte daar wil spandeer. Boonop moet ek vir Anton en Magda laat voel hoe dit is om te kamp sonder heinings, so een of twee aande by Rooiputs is ook ʼn moet. Dit gaan maklik om op ʼn totaal van vyf nagte te besluit. Die mense by ontvangs is regtig baie vriendelik en ons is gelukkig om drie nagte by Nossob en twee nagte by Rooiputs te kry. Gelukkig om plek te kry, dink ek by myself. Wie kom kamp die tyd van die jaar in die snikhete Kgalagadi, wil ook daardie malkoppies ontmoet.

Die 160 km grondpad na Nossob was die vorige keer toe ek hom gery het, ook maar baie sinkplaat, so ons mors nie tyd nie. Ons blaas wiele af tot 1 bar (my BF Goodridge bande ry die lekkerste sinkplaatpad as dit so sag is want hy het ʼn stywe wand en gee nie maklik mee nie, het ek gehoor). Ek hoor die radio: Hollies, Hollies, kom in. Hollies, Hollies, kom in – Ek kan die opgewondenheid in Anton se stem hoor. Hulle was nog nooit in die Kgalagadi nie, ʼn eerste keer.  Dis lekker om radio kontak te hê as mens so rondry, want as jy iets miskyk is die ou agter jou gou op die radio om te vra of jy “dit” ook gesien het. Die Kgalagadi stel nie teleur nie en ons is nog nie 10 km weg nie, toe ou vuilbaard, ʼn redelike groot maanhaar, so 150m veld in onder die boom opgemerk word. Hy lê lekker uitgestrek in die koelte. Ek besluit om nie te lank te vertoef nie, glo ons sal hulle nader kry oor die volgende paar dae.

ʼn Hele ent verder wonder ek of Anton op pad is, want ek sien hulle nie in my truspieëltjie nie. Oor die radio kom die verduideliking, vuilbaard het opgestaan, omgedraai en weer gaan lê, net sodat hulle hom mooi kon afneem. 

Sonder om die entoesiasme te demp vertel ek hom daar is nog baie leeus en ander katte in die Kgalagadi en dat ons VIRSEKER nog heelwat gaan sien en ry bietjie vinniger weg by die volgende paar sightings.  Dis nie dat ek ondankbaar is teenoor die diere wat ons sien nie, maar dis BAIE warm en ons het nog ʼn hele ent om te ry. Dit teen ʼn stadige pas en voorsiening moet altyd gemaak word vir tyd wat verlore kan gaan by ʼn GOEIE sighting.

Die radio roep weer, dis net na 4, en ek hoor ʼn ander toon in Anton se stem. Weet jy hoe warm dit is, vra hy? My 2008 Hilux het nie ʼn termometer in nie, maar ek weet dit is HEL warm. 43, kom dit oor die radio as daar ʼn laggie van ongeloof in sy stem gehoor kan word.

In teenstelling met wat ons oor die radio gesels het oor die temperatuur wat nou sal sak, klim die kwik nog verder tot 44 teen net na vyf en Moeksie se moedeloosheid beaam dat dit nou WARM is. Die pad na Nossob is redelik en ons vorder fluks, met die normale gemsbokke, hartbeeste, blouwildebeeste, springbokke, en ander bok- en voëlsoorte wat ons redelik gereeld opmerk. Ons stop net as hulle BAIE naby is en ʼn Kodak moment bied. (dis wat ek dit noem as daar ʼn goeie en mooi foto is).

By Nossob aangekom, boek ons in en gaan soek die grootste koelteboom wat daar is, maar ons is nie so gelukkig nie. Die malkoppie kampers het almal reeds onder die koelte opgeslaan, en jy kan die moedeloosheid op almal se gesigte sien.  Soos ek gesê het, ek wil die “malkoppies” sien wat in hierdie hitte in die Kgalagadi kom kamp en was ek verbaas om soveel van hulle te sien. Baie was buitelanders wat met gehuurde bakkies met daktente op kamp.  Selfs die groot bome waar daar nie krag is nie, aan die Oostekant van die kampterrein, is almal gevat. In hierdie hitte sal ek ook die koelte bo krag verkies – maar dit sê ek maklik want ek het ʼn solar paneel om krag te voorsien. Anton wys na die bosse aan die Westekant van die terrein en praat van takke snoei, maar na my oordeel sal net die stam oorbly as jy moet snoei om die waentjies daar in te kry. Dis ʼn nadeel van ʼn waentjietent en ook ʼn daktent op ʼn voertuig. Hy slaan hoog op, baie hoër as ʼn karavaan en beperk jou as die skadubome nie hoog genoeg is nie. Einde ten laaste kry ek my waentjie so halfpad onder die boom in die middel van die kampterrein in. Dis die groep se besluit, want ons gaan by my waentjie kuier en braai en Anton kies die boompie nie vêr van daar af nie. Die boompie is redelik klein en hy stop die waentjie maar langs die boom. Die son is nog hoog vir hierdie tyd van die dag, maar ons besluit om op te slaan en net rustig in die kamp te kuier. Die opslaan gaan maar stadig en sweterig, ʼn gemengde gevoel van – dis lekker om hier te wees, maar die hitte is ondraaglik. Ek moet erken, wat nie ʼn groot bierdrinker nie, maar daardie “ching-ching” wat Anton uit sy yskas gehaal het, was ʼn lewensredder. (dis ons manier om cheers te sê, jy kyk mekaar in die oog en as die drankies mekaar raak, sê jy “ching-ching”).

Ons stap rustig na die hide naby die ingangshek van die kamp om te gaan kyk of daar enige diere is wat ook so warm soos ons kry en lafenis by die watergat kom soek. Daar is baie duiwe wat op die watergat toesak en voor almal kan drink, dan fladder hulle weer bome se kant toe, so asof hulle skrikgemaak word. Dan kom hulle weer om die dors te les, eers een, dan nog een en dan soveel van hulle op ʼn slag, dat hulle bo-op mekaar te lande kom op die rand van die suiping, om ook ʼn teug te kry. Dis asof hulle eers kyk wat gebeur met die eerstelinge, die waaghalsiges, ʼn rukkie wag en as die eerstelinge begin drink, dan is dit asof almal gelyk geroep word om te kom drink. Almal op een slag. Ek sou later leer dat die opfladder teweeg gebring word deur die Swerfvalk wat op die watergat afduik, teen so vinnig as 300 km/uur, om sy prooi, veral duiwe, in die lug te onderskep.

Ons vertoef nie lank nie en gaan koop koeldrank en ys by die winkeltjie net voor toemaaktyd. Die tyd wat ons in die winkel spandeer is oortollig vir die paar goedjies wat ons wil koop, maar die aircon wat die lug afkoel bring ʼn lafenis wat jou laat dink om jou matras te gaan haal en hier te kom oornag.

Die vrouens is besig en Anton gesels met die buurman as ek, kamera in hand, die veld onderkant die swembad instap tot by die heining. By die swembad volg die duisende duiwe, so lyk dit as hulle skielik almal gelyk opfladder, dieselfde ritueel as by die watergat. Die horison word geskilder met kleure wat nog nie ʼn naam het nie, as die son laag begin sak. Die wolkies in die lug en die kameeldorings in die skildery maak hom besonder en ek is bang ek neem te min foto’s, want elke minuut verander die Skilder die prentjie.  

Ek voel weer klein as ek so na die skildery staar. ʼn Skildery wat beleef moet word en nie op doek of op ʼn foto vasgevang kan word nie, want sien, ʼn foto kan nie emosie aan die kyker oordra nie. Jy moet hier wees en dit beleef! In die stilgebed soos ek staan en staar, probeer ek my dankbaarheid beskryf dat èk dit kan aanskou, hier op hierdie plek. Te veel om voor dankbaar te wees en my gemoed raak vol, ʼn GROOT stuk onverdiende genade, sê ek in my binneste. Elke sonsondergang is uniek, maar hierdie een het ander betekenis.

Die vuur brand en ons klink soos kinders wat kersgeskenke oopmaak as ons die reis tot hier weer en weer bespreek. Elke oomblik en belewenis weer op te roep en te verwoord, die een hoogtepunt op die ander. Dit voel nog onwerklik, besig om rondom die grense van ons land te reis. Dit voel eerder soos ʼn onvergeetlike vakansie wat oor ʼn paar dae moet klaarmaak. Die vleis wat Anton braai, proe lekker en na ete sit ons nog lank en gesels. Dis nog gans te warm om kooi toe te gaan.

Dis Moeksie se rondrol en wat nie haar lê kan kry nie, wat my vertel dat sy warm kry en nie kan slaap nie. Die hitte wil nie breek nie en dit gaan maar slaap-wakker-slaap-wakker die hele nag deur.

  • Skemers is en lyk maar altyd op vakansie anders as wat mens dit by die huis beleef. Sien uit na elke episode wat voorlê.

  • Wel as n mens op so n besonderse plek wil uitkamp moet n mens seker n bietjie ongerief kan vat – solank daar net nie muskiete ook is nie!!

  • Leave a reply