Dag 12

Dinsdag 26 Julie 2016

Dis nie lekker om vanoggend op te pak nie, wil nog minstens ‘n week hier bly, hier waar jy jouself weer beter leer ken. Dis net voor nege as Ryan die hek kom oopsluit en ons voorspoed toewens.

So met die wegry val dit my op. Wat vreemd omtrent die kamp is, is dat Ryan die hek oopsluit om in te kom en weer om die volgende oggend te ry.  Dit kan nie oor veiligheid gaan nie, want hulle rekenaars staan dag en nag in die tuin onder n afdak en hulle het  ‘n goeie verhouding met die plaaslike Himbas. Wonder net. Seker maar vir privaatheid dat enige besoeker nie net kan inry nie.

Ons roete vandag is enige iets tussen 150 en 200 km, weet nog nie presies waar ons gaan stop nie. Ons wil iewers in die Olifants Vloedvlake, in die Kumib rivier kamp. Die eerste 60 km is terug deur die Marienfluss, dieselfde paadjie waarmee ons gekom het. Dis weer die grasvlaktes, springbokke, volstruise en gemsbokke wat jou oral langs die pad begroet. Die berge aan weerskante van die vlakte lyk ook anders vandag, ‘n ander kleur as die son uit ‘n ander hoek die prentjie inkleur. Al baie fotos van die Marienfluss gesien, maar nog nooit so mooi soos dit werklik is nie, moet dit self beleef.

Die eerste stop, nie ver van die afdraai na die voet van Van Zyl’s pas nie, is die wrak van die Land Rover wat tydens die grensoorlog ‘n landmyn getrap het. As ons so langs hom staan, flits ‘n paar beelde deur my gedagtes, die tyd toe ek hier bo was tydens die grensoorlog.

Die terein van hier af verander van vlakte na koppies en berge. Dis ongeveer 10 km in ‘n Suid Westelike rigting tot by Rooidrom. Net sodra jy dink die volgende prentjie kan nie beter wees as die vorige een nie, word jy keer op keer verras! 

Hier is 4 ou 50 galon dromme (200L) wat bekende bakens is vir mense wat hierdie wêreld besoek. Rooidrom, dan Bloudrom 17km reg Wes, Oranjedrom ‘n verdere 10km Wes en laaste Groendrom nog 19km verder, see se kant toe. Dit vorm ‘n lyn wat die Marienfuss in die Noorde en die Orupembe streek in die Suide van mekaar skei. Van elkeen van die dromme af is daar ‘n roete Noord en Suid. Rooidrom is vroeër jare deur Ben Van Zyl hier geplaas, gevul met brandstof daardie jare, vir ‘n volgende keer as hy hier moet verbykom en brandstof benodig. ‘n Ander storie wil dit hê dat dit hier geplaas is deur SA helikopter pilots, was brandstof vir die operasies wat van hier af in Angola uitgevoer was tydens die grensoorlog.

By Rooidrom word daar gestop om eers weer ‘n klip te pak, jou naam en datum op die klip te skryf om te sê jy was ook hier. Dis terwyl die kameras so klik, klik, dat my oog die voertuig raaksien wat uit die Suide ons kant toe kom. Dan stop hy ‘n paar honderd meter van ons af en ek wonder wat aangaan. Ons wag ‘n rukkie en hy kom nader en stop weer. Ek stap nader om kennis te maak en te hoor van waar hulle kom en waarheen is hulle oppad. Dis toe ek my kop by die passasierskant se venster sit dat ek my oë nie kan glo nie!

Hier voor my sit Cobus Wessels en vroulief Liezel. Cobus is ‘n oud kollega en vriend van my en ek ken vir Liezel ook baie goed, sy het vir jare bemarkingswerk vir ons gedoen. Kan nie glo die wêreld is SO klein nie, mekaar hier by Rooidrom moet raakloop!? Hulle klim uit en daar word opgewonde stories uitgeruil. Hulle kom nou van die Suide af, oor die Rooidrom pas en Jouberts pas gery vanaf Orupembe en is oppad na ‘n lodge langs Camp Syncro. Ons wil nie te veel tyd mors nie en ek nooi hulle om saam te ry tot by Bloudrom waar hulle kan omdraai as ons die pad Suid vat.

Dit gons behoorlik oor die radios (het vir Cobus my handradio gegee) as ons verlore jare wil opvang. By Bloudrom stop ons en geniet padkos so tussen die gesels deur. Kan weer nie glo ons loop mekaar hier raak nie. Ons verkyk ons aan die talle items wat hier aangebrings is : ‘n Telefoon hokkie en satelietskottel met byskrifte wat jou laat skater. Cobus en Liezel draai terug en ons vat die pad Suid, nadat ons eers padkos geniet het. Van hier af raak dit weer vlakte, met geen gras nie en net klippe so ver die oog kan sien.

Die pad raak nou ongelooflik sleg, sinkplaat en klippe, maak nie saak watter spore (en daar is baie) jy probeer volg nie. Daar is ook nie ‘n goeie spoed nie – alles skud uitmekaar. Die omgewing maak egter op daarvoor, veral as die gemsbokke op die vlakte staan en wonder wat soek ons hier. Dis as jy by die stukkende buitebande verbyry, dat jy spoed verminder en ekstra fokus op die pad voor jou, net nie nou ‘n band verloor nie!

Die sowat 70km vanaf Bloudrom tot by Orupembe neem ons die beste part van 2 ure en is net voor 17:00 by die polisiestasie op Orupembe. Die is ‘n baie netjiese groot gebou en veilig toegekamp. Die polisieman stap nader en groet vriendelik in Afrikaans. Ons doen navraag oor die roete van hier af Purros toe, waar ons môre aand wil kamp. Hy beduie hoe om te ry om by die Khumib rivierpad uit te kom wat ons deur die Olifant Vloedvlakte sal vat tot by Purros. Hy sê dis veilig en kan enige plek in die rivierbedding kamp.

Ons ry eers by die winkeltjie, ‘n geboutjie van 3m x 3m, verby en is nuuskierig om binne te gaan kyk. Die vrou groet vriendelik en sê die voorraad is min, net ‘n paar blikkies baked beans, tamatiesous, olie en seep op die rak. Sy sê dit was ‘n besige naweek en sy is uitverkoop. Wonder so by myself wat “besig” vir haar beteken, dalk 6 of 8 items verkoop ?

So 500 meter verder is ‘n Himba nedersetting met sy tradisionele bokkampe. Ons draai so ‘n kilometer of 2 verder, van die pad af, die rivierloop in. Dis waar die Khumib rivierbedding 4×4 roete begin, weer ‘n lekker 4×4 uitdaging. Die rivierbedding is nie baie breed nie en redelik dik sand, maar hy ry lekker. Oral sien jy die tekens van as van die vuurmaakplek, langs die oewer en tussen die klippe, waar ons voorgangers gekamp het. Moet sê, behalwe die as, is daar geen rommel wat gelos was nie. Skoon soos dit hoort.

Na so ongeveer 5 km stop ons by die boom wat op die oewer staan en so effe oor die rivierbedding groei. Die ideale kampplek en ons besluit om net hier te slaap vir die nag.  In ‘n rivierloop, Barend se droom, hy wou dit nog altyd doen. Ek het ook altyd hiervan gedroom, stop iewers, slaan kamp op en GEEN gedagte van onveiligheid nie, so in die natuur.

Dis so 17:40 as ons begin kamp opslaan en rondgestap word om die area te verken. Ons stap rond en verken die area. Die stilte is oorverdowend as ons later rustig op die stoele sit en ontspan, die oomblik probeer verwerk. Die geroep van die Ludwigse pou in die verte vang ons eers onkant, ken nie die klank nie en moes gaan kyk om te sien waar dit vandaan kom.

Ludwigse Pou

Dis more Elsa se verjaarsdag en Barend het ‘n 50 jaar oue bottel rooiwyn spesiaal vir die geleentheid saamgebring. Hulle het besluit om die bottel vanaand al oop te maak en die verjaarsdag te begin vier. Vanaand geen ek fles vat, die geleentheid is reg. Die kameras kliek as die son stadig op die horison wegraak.

Ons sit tot laataand om die kampvuur en gesels, kan nie uitgepraat raak oor die ervaring tot nou toe nie. Dit het lekker koud geword en ons gooi nog hout op die vuur vir ‘n bietjie hitte  – Elsa het haarself in ‘n kombers toegerol.

More se roete is redelik kort en die pad is nie te rof nie, so daar word besluit ons kan maar inlê more oggend. Dis koud! Vanaand gaan ons naby mekaar slaap!

  • Goeie Dag Hollies. Wanneer plaas jy dag 13 op jou blog? Wag nou al van 08:00 en elke 1/2 uur kyk vir nuus, maar geen nuus. Ek het n Isuzu KB300 E/C met n AHA-15 agterop. Kan ek van Zyl’spass met dit agterop aandurf?Die “camper” weeg +/-400kg vol gelaai.

    • Bennie, daar is al BAIE mense met off road karavane ook daar af. Daar is baie ander faktore wat gaan bepaal of jy dit sal kan doen. Ek sal dit verseker weer doen, maar weer so lig as moontlik ry. Elke man is elke man.

  • Leave a reply