Dag 13

Woensdag 27 Julie 2016

Dit was verskriklik koud deur die nag en ek het lanklaas so koud geslaap. Ek en Moeksie is vroeg uit, net nadat die korhaan vir Elsa op haar 63ste verjaarsdag kom sing het. Dis ons gebruik om vir iemand wat verjaar te sing, vroegoggend. Die kaartjie wat Barend vir Elsa gee maak dit vir haar BAIE spesiaal. Sy sê dit is maklik die beste verjaarsdag, gister aand se kuier ingesluit, van haar lewe.

Na ontbyt pak ons rustig op, niemand wil regtig hierdie ongerepte natuurskoon, wat so vinnig onder ons vel ingekruip het, verlaat nie.  Elkeen met graaf en die nodige “wit goud”, word daar ook eers “veld inspeksie” gedoen. Dan eers vat ons die rivierbedding verder. Ons is nie haastig nie, want dis slegs 70 km tot by Puros en volgens inligting is die rivierbedding ‘n redelike goeie sandpad.

Die omgewing verander gedurig as ons, dan in en dan langs die rivierbedding ry. Na ongeveer 30 km in die rivierbedding, draai ons links uit op die Woestynolifant 4×4 roete na Puros. Die terrein verander na redelike bergagtige landskap en oral wil jy net stop en fotos neem. Hier is net weer die bewys dat Namibië werklik ‘n land van kontraste is. Dis onbeskryflik mooi! Die roete is ongeveer 17km voor jy in die Hoarusibrivierbedding beland. Op ‘n stadium ry ons deur ‘n gorge waar ons eers stop en padkos geniet. Wil sommer net hier kamp opslaan! Die rotsformasies is aasemrowend!

Ons vat dit BAIE rustig en stop kort-kort om fotos te neem van die ongelooflikste rots formasies of om net die omgewing te bewonder. Niemand is haastig nie. Dis net voor ons hier van bo af afry na die rivierbedding, wat ons eers moet stop om die prentjie voor ons in te neem. Die ongelooflike vallei wat voor ons oopvou en die ongelooflikste Kodak moments bied.

Die 28km in die Hoarusib is ‘n nuwe hoogtepunt en sien kameelperde, volstruise, zebras, voëls en Himbakrale wat kort-kort hulle verskyning maak. Selfs ‘n Kleinsingvalk (Gabar Goshawk) het vir ons die dag spesiaal gemaak. Die rivierbedding is redelik toegegroei en ry meeste van die tyd langs die rivierbedding. Ons is die heeltyd op die uitkyk vir olifante want oral lê redelike vars mis. Op ‘n stadium is daar ‘n koppie aan die rivierkant. Ons ry met die paadjie boontoe en bewonder die uitsig. Kan nie genoeg hiervan inneem nie en vertoef ‘n hele ruk voor ons die pad verder aandurf.

Die laaste paar kilometer raak die rivierbedding lekker wyd oop en geniet die sand. Oral lê die groot boomstompe in die rivierbedding, bome wat deur die water oor jare ontwortel en omgespoel het. Glo ook dit kan die werk van die olifante wees.

Dis 15:30 as ons die vlakte by Puros inry waar die kameelperde ons begroet. Ons ry eers na die verkeerde lodge toe, maar is sommer gou die regte rigting gewys.

By Puros Gemeenskapskamp word ons vriendelik ontvang en gewys waar ons kampplek is. Ons betaal vir een aand en die man loop voor ons uit tot by die kampplek. Dis ‘n lekker beskutte kampplek reg op die droë rivierbedding. Oral is die spore van die olifante sigbaar, gebreekte takke en baie mis. Die man sê die olifante is ‘n paar dae terug hier verby, Suid geloop, maar mag dalk nog in die omgewing wees. Moet maar alles mooi bêre as ons nie skade wil hê nie.

Ek is mal oor ons kampplek! Hier is ‘n netjiese klipstruktuur met ‘n opwas en lopende water. Die sementblad is baie gerieflik vir pak- en werkspasie. Die ablusie is ‘n entjie verder en word met ander kampers gedeel. Dis ‘n riet-omheinde sementblad met ‘n stort en spoeltoilet. Die binnekant is regtig netjies met ‘n wasbak en ‘n spieël! Warm water word deur die donkie verskaf wat self gestook moet word. Nogal verbaas om twee of drie ander kampers ook in die omgewing te sien. Die kampplekke is ver uitmekaar en goed weggesteek tussen die welige plantegroei en bome. Ons gaan lekker kamp!

Na die rit van 7 ure en redelike stof, is ons moeg maar gevul met natuurskoonheid soos min!!   Kan nie wag om ‘n lekker warm stort te vat nie, so die opslaan gaan redelik vinnig. Dis ek en Barend wat my bakkie vat en in die rivierbedding terugry, wil een van daai lekker boomstompe gaan haak en kamp toe sleep. Gaan vanaand GROOT vuur maak.

Moeksie sê ons sal hulle kosbeurt vir vanaand oorneem, Elsa kan ontspan, dis haar verjaarsdag. Elsa kan nie genoeg dankie sê nie en het groot waardering vir die gebaar. Ons gaan een-een stort en jy kan op die gesigte sien van die wat teruggestap kom, dit was LEKKER! Dis tyd om brandstof uit die jerry kanne in die voertuie te kry, die tenks raak leeg. Ons kan eers weer by Palmwag volmaak. Barend sê hy is nog reg, kan nog vêr ry voor hy brandstof gaan nodig kry.

Dis nog redelik lank voor sononder as die vuur aangesteek word, ons het BAIE hout vir die aand. Ons sit rustig en dit raak koel as die son wegraak. As jy so na die vuur sit en kyk, besef jy opnuut dit is wat jou voed, vrede gee en weet daar is n Hemelse Vader wat dit vir ons wil gee, ons moet net wegbreek van die aardse besittings, roem en geld! Ons is bevoorreg om dit te kan doen!

Almal is al kooi toe as ek nog die vuur geniet, wil nie gaan slaap nie, bang dit raak op. Ek gooi die stomp wat brand met sand toe, wil nie moeilikheid deur die nag hê as die wind opkom en die vonke rondwaai nie. Gaan nou lekker slaap.

Leave a reply