Dag 14

Donderdag 28 Julie 2016

Ons is weer vroeg uit die vere, so by tweede mossie en ons pak op. Vandag se roete is die laaste dag van ongerepte natuur, voor ons weer met die beskawing kennis maak. Die roete is ongeveer 160 km rivierpad tot by Sesfontein en dan nog so 43 km goeie grondpad tot by Khowarib lodge, waar ons gaan oorslaap.

Dis net na 07:00 as die voertuie aangeskakel word, reg om te ry. Die eerste 15 km in die Huarushib rivier tot by Puros Canyon is ‘n nat rivierbedding met stroompies water wat ons gereeld oorkruis. Daar is baie springbokke, gemsbokke en ‘n verskeidenheid voëls. Iewers langs die pad word daar gestop om te voet na die waterbron te gaan kyk. Ons oë dwaal heeltyd rond op soek na die olifante. Die omgewing is asemrowend en die een toneel mooier as die ander en jy wonder of hierdie gedeelte God se gunsteling plek is.

Die Puros Canyon is ‘n nou kloof in die rivierbedding wat jy moet deur en kan jy moeilikheid hê as die watervlak te hoog is. Ons hou stil en die kameras hou aan kliek. Dis ‘n ongelooflike mooi gesig.

Die volgende 10km ry ons tussen redelike nou klowe in die berge met die mooiste natuurskoon, tot by die vloedvlakte, waar die Hoarusib rivier Oos draai see se kant toe.

Die aarde maak oop hier voor ons en in die verte, op die horison, is strukture wat lyk na ‘n lodge wat op die berg gebou is.

Dan kom dit oor die radio : Daar is hulle, daar’s hulle, die olifante!!! Dis ‘n bul, ‘n koei en ‘n baie klein kalfie hier in die bosse links van ons. Kan nie ons geluk glo nie en stop om fotos te neem. Die koei is ge-iriteerd as ons te lank na haar sin stilhou, sy beskerm die klein kalf. Na nog ‘n paar fotos word daar verder gery. Die strukture teen die berg was toe inderdaad ‘n lodge, Leylands Drift lodge. Ons neem die bergpad na regs en ry op na die lodge.

Dis verlate en nie ‘n siel in sig nie, maar alles is oop! Dis ‘n baie netjiese lodge met die ongelooflikste uitsig oor die vlakte. Hier is 8 losstaande chalets teen die hange van die berg gebou, 4 elk weerskante van die hoof gebou. Op die dek van die hoof gebou is ‘n baie netjiese eetsaal. Dis as ons voor op die dek gaan staan dat ons die twee olifante en die klein kalfie van vroëer sien wat water toe stap. Woorde en fotos kan nie beskryf wat voor mense-oog afspeel nie, nogtans hou die kameras aan kliek. Ons staan lank en staar voor ons ons emosies met mekaar deel. Wat ‘n ongelooflike ervaring !!

Vanaf die lodge is dit in ‘n Suid Westelike rigting uit die Hoarusib rivierbedding. Dis nou 72 km van meer bergagtige landskap en later deur die Ganias vlakte tot by die Hoarib rivier verder Suid. Die pad loop parallel met die see, wat soos die kraai vlieg, 40 km Oos lê. Die landskap verhoed jou egter om die see te kan sien. Die pad is baie redelik en by tye maak die aarde oop in die ongelooflikste vlaktes waar jy die toekoms kan sien aankom. Van die dele is woestyn met net sand en klip, geen boom of plant in sig nie. Selfs hierdie dele het ‘n bekoring van hul eie, die niks waarna jy kyk.

Die wêreld voor ons verander skielik van rotsagtige omgewing na sandvlakte. Dis toe dat ek weet ons is nou naby aan die Ampspoort gorge. Ons kom eindelik by die Hoarib rivier uit en draai Wes, see se kant toe. Volgens ons beplanning wil ons graag ‘n ent in die Amspoort gorge afry om die gebied te verken. Hier is dit harde vlaktepad en ry jy gemaklik 50 – 60 km/uur. Dis na ongeveer 5km dat ek vir Barend oor die radio sê ons sal nie verder kan gaan nie, my brandstof raak min. Ons stop en kyk in die verte na waar die gorge wegraak, sou graag verder wou ry ,maar ek moes ‘n call maak. Ons ry terug waar jy in die Hoarib rivier ingekom het en stop onder ‘n groot doringboom waar ons gaan piekniek hou.

Groot is die verbasing as ons vele ander voertuie sien wat hier onder bome geparkeer staan en mense wat rondstaan en kuier, van die mense sit by kamptafeltjies en eet. Dit is toeroperateurs wat mense van Sesfontein, Palmwag en die omgewing vir daguitstappies tot hier bring. Die Hoarib 4×4 roete is BAIE gewild as gevolg van die verskeidenheid en getalle wild wat jy op die roete sien. Hier is olifante ook en as jy baie gelukkig is, sien jy renosters en leeus ook. Het die artikel gelees van die 5 musketeers, die 5 leeus was hier oorleef. Die een leeu is ongelukkig deur die locals vergiftig net voor ons die toer begin het, hy het uit die bewaringsgebied beweeg en beeste gavang. Ons het later gehoor nog 3 is doodgeskiet. Die oorlewende mannetjie is blykbaar geskuif, weg van die beskawing af.

Die net voor 14:00 as die bakkie se flap agter oopgemaak word en as tafel dien. Die padkos smaak soos nog, nie die honger nie, maar die omgewing wat dit ‘n ander smaak gee. Die groot Annasbome oral in die rivierbedding is asemrowend. Dis pragtig hier en ek wil sommer net hier in die rivierbedding kamp opslaan, maar die tekens sê duidelik : NO CAMPING! Ek stap na een van die operateurs se voertuie en begin gesels. Hulle het heelwat olifante, kameelperde, gembsbokke en springbokke gesien op pad in, maar geen leeus of renosters nie. Miskien gelukkiger met die uitgaanslag.

Net na 15:00 is almal weer mobiel en pak die laaste 100 km vir die dag aan. Die rivierpad is nog ongeveer 50 km, waarna jy uit die rivierbedding ry en dan die 10 km stofpad, BAIE BAIE stof, al langs die rivier vat tot by die grootpad na Sesfontein. Daar is baie wild en ons stop oral om fotos te neem. Die rivierpad ry lekker en ons geniet die 4×4 in die dik sand. Die olifante is volop en sommer naby vir mooi fotos. 

Na ongeveer 30 km kom ons by Die Poort aan, ‘n baie nou deurgang in die rivierbedding met rotse weerskante. Weer eers stop, uitklim en probeer inneem en fotos versamel. Hier is ook baie olifantspore en hulle moes die afgelope dag of twee hier deurbeweeg het.

Die Poort
Die Poort

Dis net na 5 as ons by die Elephant Song village uit die Hoanib rivier moet uit. Dis ‘n verlate nedersetting, blykbaar te veel deur die olifante gepla en besluit om elders te gaan bly. Die 10 km tot by die grootpad stel nie teleur nie, soos hulle gewaarsku het, stof, baie stof, eintlik meer ‘n poeier. Dis soos water in poele as jy daar deurry en bedek die voertuie sodat jy vir sekondes NIKS kan sien nie. Dis erg !!!!

By Sesfontein moet ek eers gou by die bottelstoor in, my proviant is laag en wie weet, miskien, net miskien, word daar fles gevat vanaand, want ons is nou terug in die beskawing.

Ek ry eers ‘n draai by die Fort om vir Barend en Elsa die lodge te gaan wys.

Dis net voor ses as ons by Khowarib Lodge inboek. ‘n Baie netjiese plek en selfs ‘n swembad by die lodge area. Die ablusie is baie netjies, skoon en die donkies doen weer die ding vir warm water.

Daar word ‘n lekker vuur gemaak en deel die dag se gebeure. Wat ‘n ONGELOOFLIKE dag! Ek moet erken, dit was seker een van die beter dae in my toer-lewe, al het ons nie die renosters of leeus gesien nie.

Die sterre lyk weer naby vanaand, so helder en so baie. Ons gaan, soos elke ander aand, weer lekker slaap.

Leave a reply