Dag 16

Saterdag 30 Julie 2016

Niks jaag ons nie en lê laat. Moeksie en Elsa maak gebruik van die geriewe om op te vang met die wasgoed. Barend het opgemerk dat die bakkie se laaisisteem, agter in die bak, ook losgekom het. Hierdie is nie ‘n vinnige herstelwerkie nie en ons pak eers alles agter uit die sy bakkie. Van die boute wat losgeskud het is maklik om weer vas te kry, maar die twee aan die voorkante onder, se boutjies is soek. Dis ook onmoontlik om maklik jou hand by hulle te kry sonder om die hele stelse uit te haal, wat NIE nou gaan gebeur nie.

‘n Boer maak ‘n plan en ‘n skroewedraaier word met ductape aan ‘n besemstok vasgemaak. Dan word die boudjie met prestik aan die skroewerdaaier “geplak” en onder die laaistelsel deur, vorentoe beweeg tot in posisie. Dis eers na die derde poging dat ons die eerste een reg het. Die tweede een gaan bietjie vinniger en na so twee ure is als weer reg. Die roofrack word ook weer nagegaan om seker te maak hy is vas.

Ek laai my bakkie ook leeg, het nou die tyd om alles lekker skoon te spuit en was. Die stof is oral in en dit vat ‘n uur plus voor die ergste stof uit is. Nie te veel gepla nie, solank die ergste stof uit die kajuit is, is ek gelukkig. Ons gaan nog heelwat grondpad ry en sal weer by die huis ‘n valet laat doen. Barend was sy bakkie ook.

Later stap ons lodge toe en kuier ‘n wyle daar. Die dekor aan die binnekant is rerig uniek en baie oorspronklik. Die swembad voor op die gras kan ‘n wenner wees as die weer dit toelaat, maar dis nog effe koel daarvoor. Die uitsig van hier bo af Noorde toe is baie mooi. Die beskikbaarheid van Wi-Fi maak dat ons langer vertoef, wil net eers vir almal laat weet ons is veilig.

Die res van die middag is almal rustig om die kamp. Ons pak alles weer terug in die voertuie nadat dit eers afgevee is. Stap later in die veld en kyk na die ander kampplekke. Daar is ‘n paar wat groter groepe kan hanteer indien hulle op dieselfde plek wil kamp. Almal het gras en ek sal weer hier kom oorbly.

Net sodra die sonnetjie weg is, word daar vuur aangesteek. Gaan vanaand weer braai. Ons kuier weer tot laat as ons nie uitgepraat kan raak oor die toer nie. Dis nog nie klaar nie en sien uit na ons kuier in Etosha.

Leave a reply