Dag 17

Sondag 31 Julie 2016

Ons staan laat op, geen haas nie, ry vandag tot by Halali in die Etosha Nasionale Park, sowat 120 km vir die dag. Op die pad Etosha toe, stop ons eers by ander lodges om te verken vir toekomstige toere. Dis net voor 10 wanneer ons by die Anderson hek stop. Daar is ‘n paar ander voertuie voor ons in die ry en gebruik die wagtyd om “skelm” fotos te neem van die Himba vroue in hulle tradisionele drag hier langs die pad. Hulle maak ‘n bestaan deur jou geld te vra om ‘n foto van hulle te neem en allerlei te verkoop.

Ons ry deur tot by Okaukuejo, die hoof kamp in Etosha. Hier is net drie kampe in die park, Okaukuejo hier in die Weste, Halali in die middel en Namutoni in die Ooste. Ons boek in en die gevlekte lyster hier by die ontvangs se deur op die gras, pronk behoorlik vir ‘n foto. 

Na die inboek gaan loer eers of daar nie diere by die watergat langs die kamp is nie. Hierdie is een van die beter watergate wat ek al by ‘n kamp gesien het en het al baie mooi fotos hier geneem. Die watergat is ongeveer 20m van die kampheining af en hier is ‘n paviljoen gebou waar jy heeldag kan sit en diere kyk. Glo my, hier kom BAIE diere daagliks hierdie watergat besoek. Ons sien darem ‘n klompie springbokke, koedoe’s en gemsbokke maar vertoef nie lank nie.

Ons is net na 11 by die kamphek uit, op ons pad na Halali wat sowat 70 km verder is. Deur stadig te ry word daar heelwat wild gesien. Die Nebrownii watergat lewer mooi kodak moments op met al die diere wat kom water suip, jakkals, kameelperd, gemsbokke, springbokke, volstruise  &  blou wildebeeste.  Selfs ‘n Berghaan het kom sit en water drink. 

Op die pad verder sien ons baie olifante en die gemsbok met sy skewe horing lyk soos die een wat ek in die Kgalagadi gesien het.

Om 17:20 hou ons stil by die kantoor in Halali waar ons weer moet inboek. Jy kan nie ‘n staanplek bespreek nie en dis op ‘n first come first serve basis, selfde as ons parke. Ons ry deur die kamp en soek ‘n lekker plek, verkieslik met bietjie koelte en nie te ver van die ablusie af nie. Die windjie waai en daar is oral stof. Ek het as jong tjokkertjie laas in Halali geslaap, toe ook in ‘n chalet. Dit was saam met my ouers toe ons deur Namibië kom toer het. Ken die ander twee kampe redelik goed en het al baie by hulle gekamp oor die afgelope jare.

Ons is gelukkig en kry twee staanplekke (sementblaaie) langs mekaar met ‘n braaiplek, sement tafeltjie en bankies waar daar kamp opgeslaan word en besluit om later na die uitkykpunt by die watergat te stap.

Ek is bevoorreg om redelik baie parke oor die jare te kon besoek, Kruger, Addo, Kgalagadi, Sentraal Kalaharie, ens, ens en selfs die Seringeti. Mense vra gereeld watter is my gunsteling park. Dis moeilik, want elke park, soos kampplek, het sy eie bekoring. Selfs parke soos Richtersveld, wat jy nie gaan besoek vir sy dierelewe nie, maar vir die plante en natuurskoon wat hy bied, is ongelooflik mooi!

Na ‘n besoek aan die winkeltjie om data te koop vir die WiFi, stap ons watergat toe. Moet net gou eers die Nonnetjieuil in die boom hier langs die winkeltjie groet. 

Hier is lekker bankies onder ‘n afdak van latte gebou, maar ons neem stelling in op die rotse en maak onsself gemaklik. Hier is heelwat mense wat die dag kom groet hier by die watergat. Die klippe raak bietjie hard want as jy eers ‘n swart renoster sien, dan beweeg jy nie maklik nie. Koedoe, springbok, zebra en olifante het ‘n draai kom maak.

Die swart renoster wat kom water suip, skuur eers die jeuk van sy maag af op die rots langs die watergat. Heelwat ander wild kom ook in en is min gepla deur ons wat hier bo sit en op hulle afkyk. Wil net hier bly, die rustigheid en die natuur wat jou binneste anders laat voel. 

Die son, wat soos ‘n rooi bal op die horison hang, kondig aan ons moet gaan kosmaak.

Die vuurtjie brand hoog as ons lekker om die tafeltjie sit en kuier. Die wind het gaan lê en dis een van daai perfekte aande. Die eerste keer as jy die asdrom hier oorkant jou hoor omval, skrik jy half en wonder wat aangaan. Dan sien jy die ratel wat die rommel uitkrap op soek na ietsie om te peusel. Dan hoor jy nog ‘n asdrom, hier is meer as een ratel wat kos soek. Sal maar vanaand ons goed mooi wegpak as ons gaan slaap.

Ons bespreek more se program en besluit om redelik vroeg te ry om diere te gaan kyk. Die slaap is ‘n wonder soete ding, veral na so lekker dag.

Leave a reply