Dag 18

Maandag 1 Augustus 2016

Ons is vroeg uit die vere en vat die pad in ‘n oostelike rigting. Oral is weer heelwat olifante, kameelperde, steenbokkies, springbokke, leeus, koedoes, swartneus rooibokke, renosters, hiëna, en ‘n veskeidenheid voëls.

Teen brunch is ons terug in die kamp, baie tevrede met die sightings van die oggend. Met vol magies pak ons die cooler bokse, gaan die res van die dag hier by die watergat deurbring. As ons stelling inneem op die bankies is dit die man met die groot video kamera hier voor ons wat ons aandag trek. Hy is ‘n proffesionele fotograaf wat fotos en videos neem vir verskeie internasionale maatskappye. Ek droom ook om, eendag as ek groot is, ‘n lens soos syne op my kamera te kan sit.

Ek is op ‘n stadium terug kamp toe en kry ‘n boodskap van my seun Jan Hendrik af. Barend se sus Marien soek hom, dis in verband met sy ma. Sy moeder is al 94 en was siek voor ons vertrek het. Haar toestand was egter so dat hulle besluit het om wel die toer te doen, aangesien sy goeie sorg in die aftreeoord kry.

Die res van die middag kuier ek en Moeksie lui-lekker hier by die watergat. Barend het intussen sy sus gaan kontak en sê dit gaan baie sleg met sy ma. Hulle sal daaroor praat en vanaand ‘n finale besluit neem. ‘n Witkoluil (Pearl-spotted Owlet) het vir groot vermaak gesorg die middag , het van boom tot boom saam met ons gekuier. Interessant hoe diere mekaar respekteer. Met die aankoms was daar ‘n maraboe, later het ‘n leeu wyfie gekyk of sy ‘n zebra kan vang maar vinnig besluit dit gaan nie werk nie.

’n Swartneusrooibok het n draai kom maak, ook ‘n jakkals. Later is ons verras met ‘n pragtige leeumannejite wat lui-lui aangestap gekom het, wat ook die wyfie se maat was – het ons ontdek. Nog n bietjie later het ‘n swartrenoster stadig inbeweeg en het die Leeumannetjie padgegee. 

Die swartrenoster het snaaks gelyk, kon eers nie agterkom wat skort met hom nie, tot ons merk hy het nie ore nie. Seker so gebore en ons wonder of hy kan hoor. Dit was seker die 8ste swartrenoster vir die middag, nog nooit soveel in so kort tyd gesien nie.

Dis lekker om met ‘n glasie wyn en snacks hier te sit en wag vir die volgende verrassing. Ons sit en fynkam die bos met die verkykers en dis opmerklik hoeveel diere jy sien as jy net sit en die bos deursoek. Kan maklik vir maande my kamp hier maak en die lewe leef! Wat ‘n voorreg om dit te kan ervaar en ook sommer met goeie vriende kan deel.

Vanaand gaan die saddle tjops pakslae gegee word. Ons braai almal want jy mag nie rou vleis Suid uit die park uit vat nie. Dit wat ons nie gaan verorber nie, sal more se padkos wees. Barend en Elsa het besluit om more huis toe te ry en die 7 oorblywende dae deur Botswana ‘n mis te gee. Hulle was darem al voorheen by Ngepi. Dis moeilike besluite, moet ek ry en gaan kyk of moet ek wag? Net jy self kan daardie besluit neem, gegrond op inligting en emosies wat NET JY ervaar. Dis altyd die regte besluit, vir jou.

Ons wil vroeg in die pad wees, Barend hulle terug deur Windhoek en beplan om in Ghanzi te oornag en die volgende dag deur te ry Johannesburg toe. Ek en Moeksie gaan in die rigting van Rundu en sal kyk waar ons gaan oorslaap. Ek slaap redelik onrustig en is kort-kort wakker. Die gedagte dat ons alleen moet aangaan maak die slaap moeilik.

Leave a reply