Dag 19

Dinsdag 2 Augustus 2016

Dis net na sewe as ons by Halali se hek uitry. Barend en Elsa draai links en ons regs, is nou op ons eie. Die pad tot op Namutoni is 74km en dis ‘n mooi grondpad. Ons ry stadig en stop gereeld as ons diere sien.

Ons sien weer baie olifante, al die boksoorte, kameelperde, renosters en leeus. Dis ‘n besondere park en die twee nagte wat ons hier spandeer het doen ‘n onreg aan die park. Moet ten minste ‘n week of langer hier spandeer om jou siel se battery weer te laai. Sal graag weer wil kom as die pan water in het, hulle sê dit is ‘n ander belewenis.

Dis net na 10:30 as ek en Moeksie by die Namutoni hek uitry. Van hier af ry ons die 157 km teerpad Suid tot op Grootfontein waar ons weer aankope doen. Ons stop nie by al die besienswaardighede (Otjikoto meer, Hoba metioriet, ens) nie, was al baie daar en ry om in Rundu te kom. Die teerpad van Grootfontein na Rundu is ‘n baie mooi pad en die 270 km gaan vinnig. Op pad onthou Moeksie van ‘n vriendin van haar wie se seun en die se vrou by ‘n Lodge in Rundu gewerk het. Ons plot Hakusembe in op die GPS en stop net na 4 by die ontvangs.

Dis ‘n baie netjiese lodge met huisies en dan ‘n kamp area ‘n entjie weg met 5 staanplekke, op die Okavangorivier. Elke staanplek het sy eie RUIM ablusie en opwas met warm water. Ons is bly ons het hier uitgekom! Langs ons is ‘n man in ‘n Unimog wat goed toegerus is. Hy is ‘n sendeling van Europa wat ‘n paar maande sebatical kom vat. Hy doen dit jaarliks, stoor die Unimog iewers en vlieg terug huis toe, so op sy eie.

Ons stap terug lodge toe en gaan geniet ‘n kouetjie op die “strand” langs die lapa. Kan sien hier word GROOT gekuier met die lekker sand onder jou voete, die boomstomp bankies en die vuurmaakplek. Ons sien hoe die son stadig sak oor die Okovango en later net ‘n rooi bol op die horison is. Hier kry die lewe sommer nuwe betekenis, die genade om hier te kan sit en die lewe in diepte te ervaar.  

Met die WiFi beskikbaar lees ek die boodskap van Barend. Hulle is veilig in Ghanzi en slaap oor in die hotel. Boodskap is dat sy moeder nog nie beter is nie en hulle is bly hulle is op pad, maar mis ons. Die gevoel is wedersyds.

Met die braaivuur wat hoog sy vlamme uitgooi, sit en kyk ons oor die Okavango, ‘n ongelooflike rustigheid met die stilte en die sterrehemel wat helderder lyk as op ander plekke. Na ete vat ek die visstok en stap jetty toe, op die punt van die kampplekke. Die sterk spotlight maak dit ‘n plesier om in te gooi en die spinner in te katrol. Die man by die lodge het gesê hier is tiervis en hier is al grotes gevang. Die water is egter nou te koud en die mense vang niks. So het ek  ook agtergekom na ‘n halfuur se spinners gooi.

Die shower se waterdruk is goed en die water warm. Dit maak die skoonkom sommer ‘n plesier. Moeksie is al in droomland as ek langs haar inskuif.

  • Leave a reply