Dag 20

Woensdag 3 Augustus 2016

Vanoggend slaap ons laat, nie haastig om die 230 km aan te durf nie. Dis teerpad tot by Bongani, die afdraai na Ngepi en dan nog sowat 4.5 km sandpad tot by Ngepi kamp.

Dis 13:30 as ons die afdraai na Ngepi vat. Was nog nooit hier nie, maar het al BAIE gehoor en gelees van die plek. Het al voorheen by ander plekke in die omgewing gekamp, maar nog nie hier nie. Dis sommer met die indraaislag wat jy eers stop en die bordjies langs die pad lees, ‘n MOET! Ek hou van die mense se sin vir humor en weet sommer ons gaan dit geniet.

Die oase wat ons begroet as ons by die ontvangs stop is onbeskryflik mooi. Pragtige grasperke tot teen die rivier met die groot bome wat oral koelte gee. Die vriendelike ontvangs en die aanbied van ‘n koppie koffie, al moet jy dit self maak, is rêrig 5 ster. Die koffie op die blad langs die lapa is gratis en jy kan jouself kom help, soveel kere as wat jy wil. Jy verstaar jou aan die kroeg area met al sy “versierings” en geskrifte. Ons boek in en die kaart wat die vrou vir ons gee wys waar ons kampplek is.

By staanplek no 20 aangekom is ons verbaas oor die grootte van die staanplek. Dis ook sommer langs die ablusie en baie belangrik, ek het maklike toegang tot die rivier vir visvang! Ons is in die paradys !!!! Hier stop jy jou voertuig op die sand en slaan kamp op op die netjiese gras. As hulle jou vang dat jou voertuig op die gras staan, betaal jy ‘n R200.00 boete, wil die gras beskerm. Staanplek no 20 het ook ‘n groot skerm uit riet gebou, met ‘n opwas en baie rakke vir pakplek. Ideaal vir ‘n groot groep.

Die opslaan gaan vining, net seker gamaak ons tent is nie in die pad van die seekoei wat snags hier van die rivier af uitkom om te wei nie. Die kabel wat gespan is om hulle te keer is nie meer in ‘n werkende toestand nie, maar dit pla my nie. Dis hulle wat sommer hard welkom sê net hier langs ons kampplek as ons opslaan, dis musiek in my ore.

Ons stap later die middag terug lodge toe, nogal ‘n stywe entjie, maar goeie oefening. Die huisies is oral langs die pad op die oewer van die rivier gebou, dit lyk WOW!! 

Die “swembad” by die lodge, wat in die rivier dryf, vang jou oog onmiddelik. Dis ‘n stelasie wat op dromme dryf, met mech in die middel, wat die swembad vorm. Dis natuurlik om jou veilig te hou teen die krokodille en seekoeie as jy swem!!

Die eetplek is ‘n lapa, half oor die rivier gebou, met die mooiste uitsig. Daar is ook ‘n kuier dek langsaan met gemakstoele, waar jy net rustig kan sit en ontspan, hier “op” die Okavango. Ons kan nie uitgepraat raak oor die plek nie. Barend se boodskap kom deur met die gratis WiFi wat ons geniet. Hulle is veilig tuis en mis ons en Ngepi. Sal more sy ma gaan besoek en laat weet.

Ek het sommer ‘n hele paar sakke hout gekoop, hoewel ons net twee nagte hier slaap. Hier gaan GROOT vreugdevure gebou word, ons kamp lekker. Die braaivleis proe na nog, veral as die seekoeie hier onder langs ons saamgesels. Raak ook seker lus vir ‘n stukkie braaivleis.

Die storte is ‘n ‘tuin” wat met riet toegekamp is, in die opelug soos Moeksie daarvan hou. Die nag hier in die paradys was onbeskryflik!

Leave a reply