Dag 21

Donderdag 4 Augustus 2016

Dis die gesnork van die seekoeie wat my wakker maak. Die son is al hoog as ek op die wal van die rivier staan, koffie in die hand, en na hulle kyk. Hier is ‘n hele klomp van hulle in die water, maar darem geen spoor teen die wal uit om te sê hulle het uitgekom om te wei nie.

Aan die oorkant van die rivier is dit deel van die Caprivi strook. Die bekende 32 Bateljon se basis, ook bekend as Koevoet, was tydens die grensoorlog net oorkant die rivier. Die buffels, olifante en ander diere wat daar rondloop gee kleur aan die prentjie waarna jy kyk. Bevoorreg!!

Die tyd het aangebreek, die tiere roep! Het al heelwat tiervis gevang, maar nog net van ‘n boot af. Sal kyk of die locals by die lodge waarheid gepraat het. Gesê hier is op die oomblik baie tiervis. Sommer met die eerste gooi, Mepps Black Fury no 3, haak ek die eerste een, so ongeveer 3 kg! Die adrinalien pomp as ek sommer binne ‘n uur meer as 12 tiere uithaal, waarvan ‘n hele paar tussen 3kg en 5kg was !! Kan dit nie glo nie en dink dadelik aan Elsa, hoe sy hierna uitgesien het.

Wat ‘n ONGELOOFLIKE ervaring en ek verlang sommer na my drie seuns wat nou hier moes wees, en Swaerie en boetie Jan en sommer almal wat al saam met my visgevang het. Dit gaan klink na ‘n vissermanstorie as ek moet oorvertel wat ek nou hier beleef. Die buurman langsaan, nie ‘n visserman nie, staan nader as hy my uitbundige geroep hoor : Come to papa, come to papa, elke keer as ek een haak.  Heelwat het natuurlik ook losgekom met die springslag as ek hom haak. Tiervis het ‘n manier om uit die water te spring, die oomblik as jy hom haak, dan moet jy die lyn heeltyd styf hou, anders is hy weg.

Moeksie sukkel om my te kry om brunch te kom maak, nog net enetjie, nog net enetjie. Die dag is nog jonk en ek sal laatmiddag weer ‘n paar gooie kom maak. Ek belowe myself dat ek vir ‘n week volgende jaar hier gaan kom kamp, op no 20, want die ander staanplekke het nie direkte toegang na die rivier nie. (Dit het toe ook so gebeur, my groep was 21 mense in totaal wat ‘n week hier kom kamp het, as deel na ‘n toer deur die Caprivi en Botswana. Ongelukkig het die tiere toe nie so geloop soos nou nie)

Ek en Moeksie is later weer lodge toe om op die dek te gaan sit en ‘n glasie wyn te geniet, terwyl ons die ervaring bespreek. Hier is baie aktiwiteite wat deur die lodge aangebied word, bootritte op die rivier, sun downer cruises, visvang op bote, mokoro ritte, voëlkyk, ens. ens. Genoeg om jou vir ‘n week besig te hou. Ek vertel haar van my droom vir volgende jaar en sy is baie ingenome met die plan.

Dis as Moeksie weer lekker op haar stoel sit en ontspan op die grasperk by die kamp dat ek weer die tiere gaan roep. Die : Mooi skattebol! Wat sy uitroep elke keer as ek een haak, wat my sê sy geniet dit saam met my. En vang weer 9 tiere, 3 redelike grotes. Ek is in my element!!!

Vannaand maak ons groot vuur. Wil nie hê dit moet verbygaan nie, wil vir laaaank hier bly.  Moeksie het deur die dag met Francois en Griet kontak gemaak, die twee wat voorheen by Hakusembe was en nou ‘n lodge net hier naby bestuur. Hulle is genooi om saam te kom braai en ons geniet die geselskap en al die stories wat hulle te vertel het.

Hy sê ons moet ‘n volgende keer by hulle kom kamp, dis net so mooi met elke staanplek sy eie ablusie. Dis laat-aand as ons gaste ry en ek raak vining aan die slaap, weer met die seekoei orkes hier onder in die rivier.

Leave a reply