Dag 22

Vrydag 5 Augustus 2016

Vandag se roete vat ons in Maun se rigting wat so 430 km ver is. Het ‘n hele paar jaar terug die Pan Handle pad gery. Dis die pad wat van die Caprivi af, al langs die Okavango Delta, tot in Sehithwa in die Suide strek, sowat 320 km. Die Mohembo grenspos, so 27 Suid van waar ons kamp, vat jou weer in Botswana in.

Na koffie is ons in die pad, sal kyk hoe vorder ons en slaap dalk in Maun by een van ons ou kampplekke. Die Mahango reservaat waardeur jy ry net voor jy die grenspos kry, lewer heelwat diere op, selfs ‘n paar olifante en lechwes. Dis ‘n Groot 5 park.

Die grenspos gaan vining en ons vorder goed tot op Shakawe, ongeveer 16 km Suid van die grenspos. Toe begin die uitdaging. Slaggate oral in die pad, soveel so dat jy vir lang ente langs die pad ry. Nou vorder ons stadig want van die gate is asbrekers! Na sowat 100 km gaan dit beter en ons kep weer moed.

Ons is voor 4 in Maun en besluit om aan te stoot tot by Gweta, nog so 200 km. Daar is ‘n Lodge wat ek al baie verbygery het, Planet Boabab en ek wil daar gaan slaap. 

Die pad is ‘n baie mooi teerpad, hoewel jy vir amper helfde van die tyd net 80 km/uur mag ry, dis die Makgadikgadi Pan Nasionale Park waardeur jy ry. Ons sien heelwat diere langs die pad, selfs olifante. 

Ons kom net voor 7 by ontvangs aan en is teleurgesteld as die vrou sê hulle kampplekke is vol. Die volgende oorslaapplek is Nata, nog ‘n verdere 100 km.

Ek vra vir die vrou of sy nie ‘n plan kan maak nie, bereid om in die veld te kamp. Sy sê ons moet net wag, sy kan ons dalk help. Hier is ‘n Overland trok met ‘n drywer, op pad om ‘n ander trok, wat onklaar geraak het met toeriste op, met die trok te gaan vervang. Hy slaap net een aand oor en is alleen. Sy sal by hom gaan hoor of ons saam met hom kan kamp.

Die glimlag op haar gesig toe sy terugstap sê vir my ons is gelukkig. Sy vra ons ook net helfte van die normale kampfooi aangesien ons gaan “deel”. Hier is kampplek vir kampers en dan ‘n aparte area vir die Overlanders. Dit is groot areas waar die Overlanders staan, plek vir almal se tente. Ons slaan ons tent eenkant op en besluit ons gaan sommer aandete by die lodge geniet. Ek gesels met die drywer en betaal hom die res van die koste wat dit ons sou kos om te kamp, my manier om dankie te sê vir sy bereidwilligheid om ons te akkommodeer.

Die aandete is baie lekker en die lodge is regtig baie netjies. Die ou reuse kremetarte oral in die veld gee die lodge ‘n besonderse atmosfeer, kan nie glo ons was nog nooit hier nie! Ons gaan kruip net na ete in, dis redelik koel en moet more verder. Die 618 km het sy tol geëis.

Leave a reply