Dag 23

Saterdag 6 Augustus 2016

Daar word vroeg  kamp afgeslaan en gaan bedank weer die vrou wat ons gehelp het. Dis net na sewe toe ons weer die grootpad vat, Nata, Francistown, Selebi-Phikwe en dan Zanzibar, waar ons vir twee nagte gaan rus.

Die teerpad is mooi en ons is net na 11 deur Serule, waar ons Wes draai, Selebi-Phikwe se kant toe. Hierdie pad nog nooit gery nie en aangenaam verras, ‘n pragtige teerpad. Die natuurskoon is mooi met kremetarte oral langs die pad en in die veld. Sien ook heelwat wild op die roete.

Die son is nog hoog as ons by die Oasis lodge in Zanzibar aankom. Zanzibar is ‘n klein nedersetting by die grenspos na Suid Afrika. Die lodge is ‘n groot opset met konferensie fasiliteite, baie huisies en ‘n pragtige terrein. Ons boek in en die man verduidelik hoe om by die kampplek te kom : Ry terug op die grootpad, draai regs by die plaashek in, volg die tweespoor paadjie tot by die kampplek. Hy sal later mense stuur om hout te bring. Die kampterrein is in die Limpopo Lipadi Natuurreservaat geleë. Ons sien heelwat rooibokke en ‘n koedoe oppad kamp toe.

Die kampterrein is redelik groot met die ablusie in die middel. Die gebou is verwaarloos en die higiëne nie na wense nie. Baie jammer want dis rêrig ‘n mooi plek, regte bosveld gevoel met groot bome wat lekker koelte verskaf. Dit lyk of hulle meer vir groepe ingerig is as ek na die uitleg en staanplekke kyk. Hier is krag ook, hoewel die warmwater deur die donkie verskaf word. Hier kamp jy by die Limpoporivier wat tans nie water in het nie.

Ons kies die ou groot kameeldoringboom aan die bokant van die ablusie, daar is ook ‘n lekker sementblad waarop die vuur gemaak word. Ek kry die gevoel dat ons dit gaan geniet, die twee nagte voor ons terugry huis toe. Daar daag ‘n uur later 4 werkers op. Hulle bring ‘n paar ordentlike stompe en pak dit op die sementblad, genoeg vir ‘n hele paar dae se vuur. Hulle kap ook hout vir die donkie en begin hom sommer stook, sê ons sal baie warm water hê.

Ek en Moeksie geniet die stilte en rustigheid, ons het die hele kamp vir onsself. Met die oorvloed hout brand die vuur as die son nog nie sy kop gesak het nie, gaan vannaand lekker kuier. Ek gebruik net een stomp, die res kan more gebruik word. Ek hou nie daarvan om te mors met hout nie, genoeg vir die braai en net genoeg vir ‘n kyk-vuurtjie na die tyd. Die jakkals se tjank is musiek in my ore en die sterrehemel so helder, jy voel jy kan jou hand uitstrek en die sterre rondskuif. Ons mis steeds vir Barend en Elsa, sou dit graag met hulle wou deel.

Die afgelope twee dae se lang stretches eis sy tol en ek is vroeër as beplan velle toe, gaan ‘n hond-uit-‘n-bos slaap vanaand. Dankbaarheid vul my as ek lê en die film van die afgelope toer deur my gedagtes laat terug speel.

Leave a reply