Dag 24

Sondag 7 Augustus 2016

Die vars lug hier is iets besonders, ek is voor die son op en uitgeslaap, goed gerus. Moet van hierdie lug kan saamvat, sal kan geld maak. Dalk ‘n beter plan om net meer gereeld hierdie lug te kom in asem, hier bo langs die Limpopo.

Die stomp op die sementblad het nog kole wat gloei en die houtjies wat ek opgooi maak vinnig vlamme. Die brunch gaan later hierop gemaak word. Die koffie wat ek rustig sit en drink terwyl ek die sonsopkoms bewonder, smaak nie soos gewone koffie nie. Hier proe alles sommer anders, lekkerder.

Ons ry later die oggend terug lodge toe, wil bietjie die plek meer verken. Die biertjie langs die swembad gaan goed af. Die water lyk aanloklik, maar die koue is die ding wat my uit hou. Ek is rêrig beindruk met die plek, sal weer hierheen terugkom.

Dis net na 11 as ons die brunch by die kampplek aanmekaar slaan, eiers, spek, oorskiet braaivleis, die full monty ! Ons kuier rustig in die kamp vir die res van die dag, met gemengde gedagtes en emosies. Ons gesels oor al die plekke wat ons gesien en besoek het die afgelope 3 weke, elkeen ‘n hoogtepunt in eie reg!! Dis ‘n droom wat waar geword het, nog een wat ek op die bucket list kan aftiek.

Ons stap laatmiddag af rivier se kant toe. Die rivier is droog met net poele water hier en daar. Ons sien weer rooibokke en ‘n trop koedoes in die rivierbedding. Dit is boomreik en hier is ook ‘n ryk voëllewe. Kan sommer ure lank hier op die walle van die droë rivierbedding sit en die natuur geniet, die stilte wat jou siel voed.

Vannaand is die laaste aand, wil nie daaraan dink nie. Ek wil terugdraai en die hele toer weer van voor af begin, sal dit weer en weer en weer kan doen!! Die tjops en braaibroodjie is die perfekte afsluit ete. Ons kuier tot laat om die vuur, gesels min met lang stiltes, elkeen besig met sy eie gedagtes.

  • Baie Baie Dankie. Weereens het ek en my man die saamreis deur die lekker lees skrywe so geniet! Dit is beslis vlg jaar as die Here ons spaar, op ons moet doen lys. Hopelijk maak die grense gou oop dat ons oor grense kan reis. Ons is nou vasgevang in Gauteng en dit is uiters frustrerend!!! Maar die lekker lees kampstories het ons dag elke dag opgekikker. Groetnis van huis tot huis! Joan

  • Leave a reply