Dag 1

VOORWOORD

Dis vroeg Februarie 2015. Vriend Martin bel my en vra of ek lus is vir ‘n woestyn trip. Ek is seker hy kon die verbasing in my stem hoor as ek hom antwoord : Wat se vraag is dit? Jy weet mos dis lankal op my bucket list om in die Namib te gaan karjakker !! ‘n Vriend van hom, Kallie, het ‘n trip geboek en hulle kort nog 2 voertuie. 

Ek is dadelik op die foon en vertel vir Anton van die geleentheid. Hy sê hy gaan saam !!

Met vroeëre navorsing het ek gelees daar is heelwat maniere om die Namib te besoek, waarvan die volgende drie die gewildste is : 1. Die roete vanaf Lüderitz na Saddle Hill en terug. 2. Die roete vanaf Walvisbaai na Meob baai en terug. 3. Die roete vanaf Lüderitz, deur die woestyn, na Walvisbaai. Jy kan dit egter nie op jou eie aanpak nie en moet deur operateurs werk wat konsessies het om die woestyn te besoek. Dalk ook goed so, want anders was die duine al plat gery deur mense wat nie die reëls van die natuur respekteer nie en net ry waar hulle wil.

Ek en Moeksie het besluit om te toer na Lüderitz, die woestyn trip te doen en dan nog ‘n paar dae deur Namibië te toer, voor ons terugkom huis toe. Ons totale toer sal 23 dae wees, waarvan die woestyn trip 4 dae sal wees.

Maandag 20 April 2015

Ek en Moeksie is vroeg op. Die 525 km tot anderkant Kuruman is ‘n pad wat ek al baie gery het, ‘n goeie teerpad. Ons vorder goed en eet ons padkos by die garage net buite Coligny. Dis net voor 4 as ons inboek by Red Sands, ‘n baie gewilde oorslaapplek, ongeveer 18 km wes van Kuruman.

Was al baie hier, ‘n netjiese plek. Elke staanplek het sy eie opwas en braaiplek onder ‘n afdak. Dit voel of jy in die Kalahari kamp, die rooi sand waarop jy kamp opslaan, wat jou daardie gevoel gee.

Dis redelik koud as die son op die horison verdwyn en Moeksie draai haarself snoesig toe in ‘n kombersie terwyl ek die vleis braai.

Ons is redelik vroeg bed toe, die koue hier buite is nie lekker kuier weer nie.

Leave a reply