Dag 2 & 3

Dinsdag 21 April 2015

Ons was gepantser teen die koue van die nag en het lekker geslaap. Ek glo mos, as jy koud kry, dan het jy te min klere aan. Met die koppie koffie in die hand staan ek en kyk hoe die bos ontwaak. Die rooibokke en bosbokkies kom stap sommer hier by ons verby en ek voel sommer tuis.

Die 260 km tot in Upington gaan vinnig en ons is net na 12 by Kalahari Monati Lodge, sowat 13 km op die pad noorde toe, die Kgalagadi pad.

Die is ‘n netjiese opset en ons was al voorheen hier. Die springbokkies loop oral op die terrein rond en verleen ‘n plaas atmosfeer aan die plek. Hier is ook lekker groot koeltebome op van die staanplekke. Daar is ook ‘n paar huisies eenkant gebou.

Daar is nog twee ander kampers op die terrein wat ook net vir die nag hier oorbly, op pad Kgalagadi toe. Ons kuier rustig en is nie haastig om die vuur aan te steek nie.

Dis as die son agter die palms verdwyn, dat die koeligheid weer nader staan. Dis mooi hier en die plaasgevoel maak dat ons lekker ontspan.

Ons kuier nog ‘n rukkie om die vuur en bespreek more se program. Ons gaan nog een aand hier oorslaap, niks wat ons jaag nie. Anton en Magda het uit die Kaap uit vertrek en ons kry hulle oormore by Ais-Ais.

Woensdag 22 April 2015

Die son sit al hoog teen die tyd wat ek my kop by die tent uitsteek. Moeksie sit lekker en koffie drink, klaar skottelgoed gewas.

Later ry ons in dorp toe, gaan doen ‘n paar inkopies vir die volgende 5 dae. Behalwe Karasburg, is die volgende plek vir aankope L├╝deritz en die voorraad in die wilkels is nie altyd wat ons gewoond is nie. Die mall hier in Upington het alles wat jy soek en ons eet sommer brunch by die Wimpy.

Terug by die kamp sit ons net lekker en lui word, want ons kan. Ons is ook nie haastig om vuur aan te steek nie en wag tot die son weg is voor ons begin met die kos.

Die palmboom bied weer ‘n mooi foto met die son wat agter hom skuiling gaan soek.

Na ‘n perfekte dag van net rustig wees gaan kruip ons in. Die koeligheid gaan ons laat lekker slaap.

  • Ahw hoe verlang ek nou terug na daardie wereld en die mooi Sonsondergange het 5 jaar daar gebly. Fotos is pragtig. Toer lekker saam

  • Hollies, geniet jou vertel baie. Ons het Oktober 2018 ook by Kalahari Monate gekamp op pad Richtersveldt toe en die wind het ons stukkend gewaai.

  • Leave a reply