Dag 4

Donderdag 23 April 2015

Die son is nog besig om sy verskyning op die horison te maak as ons begin oppak. Daar is nie regtig haas nie, het 420 km om te ry vir die dag, waarvan net die laaste 75 km goeie grandpad is.

Die versamelvoëlneste oral langs die pad na die Nakop grenspos vang jou oog. Hier is baie van hulle, sommige sommer baie groot. Ander het al gebreek en helfte van die nes lê op die grond. ‘n Bekende gesig op baie van die paaie hier in die Noord Kaap.

Ons vorder vinnig deur die grenspos en dis net voor 13:00 as ons Wes afdraai op die grondpad na Ais-Ais. Die ‘n mooi grondpad wat onlangs geskraap is, kan gemaklik 80 km/uur ry. Die landskap is eers vlakte en begin dan bergagtig raak nader aan Ais-Ais.

Ons ry net voor 14:00 by Ais-Ais in. Daar is heelwat ander kampers en ons soek ‘n lekker staanplek met koelte langs die klipmuur. Hier is heelwat plek waar Anton sy tent kan opslaan as hulle later vanmiddag kom. Ons het besluit om drie nagte hier te kamp en sommer net lekker te kom rus.

Ais Ais is afgelei van Khoikhoi /Ae-/aes, wat vuurwater, met ander woorde warm soos vuur, beteken. Die warm water wat uit die gron borrel, is ook swawelagtige termiese water wat ‘n kenmerkende reuk het.

Anton en Magda stop net voor 15:00 by ons. Hy besluit om sy tent op die gras aan die oorkant van die pad op te slaan, uit die stof uit. 

Dis lekker om hulle weer te sien en ons kuier lekker om die kamp. Die gesels hou nie op nie en daar is te veel stories wat gedeel moet word. Anton sê sy rug is onder beheer, doen net gereeld oefeninge om hom reg te hou.

Die vuur word eers laat aangesteek, het te lank gesels. Die lamtjops van die suide van Namibië is lekker sag en het ‘n besonderse smaak, dalk net die manier waarop Anton hulle gebraai het.

Moeksie, Magda en Anton

Ons klink nog ‘n paar glase wyn langs die kampvuur voor ons velle toe is. Gaan lekker slaap vannaand, hier langs die pragtige berge van Ais-Ais.

Leave a reply