Dag 5 & 6

Vrydag 24 April 2015

Almal slaap laat vanoggend. Daar is niks op die program nie en ons gaan sommer net rustig wees en dalk ‘n bietjie rondstap op die terrein. Ons is nog twee nagte hier voor ons verder toer.

Ons stap na die Oog van die warmwater bron wat netjies toegebou is. Die water wat hier uitkom is 65°C. Van die Oog af gaan dit na die binnenshuise swembad by ontvangs en ook na die opelug swembad langs die kamp area.

Die Oog van die warmwater bron

Ons spandeer ‘n groot deel van die dag langs die swembad en geniet die pragtige sonskyn weer.

Anton rus ‘n bietjie

Die middagslapie, sommer so in die stoele, maak die rustigheid net lekkerder.

Ons koop genoeg hout, want vannaand gaan ons bietjie fles vat. Dis ‘n pragtige laatmiddag as die son die berge hier agter ons, elkes ‘n ander kleur gee soos hy sak.

Magda en Hollies

Vannaand se ribbetjie en braaibroodjies proe na nog, veral saam met die aartappelslaai wat Moeksie gemaak het. Ons eet soos konings !!

Mens kan nie anders as om lekker te slaap na so ‘n wonderlike dag nie, hier in die asemrowende nutuurskoon saam met  goeie vriende.

Saterdag 25 April 2015

Het gedink ek gaan laat inlê vanoggend, maar is op voor die sonnetjie sy verskyning maak. Met die tweede koppie koffie in die hand sien ek die son se strale oor die berge deurbreek.

Ons is na brunch na die binnenshuise swembad en die hitte van die water laat jou spiere lekker ontspan. Ons sit-dryf so lekker rond dat ons nie besef ons is al amper ‘n uur in die water nie.

Terug by die kamp is dit weer rustig verkeer op die stoele, ons het tyd en niks jaag ons nie.

Ek en Anton stap ‘n ent met die droë rivierbedding op. Dis hier waar die Visrivier staproete eindig en hy vertel my van die tyd toe hy hom saam met ‘n groep mense gestap het. Nogal ‘n uitdagende roete, vertel hy.

Die Visrivier is 600 km lank en is die langste rivier in Namibië. Op sekere plekke is hy tot 27 km breedt en tot 550 meter diep. Dis hier waar hy eindig en dan in die Oranjerivier vloei, wat die grens tussen SA en Namibië vorm. Die staproete is 85 km lank en dit neem tussen 4 – 5 dae om te stap. Die roete is slegs oop tussen April en September as gevolg van die ondraaglike hitte in hierdie omgewing.

Laatmiddag is ons weer swembad toe om die mooiweer te geniet.

As die son begin sak, pak ek en Anton van die los items weg, wil more nie te laat ry nie, so teen tweede mossie. Ons het genoeg hout en is nie skaam met die vuur vanaand nie. Dis hoenderdye en drumsticks op die kole vannaand saam met ‘n lekker mielie in die stoompot gekook.

Moeksie en Magda

Ons kuier tot laat en die gesels raak nie op nie. Anton en Magda het al baie saam met ons getoer en gekamp en dit maak die kuier akstra lekker.

Leave a reply